
Selfone, iPads, MacBooks, skootrekenaars, interaktiewe witborde, PlayStations, Xbox-rekenaarspeletjies en knoppies en liggies, edm. Dit is slegs ’n druppel in die emmers vol tegnologie wat in ons alledaagse lewe ingesypel het. Dit is ook die wêreld waarin kinders vandag grootword, en soms voel dit of ’n vierjarige kind beter toegerus is om ’n slimfoon te werk as ’n volwassene met tersiêre kwalifikasies.
Het jy al gewonder wat die impak van al hierdie tegnologie op kinders is? Hoe hulle boeke benader, en spesifiek hoe dit kinderboeke beïnvloed?
Dit is wat in hierdie aflewering van dié kinderboekrubriek bespreek sal word.
Tegnologie het in die laaste 30 jaar soveel dinge rondom kinderboeke en kinders beïnvloed, veral in Suid-Afrika. Die belangrikste aspekte, naamlik watter formaat van tekste – elektronies, digitaal of gedrukte tekste – beter vir kinders is en die rol wat ’n kind se ouderdom speel, sal bespreek word. Daar sal spesifiek gekyk word waarom ’n ontwikkelde land soos Swede, ’n leier op die gebied van onderwys, in die laaste jaar besluit het om sy fokus op tegnologie in skole totaal om te swaai en terug te keer na pen en papier. ’n Faktor wat hierby aansluit, is watter formaat werklik beter is vir leer.
Daar is baie maniere waarop tegnologie die verbruik en verspreiding van kinderboeke beïnvloed, sowel as die bevordering van lees. Daarom sal daar in hierdie rubriek op slegs vier vrae gefokus word:
- Waarom beweeg ’n leier in die onderwys, Swede, terug na handboeke en papier vir skole?
- Watter formaat – papier of digitaal – is beter vir kleuters en jong lesers wie se breine nog besig is om te ontwikkel?
- Watter formaat is beter as dit kom by leer? Leer kinders beter wanneer hulle ’n digitale teks lees of ’n papierkopie van ’n boek of handboek gebruik?
- Is daar enige positiewe gebruike vir digitale tekste en tegnologie en bydraes wat hulle kan lewer, veral as dit kom by kinderboeke en tekste vir kinders? Waar en wanneer is tegnologie gepas?
Swede gaan terug na handboeke en geen selfone in die klas
Swede word beskou as een van die leiers as dit kom by onderwys. Swede se graad 4-leerders behaal gereeld bo die Europese gemiddeld vir leesbegrip en geletterdheid in die Progress in International Reading Literacy Study- (PIRLS-) toetse (The Guardian, 2023). Maar in die periode tussen 2016 en 2021 was daar ’n klein, maar waarneembare afname in die punte. In 2021 het die gemiddeld vir graad 4-leerders van 555 in 2016 na 544 punte gedaal (The Guardian, 2023). In ag geneem daar is ’n 5-jaar-tydsverloop, want die toetse word slegs elke vyf jaar gedoen, en dit het die aanvanklike Covid-periode ingesluit, is dit steeds ’n 11-punt-afname in 10-jarige leerders se lees- en begripsvaardighede. Ten spyte hiervan is Swede steeds in die algehele sewende plek op die PILRS-ranglys.
Die Sweedse onderwysministerie skryf dié daling toe aan Covid in 2020 en die toename in immigrante wat nie Sweeds as hul eerste taal praat nie. Tog het die Sweedse minister van skole, Lotta Edholm, aangekondig dat skole gaan wegbeweeg van digitale toestelle soos slimfone, tablette en rekenaars met ’n nuwe klem op handboeke, handskrifoefeninge, lees van gedrukte boeke en handgeskrewe notas (The Guardian, 2023).
........
Dit beteken dat Swede wegbeweeg van hul hipergedigitaliseerde benadering tot onderwys waar tabletrekenaars reeds vanaf kleuterskoolvlak ingespan was vir leer, en nou gelei het tot ’n agteruitgaan van basiese vaardighede.
........
