Gister is 'n ver land: Om tydelikheid te probeer deurgrond

  • 0

Gister is ’n ver land
Malene Breytenbach
Tafelberg
2009
ISBN: 9780624047278

Klik hier en koop Gister is 'n ver land nou by kalahari.net!

“In my lewe was daar nooit permanensie nie, net ’n lang verblyf” (344) – só sê die hoofkarakter Maureen Sneddon Barnard in Malene Breytenbach se nuwe roman Gister is ’n ver land. Die tydelikheid van besit, liefde, verlies en die verwerking van trauma is van die hooftemas in Breytenbach se aktuele roman wat die leser op reis neem deur Afrika in al sy grootsheid en gewelddadigheid. Dié reis is nie net ’n verkenning van die Afrika-ruimte nie, maar tegelyk ’n kartering van Afrika se geskiedenis van geweld as gevolg van die drang om te besit en te heers. Deur Maureen se herinneringe aan haar verlede in Kenia en die destydse Rhodesië word die leser ook op ’n meer persoonlike reis geneem. Haar herinneringe word gekenmerk deur die ervaring van verlies. Deur Maureen se verlies van grond én van geliefdes word die tydelikheid en kortstondigheid van alle besit, ook die lewe, beklemtoon.

Die ervare liefdesverhaalskrywer Malene Breytenbach debuteer in 2005 met die romanse Palmyra Herleef (LAPA). Sedertdien verskyn talle van haar romanses by LAPA-uitgewers en publiseer sy ook onder die skuilnaam Marilyn Bennet by Tafelberg-uitgewers. Met Gister is ’n ver land beweeg Breytenbach egter in ’n ander én meer sombere rigting. Politieke konflik (in die verlede en hede) geskets teen die agtergrond van Afrika is ’n sentrale gegewe in die roman. Terselfdertyd illustreer Breytenbach ook die vernietigende gevolge van politieke geweld en oorlog op die dikwels onskuldige individue wat daardeur geraak word.

Een van die aanhalings voor in die roman is dié van Maureen sélf: “Ek het die grootsheid van Afrika verloor.” Die hoofkarakter gee hiermee te kenne dat sy haar aanvanklike bewondering vir hierdie bykans magiese kontinent verloor het. Haar verromantiseerde siening van Afrika in haar jeug as idilliese, paradyslike ruimte word deur haar belewenis van verlies verander. Die titel van die roman sluit ook hierby aan: die eertydse ervarings van vreugde in dié ruimte is nou iets van die verlede. Met verloop van tyd is bekoring vervang deur ontnugtering. ’n Verdere betekenismoontlikheid in verband met die titel is dat “gister”, haar verlede, in ’n ander land of ander lande is, want Maureen verlaat Kenia vir Zimbabwe en bevind haar uiteindelik in Suid-Afrika. Ten spyte van ruimtelike afstand en die verloop van tyd tussen toe en nou kan sy steeds nie van hierdie kontinent ontvlug nie. Haar herinneringe, beide positief en negatief, bly deurentyd by haar. Maureen se herinneringe kring wyer uit as haar persoonlike ruimte en ervaring van verlies, aangesien haar herinneringe die gedeelde ervarings van oorlogsgeweld van ’n hele kontinent eggo.

Breytenbach dra haar roman onder andere op aan die mense van Rhodesië en Zimbabwe wat “liefgehad, geveg en verloor het” (352), met die doel om hulle geskiedenis van opofferings nie in vergetelheid te laat verval nie. Die karakter Maureen doen dit inderwaarheid ook. Nadat sy die uitsettingsbevel ontvang en gedwing word om haar plaas Emoyeni in Zimbabwe te verlaat, is een van die enkele besittings wat sy behou, die klein skooltassie waarin sy as 't ware ’n leeftyd se herinneringe bêre. Die dagboeke, briewe en koerantuitknipsels in die skooltassie vertel nie net Maureen se storie nie, maar ook die storie van ander wat “liefgehad, geveg en verloor het” in Afrika.

Een van die besonderse aspekte van hierdie roman is juis die boeiende wyse waarop Breytenbach fiksie met werklike historiese gebeure verweef. Vir sommige lesers mag gedeeltes in die roman dalk te veel herinner aan ’n “geskiedenisles”, maar vir my slaag die skrywer daarin om op ’n kreatiewe manier deur Maureen se verhaal die geskiedenis te dokumenteer. Breytenbach se fokus is nie slegs op die vertel van die bekende “groot geskiedenis” nie, maar ook op die vertel van ’n “klein geskiedenis”: dié van ’n vrou en haar dapper stryd om te midde van groot uitdagings en nóg groter verliese ’n tuiste in Afrika te probeer skep.

“Dit is vir ons die einde van die pad hier in Zimbabwe, my dear …” (7) – met dié woorde dra Maureen die ontstellende nuus oor die uitsettingsbevel aan haar kleindogter Melanie, wat in Suid-Afrika woon, oor. Die Section 8-brief bepaal dat die plaas deur die regering van Zimbabwe oorgeneem word, en gevolglik moet Maureen en haar dogter Elizabeth die plaas so spoedig moontlik verlaat. Hoofstuk een tot vier van die roman word vanuit Melanie se perspektief vertel. Sy en haar oom David vertrek inderhaas na Zimbabwe om haar moeder en ouma na ’n veiliger tuiste in Suid-Afrika te bring. Die hoofstukke oor die reis van Zimbabwe na Suid-Afrika word baie spannend geskets. Hulle reis nie bloot tussen grense nie, maar dit word ’n reis van ontvlugting ter wille van oorlewing: Maureen se eens geliefde tuisland word nou ’n bykans onherkenbare omgewing van wraaksugtige en bloeddorstige bedreiging; tereg sê haar stiefseun David: “Die verlede is ’n ander land” (55).

