Gister hang teen môre se gang
Die maan gooi reenboë oor jou gelaatstrekke
jy maak jou mond oop om te praat
maar verstik aan woorde wat jou aanval in doodloopvertrekke
jy stap stadig na hierdie kamer verlaat
saggies skuifel jy deur die tonnelgang
die mat soos brandnetels
jou maag wat skoenlappers vang
jou bloed soos kookketels
’n onbekende bekende maak jou bang
hierdie vertrek maak skielik sin
die reuke en teksture wat jou terugbring
waar jou môre soos gister hang
in prentjies teen mure van hierdie gang
Skielik herken jy meubels, mure, maskers wat in die ou huis hang
al jou hernineringe getrek deur eergister se hartstog-tang
vasgevang vasgevang
in prentjies teen mure in hierdie gang
jy stap stadig na hierdie kamer verlaat
jy maak jou mond oop om te praat
maar jy’s stil stom vasgevang
nes die prentjies teen die mure in hierdie gang
![]() |