Teri Schultz (2024) berig dat volgens Patrik Sander, die onderhoof van ’n skool in Malmo in die suide van Swede, hulle alreeds vir ’n aantal jare selfone wegneem gedurende die skooldag, alhoewel leerders hul fone weer gedurende pouse mag gebruik (Schultz 2024). Die hoofbeweegrede hiervoor is dat daar opgemerk was dat leerders se gedrag aan misbruik en verslawing grens (Schultz 2024). Veral by jonger leerders was hul gedrag ontwrigtend, en wanneer hulle die slimfone in klastyd moes gebruik, was daar verskeie gevalle waar hulle nie met werk besig was nie.
Verder was daar opgemerk dat daar ’n agteruitgang by leerders was in sommige vaardighede, veral fisiese vaardighede soos om met ’n skêr te sny, of balansprobleme, as gevolg van lang periodes van stilsit of staan en konstant besig wees met hul fone (Schultz 2024). Die beperkings op fone is ingestel ten spyte daarvan dat die Sweedse regering dit ’n prioriteit in 2017 gemaak het om binne vyf jaar geleenthede te skep vir “further opportunities for digitalization, [to] achieve a high level of digital competence (especially in the context of children, students, and younger people), and promote the development of knowledge and equal opportunities and access to technology” (Schultz 2024)
Dit beteken dat Swede wegbeweeg van hul hipergedigitaliseerde benadering tot onderwys waar tabletrekenaars reeds vanaf kleuterskoolvlak ingespan was vir leer, en nou gelei het tot ’n agteruitgaan van basiese vaardighede (The Guardian, 2023). Dit blyk dat die wegbeweeg van tegnologie as hoofleermodus in Sweedse skole vir kleuterskool tot hoërskool geld. Besliste wetgewing is in Augustus 2023 aangekondig “to reverse the decision by the national agency for education to make digital devices mandatory in preschools. It plans to go further and to completely end digital learning for children under age six, the ministry has told the Associated Press” (The Guardian, 2023).
Dit behoort vir ander lande, veral Suid-Afrika as ’n ontwikkelende (Derde Wêreld-) land, ’n rooi lig en wakkerskrikgeleentheid te wees. As die ideaal en doel was om op dieselfde vlak as hierdie leier in die onderwys te funksioneer, behoort ander lande daadwerklik kennis te neem van Swede se ommeswaai.
........
As een van die leiers in die onderwys op internasionale vlak begin om hul siening en implementering van tegnologie in die klaskamer te verander, is dit ’n teken dat groter, beter, blinker, vinniger en meer tegnologie nie die wonderoplossing is wat almal gehoop en gedink het dit sal wees nie.
........
Vra jou nou af hoekom ons hiervan kennis moet neem. As een van die leiers in die onderwys op internasionale vlak begin om hul siening en implementering van tegnologie in die klaskamer te verander, is dit ’n teken dat groter, beter, blinker, vinniger en meer tegnologie nie die wonderoplossing is wat almal gehoop en gedink het dit sal wees nie.
Daar is juis in die Suid-Afrikaanse KABV/CAPS-kurrikulum die afgelope jare plek gemaak vir vakke soos kodering en robotika met die oog daarop om leerders vir ’n tegnologiese werkswêreld voor te berei. Die vraag hier binne die Suid-Afrikaanse konteks is dus hoe dit leerders binne hul konteks gaan baat. Wat gaan ’n robotikavak van graad 10 tot 12 ’n leerder in ’n afgeleë dorpie in die Vrystaat help as daar ’n groter moontlikheid is dat daardie leerder iets meer prakties soos landbou, ingenieurswese of mynbou sal kan gaan studeer? Dit is nou te sê as daardie leerder wel die finansiële hulpbronne het om te gaan studeer. Die ander faktore is dat leerders se geletterdheid, skryf- en leesvaardighede, gevestig moet word as fondament lank voordat ’n vak soos robotika of programmering op die tafel gesit kan word.
Neem dan ook in ag dat Suid-Afrika so sleg gevaar het in die laaste PIRLS-toetse in 2021 dat die International Association for the Evaluation of Educational Achievement, as toesighoudende instansie vir PIRLS en ander internasionale studies, aanbeveel het Suid-Afrika moet eerder aan LANA (Literacy and Numeracy Assessment) deelneem, ’n studie wat gemik is op lae- en middelinkomstelande. Hoekom? Want Suid-Afrika se punte was so laag dat dit baie amper nie meer op die PIRLS se oorhoofse punteskaal kon pas nie.
