Cecil John Rhodes droom in sy tuin,
sy metgesel
is ‘n kunstenaar.
Hy verf ‘n sterrekaart rooi,
karteer die uitgekerfde migrasie
van Egiptiese valke
wat nou
by ruïnes waghou.
Selfs in sluimer
verdwerg
Rameses II talle toeriste,
hulle meet sy naam
met uitgestrekte vingers
en sit ‘n paar pond weg
vir ‘n eie cartouche.
By die Mosul Museum tuimel lamassu,
skielik aardgebonde.
Matadors hou voorhamers vas ‒
met handevol Giza-sand
mymer ek oor hoeveel huise eintlik
stukkies
piramide is.


Kommentaar
Puik!
Van begin tot end poësie: knap gedaan, Fransi.
Baie dankie. 🙂