Gister

  • 0

Anna bestyg die trappe met stroefheid in haar oë. Sy het gekom om te bely. Oor die lepels, die onderklere; die verdomde telefoonoproepe.

Ek kan haar nie in die oë kyk nie. Die skaamheid kom sit weer hier in my keel en dreig om my te verwurg. Kon ek haar nie maar reguit gevra het nie? Kon ek haar nie behandel het soos die vriendin wat sy al die jare vir my was nie? Immers was sy nie die een wat my in die steek gelaat het nie.

“Mies?” sê-vra sy vanaf die boonste trappie en laat sak haar oë grond toe.

“Middag, Anna” antwoord ek sag en hoop sy hoor nie die angs in my stem nie.

Sy kyk my aan, wag vir my om die volgende stap te doen.

“Kom in,” sê ek, maar sy skud net haar kop. Ek weet nie of dit is omdat sy my nie vertrou nie en of dit is omdat sy my privaatheid respekteer nie.

“Sit, dan bring ek vir ons tee,” sukkel ek deur wurgende skuldgevoelens.

“Miesies, jy hoef nie vir my die tee te maak nie. Jy het nie geweet nie.”

“Dit maak nie saak nie. Ek sou nooit gesê het jy het dit gedoen as ek jou vertrou het nie.”

“Daardie een, hy het nie reg gemaak nie. Hy het vir my gelieg.”

En net so is die waarheid uit. Hoe kon ek ooit anders gedink het?

“Ek is jammer” sê ek sag, want ek vertrou nie my stem nie.

Haar oë weerspieël haar innerlike konflik: die pyn, die teleurstelling, die vernedering.

“Aikôna, Mies,” fluister sy en vernou die gaping tussen ons, “dit was gister.”

“Gister, Anna?”

“Êê, Miesies, gister hy is verby. Môre, hy kom nog.”

“Beteken dit jy vergewe my?” vra ek.

“Êê, dit is gister.”

Ek omhels haar onwillekeurig en sy omhels my terug. Verligting spoel deur my, maar dan sien ek die blink voorwerp weerkaats en ek besef opeens teen môre sal vandag ook net gister wees.

Lees ’n onderhoud met Christina van Deventer hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top