Die relevansie van die vakke en die konteks moet omsigtig oorweeg word. Daar moet ook oorweeg word watter vaardighede verlore sal gaan wanneer leerders nie op papier leer skryf en lees nie, of nie leer wiskunde doen nie.
Dit laat ons met ’n heel ander vraag: Wat is beter, papier of skerm? Navorsing rondom wat beter is, het bewys dat papier in die belangrikste opsigte wen as dit kom by kognitiewe en taalontwikkeling, asook die leerproses.
Verskil in formaat en die impak daarvan op kleuters
Tiffany Munzer en haar kollegas se studie oor die verskille in kleuter en ouers se interaksies met gedrukte boeke teenoor elektroniese of digitale ekwivalente tekste lewer bewyse dat papier beter is vir kinders onder die ouderdom van ses jaar (Munzer ea 2019).
Hulle het in ’n video-opname-studie drie tipes tekste gebruik en 37 ouer-kleuter-groepe getoets. Die tekste was e-tekste (elektroniese weergawes van gedrukte tekste), gedrukte tekste (fisiese boeke), en ook wat beskou word as aangepaste elektroniese tekste. Hierdie tekste sluit klank en animasie-elemente in.
Die uitslae van hierdie studie het getoon dat ouers minder met hulle kinders praat wanneer elektroniese of elektronies aangepaste tekste gebruik word (Munzer ea 2019:8).
Die verbaliserings en dialoog waarna die studie verwys, is die gesprekke wat ouers met kinders het wanneer hulle ’n prenteboek of kinderboek lees. Die vrae wat gevra word, handel oor die prente, die karakters, wat die kind dink die karakter doen, hoekom die kind dink ’n karakter hartseer of gelukkig is. Hierdie vrae en geselsies rondom ’n kinderboek is waar die kognitiewe ontwikkeling en taalontwikkeling van ’n kind plaasvind.
We found that electronic-book enhancements were likely interfering with parents’ ability to engage in dialogic reading. Dialogic, parent-guided conversation promotes toddler expressive-language development and supports preliteracy skills, which are crucial for independent reading, far more than reading only text or making simple (nondialogic) comments, although these are also important. (Munzer ea, bl 6)
Daar is spesifiek die verskil tussen die inhoud van gesprekke tussen kleuters en hul ouers of grootouers opgemerk. Daar was gesprekke wat slegs gegaan het oor wat die kind voor hom of haar sien – die prente, die karakters, kleure ens. Dit is geklassifiseer as “non-dialogic”. Vir die doel van hierdie rubriek kan ons dit as geslote-vrae-gesprekke omskryf. Die kind hoef slegs ja, nee of met kort sinne of woorde te antwoord; teenoor “dialogic” – oopvraegesprekke. Hier gebruik die ouer ervarings of verwysings buite die konteks van die boek of teks om met die kind oor die teks te gesels, byvoorbeeld: “Die seun speel op die strand. Onthou jy, jy was gister by die strand saam met Ouma en Oupa. Hoe het die sand gevoel? Wat het julle gedoen?” Die kind antwoord byvoorbeeld: “Ons het roomys geëet. Kyk, Mamma, hier is ’n emmer.” “Dis reg, dit is ’n mooi rooi emmer.”
........
Wanneer e-tekste of aangepaste elektroniese tekste gelees is, was die gesprek geslote en het ouers baie minder vrae gevra, en die kind het ook minder gepraat.
........
Hierdie twee tipes interaksie, geslote-vrae- en oopvrae-gesprekke, het ’n direkte korrelasie getoon met die teks. Wanneer e-tekste of aangepaste elektroniese tekste gelees is, was die gesprek geslote en het ouers baie minder vrae gevra, en die kind het ook minder gepraat (Munzer ea, bl 4). Wanneer gedrukte boeke gelees en na gekyk was deur die kleuters, was daar ’n beduidende toename in interaksie tussen ouer en kind, asook oopvrae-gesprekke wat dinge buite die teks betrek het (Munzer ea, bl 4).
