graanstoor

  • 0

graanstoor

ek’t al selfmoord oorweeg
maar dit is te tragies – of morsig
die einde moet kom
met ’n bom
of ’n leeu aan die keel

die dood is ’n wagwoord
wat niemand onthou nie
die einde is simpel
water wat rimpel
krokodil aan die maag

dan lewe ek eerder beter
en eet wat ek wil
glimlag en wuif
vir ieder en elk
dis immers ’n lied

babas word gebore met longe
kinders moet leer
en grootword en groei
en die land in hul eie
aangesig skep

ek slaap my lewe om
die verskil bly gering
tussen droom en dit
wat daar buite
op die teerpaaie klap

somber brode waarin hande
gebak lê en broei
die son en die skoeisel
van die stad
my deurmat

skei dan maar jou sondes
af in die putte van drank
maar trek die tou weer op
die vol emmer
glimlag koel

bring jou oor na my mond
of anders bring ek
my mond na jou oor
die saadjies skiet deur die son
vol hoop, graanstoor

die natuur is my vriend
ek het al daardeur gestap
met ’n geweer
ek het al geskiet en geneem
dit skuld my niks

aan die ander kant
is niks vir ewig nie
en veral nie mense nie
ek stap dus rond
met oë in my agterkop

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top