Gomgat

  • 1

Gomgat. So het die kinders by die plaasskooltjie op Goedgevonden my gedoop: Gomgat, die gomgat. En wat kan jy sê as jy tingerig en arm is en altyd fokken honger? Memories van daardie skooltjie in die Magaliesberge spook vandag nog by my. ’n Skool vrot van die kinders van stinkryk boere met ’n onderwyser wat elke dag te vertel had van Joburg se nightlife en sy duisternis liggies om die rykmanskinders te impress.

Anyway, ek was net daar vir vier jaar. Kan nie eens mooi onthou of dit graad een of twee was wat ek na drie tries nie kon deurhaak nie. My pa het gereken as die onderwyser te sleg is om my deur die standerd te bliksem, moet ek maar ’n bouer word.

’n Bouer ...

Soos hy.

My pa. ’n Bouer, met die fucked-up naam van Troffel, wat huise, store, stalle en fok weet wat nog vir ryk boere in die Magaliesberge bou. Hy het my geleer om dagha aan te maak, stene te lê, mure te pleister, beams te sweis, kakhuise te teël en fok weet wat nog. En hy het van my ’n number one boomroker gemaak. Hy het my vertel dat Durban Poison jou high maak en nie dood nie; dat Rooibaard die beste dagga uit Swaziland is en dat daggapitte jou kopseer gee, groter as die Heer se genade. Hy het my geleer dat jy die blaaie van ’n telefoonboek, wat jy in die longdrop van die swartes op die plase steel, nie net gebruik om jou gat mee af te vee nie, maar dat jy daarmee zol kan rol.

“Kyk mooi, Gomgat: Jy skeur hom só. Nie groter nie. En daar moet nie te veel letters op die papier wees nie – jy rook boom, nie telefoonnommers nie. Jy moet luister, anders het jy nou-nou net so ’n fucked-up inkhoesie soos ek. Die dag as ek jou vang dat jy boom met ’n bottelnek rook, moer ek jou in laasweek in. Dink net wat gaan daardie dikgat melktert-tannies sê as jou handpalm sulke geel grose kanariekakvlekke op het wanneer jy daai spierwit teëls in die fancy badkamer lê. Verstaan?”

En as hy daardie eerste trekke gevat het en sy oë skielik blink, sou hy smile en sê: “Dagga maak jou dom! He, he, he.

“Shit, Gomgat, jy gaan nie na een of ander hogere skool soos daardie highpolaai in die huise met die moerse gewels en die drie badkamers wat ék vir hom gebou het nie. Wíé gaan daardie fondasies vir hulle grawe as ék en jy dit nie doen nie? Wie gaan dagha aanmaak, stene lê, mure pleister, die gewels paint en fok weet wat nog? Hy? No-fucking-ways.”

En snags as ons êrens in ’n murasie in ’n bloekombos op ons kartonne lê en wag vir die slaap om te kom, sou hy vertel: “Ek het nie geld om jou te laat leer nie, maar ek gaan jou leer om met jou hande te werk. As jy kan bou, het jy iets wat nobody by jou kan wegvat nie.” Dan sou hy hard aan sy zol trek die kooltjie sou helder in die donker gloei, ’n pit skiet, en hy sou dit wat oor is van die stompie na my toe uithou:        “Trek, Seun. Jy kak as jy my zol pispot.” En hy sou smile met die tande wat hy oor had: kanariekakgeel.

Wonder wat van hom geword het. Die Ore reken hy het versuip op daardie visvangtrip met sy pelle waarvandaan hy nooit teruggekom het nie. Miskien het hy moeg geword vir my. Gaan soek na daardie ander wêreld waarvan hy altyd gedroom het wanneer hy laataand in sy bed lê en die kooltjie van sy zol die nag laat skemer word en sê: “Die geklap van die pitte in die agtermiddaghitte. Eendag, Gomgat, eendag ...”