Daar is bevind dat met e-tekste, en veral met aangepaste elektroniese tekste, ouers minder genoop gevoel het om met die kind ’n gesprek te voer of vrae te vra. Die kinders het ook minder gereageer op vrae oor e-tekste. Dit wil ook voorkom of ouers voel dit is nie nodig om uitgebreide gesprekke met kinders aan te knoop wanneer hulle aangepaste elektroniese tekste of e-tekste lees nie.
Gedrukte boeke wen dus as dit kom by kognitiewe, taal- en sosiale ontwikkeling van baie jong kinders. Maar as dit kom by leer vir skoolgaande kinders en studente?
Watter formaat – papier of digitaal?
’n Baie belangrike vraag wat gevra moet word, is of kinders beter leer wanneer hulle ’n digitale teks lees of ’n papierkopie van ’n boek of handboek gebruik. En die antwoord is dat om op papier te lees vir leer beter is as digitale tekste.
Naomi Baron (2023) se navorsing oor watter formaat, digitaal of papier, die beste is vir leer, het verrassende resultate gelewer. Dit is belangrik om in ag te neem dat dit ongelooflik moeilik is om te meet hoe en hoe effektief iemand leer. Daar is ook die kwessie van persoonlike voorkeur wat verskil van persoon tot persoon. Daarom is die navorsing oor die proses van leer soms teenstrydig en verwarrend (Baron, bl 1). Daarom fokus Baron se verslag spesifiek op formele bevindings aan die hand van onderhoude en vraelyste wat die medium van digitaal teenoor papier vergelyk. Die tekste wat gebruik is, was linieêr van aard en ongeveer 500 woorde lank (bl 2).
Dié verslag se bevindings teiken leerders vanaf graad R tot 12, en lig ook onderwysers van hierdie groep leerders in sodat gepaste keuses gemaak kan word omtrent die formaat van tekste, alhoewel die meeste van die onderhoude en vraelyste deur leerders van ongeveer 12–18 jaar en universiteitstudente voltooi is (bl 2).
Hoërskoolleerders, kollege- en universiteitstudente wat aan die navorsing deelgeneem het, het vraelyste voltooi nadat hulle spesifieke take moes voltooi (bl 4)
Baron se boek How we read now: strategic choices for print, screen, and audio (2021) het die fynere besonderhede van haar navorsing in meer diepte bespreek. Vir die doel van hierdie bespreking oor die rol van tegnologie in kinderboeke is die bevindinge wat sy in haar kernverslag gemaak het, voldoende.
........
Ouderdom maak ’n beduidende verskil. Jonger kinders vind baat by gedrukte boeke omdat dit nie net lees is wat plaasvind nie.
........
Ouderdom maak ’n beduidende verskil. Jonger kinders vind baat by gedrukte boeke omdat dit nie net lees is wat plaasvind nie. Baron se navorsing het ook sintuiglike interaksie met tekste in ag geneem. Dit sluit aan by en klop met Munzer se studie (2019), waar kinders onder die ouderdom van ses jaar meer interaksie ten toon stel met gedrukte tekste, maar ook meer komplekse interaksies het wanneer ’n fisiese, gedrukte boek gelees of voorgelees word. Dink byvoorbeeld aan die fynmotoriese koördinasie van die hande en vingers wat betrokke is by die omblaai van ’n bladsy. Ook hoe sommige van ons geleer is hoe om ’n boek vas te hou, het alles te doen met postuur en ruimtelike oriëntasie.
Aanraking is die sintuig wat sy die breedvoerigste bespreek in haar verslag “Medium matters for reading what we know about learning with print and digital screens” (2023). Sy wys spesifiek daarop dat die postuur en hoe ’n boek teenoor ’n tydskrif of koerant vasgehou word, verskil (2023:2). ’n Groot aantal studente wat deelgeneem het, het gemeld dat wanneer hulle die papier in hulle hand voel, hulle beter en meer kan konsentreer. Hulle voel gefokus en kan vir langer tye aktief lees vir die doel om te leer (bl 3).