Vanaf hoofstuk vyf is die fokus op Maureen se vertelling van haar verlede en die gebeure wat aanleiding gegee het tot die vertrek na Suid-Afrika. Die hoofkarakter beskou haar lewensverhaal as “’n lang, lang storie vol drama” (63). Sy het aanvanklik ’n idilliese bestaan as enigste kind op haar ouers se plaas Mbiga in Kenia. Boonop trou sy met ’n besonderse man, die oudsoldaat Samuel Sneddon, en is “alles amper te volmaak”; tog vra Maureen: “Hoe hou mens sulke volmaaktheid vas?” (69). Die toenemende politieke onrus in Kenia waarna sy verwys, laat die leser egter huiwerig voel oor die permanensie van dié volmaaktheid. Na die geboorte van haar kinders Elizabeth en Jimmy eskaleer die konflik in só ’n mate dat die gesin na Rhodesië wil trek, maar kort voor hul vertrek word Maureen gekonfronteer deur die tragiese verlies van twee van haar geliefdes. In ’n wreedaardige Mau Mau-aanval word beide Sam en Jimmy vermoor. Die tema van tydelikheid, hetsy van verblyf, geluk én die lewe word hier reeds op ’n indringende wyse deur Breytenbach ontgin.

Hulle tragiese verlies laat blywende psigiese letsels op beide ma en dogter, maar tog is daar die moontlikheid van herstel en hoop in ’n nuwe ruimte, Rhodesië. Hier word Maureen ’n tweede kans op geluk gegun as sy met die wewenaar Derek Barnard trou. Alhoewel sy haar man en seun verloor het, kry sy ’n “nuwe” man én seun. Maureen ontwikkel veral ’n hegte band met Derek se seun David, wat haar aan Jimmy herinner. Te danke aan Derek se begrip en ondersteuning begin sy haar lewe stelselmatig op sy plaas Emoyeni herbou. Deur die gedetailleerde manier waarop die skrywer die spesifieke omgewing beskryf, is dit duidelik dat sy deeglike kennis daarvan dra – Breytenbach het in haar jeug sélf op die plaas Emoyeni gewoon.

Onder die oppervlak is politieke konflik egter aan die broei. Maureen se verhaal van ’n nuwe, hoopvoller bestaan word skielik deur ’n traumatiese verlies as gevolg van oorlog beëindig. Derek sterf in ’n landmynontploffing en dié matriarg moet weer eens die skerwe van ’n lewe wat deur hartseer en die bewussyn van sterflikheid gekenmerk word, probeer optel. Nie net Maureen se lewe word gekenmerk deur verlies nie, maar ook Elizabeth s’n.

Breytenbach se ervaring as romanseskrywer kom duidelik na vore in die uitbeelding van die liefdesintriges en problematiese verhoudings tussen karakters, veral dié tussen Elizabeth en die sjarmante Cor van der Riet, asook haar latere man Rob Barnard. Dit is opvallend dat die politieke konflik in die roman hand aan hand loop met die persoonlike konflik. Die ruimte waarin hierdie karakters woon, word deurgaans gekenmerk deur konflik wat ook weerspieël word in hul verhoudings. Die hoofkarakter sê self: “Huwelike is dikwels ook ongevalle van oorlog” (199).

Maureen dink in ’n stadium: “Afrika gee en gryp weer weg” (107), en dié woorde is tekenend van haar ervaring van Afrika. Daar is ’n ambivalensie in haar houding: aan die een kant het sy ’n bewondering vir Afrika en die natuurskoon, maar aan die ander kant ervaar sy dit as ’n ruimte van geweld en verlies. Hierdie ambivalensie word in die slot van die roman op ’n treffende wyse geïllustreer as sy in Suid-Afrika ’n laaste versoek aan David rig: “Aangesien (…) ek nie langs (…) Derek (…) of Sam kan rus nie (…) laat my veras en strooi my in die wind (…) wat my oor Afrika sal waai” (348). Sy het beide haar mans afgestaan aan oorloë in Afrika, maar dit is steeds ’n ruimte waarvan sy nie werklik kan ontvlug nie, maar na wil terugkeer op haar laaste reis. Op hierdie reis sal Maureen uiteindelik deel van die landskap – deel van Afrika – word.

Met Gister is ’n ver land slaag Breytenbach daarin om ’n aktuele en boeiende roman te skryf. Afrika word uitgebeeld as ’n ruimte van skoonheid en geweld, van hoop en verlies, en ’n ruimte wat só veel gee, maar ook kan neem. In die roman lewer Breytenbach kommentaar op die drang om te besit en te heers. Die leser besef dat wanneer dit by Afrika en sy geskiedenis van geweld kom, alle besit en heerskappy bloot ’n tydelike vergunning is.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top