Wie weet, as ek een nag voor die deur van ons huisie tussen die bloekoms sit, sien ek dalk die gloeiende kooltjie deur die black wattle naderkom en skielik sal hy in die ligkring van my vuurtjie staan. Ek hoor hom al sê: “Yes, Gomgat”, sien hoe hy sy zol na my toe uithou: “Trek, Seun. Jy kak as jy my zol pispot.” En ek sou wéét dat hy nog nooit dood was nie.

Maar ek kon nie vir hom wag nie en ek het met my lewe aangegaan. Alles wat hy my geleer het, het ek gedoen. Beter as hy. Ook die boomrokery. Net die telefoonboekblaaie gebruik ek nie meer nie. Rizzlas is meer civilised. Ek sit in any case klaar met die inkhoesie.

Ek en Saar is getroud in negentien-something en ons het in ’n tweevertrekhuisie teen die hange van die Magaliesberge ingetrek. Gebattle om kinders te hê.

Maar wag, ek moet jou eers die storie vertel van my pel Piet en sy vrou Hettie. Hulle het jarre gesukkel om kinders te hê. Álles probeer: getravel van die een dokter na die ander; was selfs by die sangoma hier oorkant die berg gewees. Dié het hulle een of ander boomwortel voorgeskryf wat hulle moes fynmaak en aansmeer. Pleks van luister, het Hettie dit by Piet se aandete ingerasper. By die dood omgedraai, maar luister? No way. Een of ander asshole vertel hom toe op ’n dag: “Jy moet net jou vrou goed skrik maak as sy op fyndraai kom en nege maande later het jy ’n kind. Simple.” Dieselfde nag klim hy by sy vrou in die bed. Sy dubbelloop-haelgeweer het hy vroeër die dag onder die matras weggesteek. Hulle begin hulle opwarmingsexercises en dis nie lank nie of hy hoor hoe Hettie, sonder brieke, fyndraai binnehyg. Hy sukkel die geweer onder die matras uit en trek ’n dubbele skoot af deur die oop ruit van die slaapkamer. Die gevolg? Sy vrou bekak die bed, hy doen ’n breuk op en sy beste melkkoei lê dood voor die venster. He, he, he, he ...

Anyway, na ’n moerse gesukkel (ek kon nooit ’n haelgeweer bekostig nie) het ek en Saar twee kinders gehad. Mooi kinders. ’n Seun en ’n dogter. Die seun, Ouboet, met ’n gat wat al meer gejeuk het soos hy groter geword het. Ek het my bes probeer om van hom ’n bouer te maak, maar al waaroor hy gepla was, was karre. Hy wou ’n ghriesmonkey word. Die karwrakke onder die perskebome in my agterplaas het by die dag meer geword. Hy het ure onder die verroeste chassis gelê en boom rook. Twee keer het hy my vir test drives in sy “eksperimente” gevat. Die eerste keer het ek ingeklim en in ’n 60 watt light bulb gaan sit wat sy ma vir hom gegee het sodat hy vir die Indiër by Boons se winkel die size kan wys wat sy nodig het in die slaapkamer. Die scars van daardie glas lê nog altyd op my gat (Saar sê so). Die ander keer was ’n much bigger fokop. Die experiment was ’n Estcourt waarin hy ’n Kombi se enjin oorgebou het.

“Lightning fast, Pa. Klim!”

En ek is gerook, en ek klim!

En daar trek ons teen die hange van die Magalies uit en ons sukkel om uit die wolkrook uit weg te kom. Die littekens op my gat jeuk soos ’n weird voorbode.

"Not to worry, Pa. Sien jy daardie afdraande? Hou vas!”

En ek worry en kyk rond vir ’n verdwaalde safety belt en ek klou vas aan die handle van die cubby-hole en wens ek het meer gehad waarmee ek kon vashou. Die enjin brul onder die bonnet soos daardie jagse pedigreebul van die boer op Goedgevonden. En ons is bergaf. Bloekombome, black wattle, sekelbos. Vinniger en vinniger. Bloekom, black, sekel. Te fokken vinnig.

En skielik hierdie gromgeluid van êrens onder of agter ons. “Ouboet, die wheel bearing ...!” Ek dog dis my laaste woorde. Ek het al honderde septic tanks gebou; ken kak as ek dit sien kom.