Baron se terugvoer van studente met ’n voorkeur vir gedrukte tekste was dat hulle hulself beter kan oriënteer binne die raamwerk van die teks (bl 3), spesifiek in verband met die onthou van inligting en waar op die bladsy iets gestaan het. Hulle voel ook dat hulle beter kan skat hoe lank ’n teks sal neem om te lees wanneer dit op individuele bladsye gedruk is eerder as ’n aaneen blaai van elektroniese teks op ’n skerm (bl 4).
In verband met sig, kom die visuele oriëntasie ook ter sprake wanneer ’n verhalende teks gelees word. Studente en selfs jonger kinders kon die volgorde en verloop van gebeure onthou wanneer hulle dit in gedrukte formaat gelees het, in teenstelling met ’n elektroniese teks (bl 3). Hier kan daar ook in gedagte gehou word dat skerms sogenaamde blou lig uitstraal wat vir lang volgehoue periodes sleg is vir ons oë. Dit verhinder ook die afskeiding van stowwe soos melatonien wat help met slaap en sodoende ons slaappatrone beïnvloed. Dus is skermtyd iets wat nie laataand gedoen moet word nie, beslis nie net voor slaaptyd met ’n slaaptydstorie nie. Baron (2023) se studie noem dit slegs terloops en het nie enige data rondom hierdie aspekte ingesamel nie.
Ten opsigte van naslaanwerk en lees vir navorsing en leer meld Baron dat wanneer ons verskillende tekste in gedrukte vorm lees, dit makliker is om die bronne van mekaar te onderskei en so te onthou (bl 3). Hier is gekyk na dinge soos uitleg, skriftipes en die gevoel van die papier, wat weer eens skakel met aanraking.
Laastens word reuk ook genoem, en enige ware boekwurm sal bevestig dat die reuk van boeke, veral ou boeke, ’n lekker vet dopamienskop gee vir leesmotivering en die genot wat die leser aan die aktiwiteit koppel.
’n Groot faktor wat die lees van elektroniese tekste, e-boeke en enige elektronies aangepaste tekste problematies maak vir voorlees of self lees, veral vir jonger kinders, is aandag. Gedrukte tekste het nie bewegende, flitsende advertensies wat jou aandag onderbreek nie.
Die beloftes dat tegnologie jou lewe sal verbeter, dinge gouer en meer effektief gedoen sal kry, verbloem die feit dat daar handel gedryf word met jou aandag – en dus ook jou kind se aandag. Munzer se studie het die invloed van advertensies en ’n oorweldigende aantal bewegende dinge op ’n elektroniese bladsy van kinderboeke ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie oorstimulasie eintlik ’n kind se aandag aftrek en slegs op ’n basiese vlak stimuleer, veral aangepaste elektroniese tekste soos daardie oulike e-boek met interaktiewe knoppies en geluide en animasies.
Dit is presies om hierdie aandagkwessie dat die Swede besef het hul kinders raak verslaaf aan die konstante interaksie met skerms, veral slimfone. Selfs 10-jarige leerders besef dit self en het die volgende terugvoering hieroor gegee:
“We use Snapchat and TikTok a lot and you get addicted sometimes,” explained Emma, “so you don't want to put away your phone.”
“If you have it beside you, you always want to check it,” added her classmate Livia. (Schultz, 2024)
In die geval van Swede bly leerders nie gefokus op die naslaan of soek van inligting of lees van e-tekste nie, maar word “verlei” deur sosiale media wat onmiddellik beskikbaar is op hul slimfone en tabletrekenaars.
Hier moet rekening gehou word daarmee dat elektroniese kinderboeke nie die taal- en ontwikkelingspotensiaal van kinders soveel bevorder as wat gedrukte boeke dit kan doen nie; dat leerders self reeds artikuleer dat hulle beter en meer gefokus is wanneer hulle gedrukte tekste gebruik wanneer hulle leer. Dan is daar nog die antisosiale gedrag, aandagafleiding of nadelige effekte van blou lig op die brein as newe-effekte van die oorgebruik van elektroniese tekste en tegnologie.