“Fok die wheel bearing, Pa. Tjek die speed!”

En ek dog dis Ouboet se laaste woorde ... En toe daardie moerse commotion, en die enjin wat klink of hy met die teerpad baklei, en stof, en ek het nie genoeg hande om vas te hou én my ore toe te hou nie.

En toe daardie Magaliesbergse stilte wat skrik vir niks.

“Fok Pa. Wat het gebeur?”

Ek kyk na die afgebreekte handle van die cubby-hole in my hand: “Jirre, Ouboet, het jy daardie wiel gesien wat by ons verbygekom het?” Ek het ’n halwe zol uit my sak gekrap, opgesteek; twee trekke gevat en dit vir die laitie gepass. Daardie twee trekke was soos om wedergebore te word.

Later het ons uitgeklim om die wiel te gaan soek en hy het sy arm om my skouers geslaan en gesê: "Moenie worry nie, Pa. Ons gaan survive. Baai hoek or baai kroek.”

En ons het.

My meisiekind, Laura, is ’n ander storie. Het matriek gemaak by Bekker se landbouskool. Kan koeie melk en somme maak. Lees fancy boeke van skrywers met fancy name. Toe sy in matriek was, haar eerste boyfriend huis toe gebring. ’n Seun van ’n prokureur in Joburg. Ouboet het hom die hele middag onder die karwrakke gehad. Toe ek by die huis kom, het hy my gegroet of ek 'n alien is. Saar was nog besig om vir hom 'n bed op te maak op die rusbank toe hoor ons sy kar start. My meisiekind het die hele naweek getjank. Jy probeer troos, maar niks help nie. Hoe explain jy iets wat jy nie eens vir jouself kan explain nie?

Maar ek is lief vir my kinders. They’re the best!

Vandag nog is my naam Gomgat. Dít moet eendag op my grafsteen staan:

 Hier lê Gomgat.
Boomroker.
Rest in peace.
(Moses 10 vers 10, nog ’n boomroker het sy gat gesien.)

Ek bly Gomgat, al is my laitie se naam Ouboet. Al ry hy ’n fucked-up Estcourt, suip vir die Currie Cup en loop en brag hy met sy kanariekakgeel handpalm. Al kyk Saar fancy programme soos 7de Laan op die swart-en-wit TV wat op die room divider staan. My meisiekind werk by die prokureur op Magalies. Sy het uiteindelik ’n boyfriend gekry wat nie dink haar pa is ’n ghwar nie. Wonder wat gaan hy sê as hy my die dag ontmoet?

Ek wonder elke dag: Waar gaan my kinders heen in die nuwe Suid-Afrika? Het hulle ’n kans of word hulle drug addicts of armed robbers of straatvroue? Laasnag in my drome het Ouboet onder ’n Beeld in Joubertpark gelê en slaap. Laura het in vuil geel lig teen ’n lamppaal in Hillbrow geleun. Ek het wakker geskrik en vir ure lank na die donker lê en staar. Toe ek weer insluimer, was daar niemand meer onder die lamppaal nie.

Ja, die mense dink ek is ’n cheap Afrikaner, ’n man is nie blind en doof nie. Maar wie gaan hulle huise bou, mure pleister, beams sweis, gewels paint, kakhuise teël en fok weet wat nog as ék nie die job doen nie? Wie gaan die skurwe stene lê as die swartryp teen die hange van die Magalies afkruip en die hadidas in die bome sit en skree om warm te word op ’n wintersoggend?

Ken jy my? Sien jy my raak waar ek tussen die behoeftiges in die ry voor die clinic sit om cough mixture vir my inkhoesie te vra? Weet jy van my en kyk jý ook weg as jy my sien? Trek jy, soos jou laitie, jou neus op as ek langs julle in die Spar staan en sente op die counter uittel om my Boxer te betaal, huh? Scheme jy my drome lyk anders as joune? Dit het omtrent tyd geword dat jy realise dat ek saam met jou hierdie planet share. Dat ek nie planne het om weg te gaan nie.

For fucksake man, ek het ’n hart, nét soos jy.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top