Die argument kan ook gemaak word dat baie van hierdie “newe-effekte” beter gekwalifiseer kan word as onbedoelde newe-effekte van goeie bedoelings, alhoewel daar ook positiewe eienskappe is om te oorweeg.
Positiewe bydraes van digitale tekste
Die eintlike vraag hier is: Waar en wanneer is tegnologie gepas? Daar is beslis positiewe oorwegingsredes vir digitale opsies vir lees en leer. Baron noem spesifiek die voordele van koste en gerief (2023:4). E-boeke en pdf-weergawes van veral handboeke en naslaanboeke is aansienlik goedkoper as die gedrukte weergawes. Dit kan weer die finansiële las van studiegelde vir studente verlig, en in die meeste gevalle is die teks ook onmiddellik beskikbaar, wat ’n geriefspluspunt is.
Vir studente met beperkte fondse, wat dalk op beurse studeer, is e-boeke goedkoper en is daar minder boeke om rond te dra, veral vir studente in vakgebiede waar dik en swaar handboeke of naslaanwerke aan die orde van die dag is.
’n Verdere gerief met ’n teks wat onmiddellik na aankoop beskikbaar is, is die nuttige boekmerkfunksie, highlight-funksies en notas wat elektronies gemaak kan word. Alhoewel elektroniese notas nog nie so funksioneel is soos pen en papier nie, het dit die gerief van ’n kopieer-en-plak-funksie wat veral aantreklik en nuttige vir navorsers is. Jy kan soveel vinniger jou teks skryf omdat aanhalings letterlik en direk aangehaal en geplak kan word.
Binne die Suid-Afrikaanse konteks is dit belangrik om te onthou dat al hierdie voordele goed en geldig is, maar net solank jou toegang tot elektrisiteit hou. Die land se geskiedenis met elektrisiteit en die vermoë om toestelle gelaai te hou, hou ’n bepaalde uitdaging in. Tog is dit iets om te oorweeg wanneer jy keuses maak oor die volgende roman, akademies opstel of naslaanwerk wat jy lees.
Tegnologie – euwel of hulpmiddel?
........
Hierdie rubriek vel geen oordeel oor hoe jy verkies om jou leesstof te lees nie. Of hoe jy kies jou kind moet lees nie. Waarvan ouers, onderwysers en almal wat by kinders betrokke is, bewus moet wees, is hoe die gebruik van tegnologie hulle ontwikkeling kan beïnvloed.
........
Hierdie rubriek vel geen oordeel oor hoe jy verkies om jou leesstof te lees nie. Of hoe jy kies jou kind moet lees nie. Waarvan ouers, onderwysers en almal wat by kinders betrokke is, bewus moet wees, is hoe die gebruik van tegnologie hulle ontwikkeling kan beïnvloed.
’n Oormatige gebruik van tegnologie in ’n klaskamer van kinders jonger as ses jaar ontneem kinders van die geleentheid om vaardighede – fisiek en kognitief – te ontwikkel, vaardighede wat hulle in hul tienerjare en volwasse lewe sal nodig hê. Daar het Swede, ten spyte van hul beste bedoelinge om tegnologie vir almal so toeganklik moontlik te maak, besef dat te veel en te vroeg nie ’n goeie ding is nie.
Wanneer dit kom by leer, is papier die werklike wenner, veral vir jonger leerders. Hierdie ouderdomsgroep vind baat by interaktiewe voorlees en lees van gedrukte tekste omdat daar (oa volgens Munzer se studie) meer oopvraaggesprekke tussen ouers en hul kinders is, wat met taal- en kognitiewe ontwikkeling help. Daar is ook die meegaande voordele, soos die fynmotoriese oriëntasie en ontwikkeling wanneer die bladsy omgeblaai word, sonder om die bladsy te skeur, prente waarna daar gewys word met die hele hand en later met die wysvinger, edm.
In Baron se navorsing (2023) was daar duidelike voordele vir ouer leerders wat verkies het om gedrukte tekste te lees, eerder as die elektroniese weergawes. Haar studie het gefokus op die sensoriese faktore wat tussen gedrukte en elektroniese tekste verskil. Leerders en studente wat aan die navorsing deelgeneem het, het gevoel hulle is meer gefokus, hulle kan hul gedagtes beter plaas en inligting uit tekste onthou deur waar in ’n teks inligting gestaan het. In geheel het studente gevoel dat hulle die inligting wat hulle uit tekste moet leer, beter verwerk en verstaan as hulle ’n gedrukte teks lees, eerder as die elektroniese teks.
Tog het elektroniese tekste, e-kopieë van harde kopieë, aangepaste tekste en e-tekste positiewe bydraes om te lewer. Dit help onder meer met bekostigbaarheid van duur boeke, veral handboeke en naslaanboeke. Dit is onmiddellik beskikbaar en kan boonop ’n universiteitstudent se rugsak ligter maak.
Ten opsigte van positiewe gebruike en bydraes wat digitale tekste en tegnologie, veral met kinderboeke en tekste vir kinders, lewer, is dit belangrik om te oorweeg wat die doel van die teks is. Ook vir watter ouderdom, en die tydsduur wat die teks gebruik behoort te word. Dit is net so sleg vir ’n kleuter om vir ure aaneen, sonder enige ander interaksie, deur ’n elektroniese, interaktiewe kinderboek te blaai (scroll) as wat dit is vir ’n kleuter om ure aaneen elke dag televisie te kyk. Wat nie beteken dat kinders van hierdie hulpbronne en tegnologie weerhou moet word nie, maar dat ’n matige en gebalanseerde benadering die beste is. Regte, papierboeke voor slaaptyd is voordeliger, sodat ons kan gesels oor die dag se gebeure en wat die karakters in die boek doen. Af en toe deur die dag, in matigheid, kan digitale tekste geniet word. Dieselfde geld vir studente – lees eerder jou romans in harde kopie. Jy sal die storie baie beter onthou, en bespaar ’n paar rand op daardie duur handboek en koop eerder die e-kopie of leen dit dalk by jou universiteit se biblioteek.
Die doel heilig nie noodwendig die middele nie, maar daar kan ’n brug gebou word om die einddoel te bereik en steeds die goue middeweg in gedagte te hou.
Tegnologie sal nooit die waarde en impak van ’n gedrukte boek of teks ten volle kan vervang nie. Tog is tegnologie daar om ons te help, maar nooit om die taak ten volle oor te neem nie.
Bibliografie
Baron, NS. 2023. Medium matters for reading: What we know about learning with print and digital screens: a report for K-12 educators (Version 1). American University (Washington, DC). https://doi.org/10.57912/23857212.v1; https://www.jstor.org/stable/23489277 (1 Oktober 2024 geraadpleeg).
Cano, J. 2023. Ethic.es. Tech-savvy Sweden leads global push to ban screens in classrooms. https://ethic.es/english/tech-savvy-sweden-leads-global-push-to-ban-screens-in-classrooms (6 Oktober 2024 geraadpleeg).
Munzer, Tiffany G ea. 2019. Differences in parent-toddler interactions with electronic versus print books. Pediatrics, 143.4. DOI: 10.1542/peds.2018-2012. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/30910918 (1 Oktober 2024 geraadpleeg).
Schultz, T. 2024. Back to basics: Sweden aims to de-digitalize youth. https://www.dw.com/en/back-to-basics-sweden-aims-to-de-digitalize-youth/a-70228600#:~:text=The (6 Oktober 2024 geraadpleeg).
The Guardian. 2023. Switching off: Sweden says back-to-basics schooling works on paper. https://www.theguardian.com/world/2023/sep/11/sweden-says-back-to-basics-schooling-works-on-paper (6 Oktober 2024 geraadpleeg).
Van Zyl, J. 2023. “'n Regte boek of 'n digitale een?” Boekwurm Blog. https://boekwurm.com.au/blogs/boekwurm-blog/n-regte-boek-of-n-digitale-een?srsltid=AfmBOoo4XIIArYzjDkMKIcvAAdBeiUuNJ3KV1TxzMDf57QA_xMEFm-FC (24 September 2024 geraadpleeg).
Lees ook:
Goue lint, my storie begint: Die mag van volwassenes se boekkeuses vir kinders
Goue lint, my storie begint-rubriek: die waarde van illustrasies in kinderboeke

