Geheuekiekie nr 30

  • 1

Ek kom nou die dag by die sigarettoonbank van ’n groot afdelingswinkel aan en die toonbankassistente vra, byna onhoorbaar, met haar vinger in haar neus, “can I help you?”.  Sy staar emosieloos na my behalwe wanneer sy haar oë skeel trek om na haar vingerpunt te kyk wat sy kort-kort uit haar neus trek.  Ek gee my bestelling wat sy toe bring en met daardie einste vinger vat sy my kaart en sleep hom deur die masjientjie. 

“It doesn’t work” sê sy en gee my kaart terug terug terwyl sy emosieloos na my staar.  Haar hand is nou vry en weer haal sy net haar oë van my af as sy na haar vinger kyk wanneer sy hom kort-kort uit haar neus trek.  Ek sê vir haar ek sien van die kassiere vou die kaart in ’n  papiertjie wanneer die magneetband sukkel om te registreer, sy moet dit probeer.  Sy tel so ’n sliertjie van ’n papiertjie van die toonbank af op, vou dit om die kaart en sleep hom weer deur.

Sy sit die kaart op die toonbank neer, draai haar rug op my en kom terug met ‘n sneesdoekie.  Ek staan nog en wonder hoe so ’n sagte stukkie papier gaan hou toe sy, in plaas van die sneesdoekie om die kaart te vou soos ek verwag het, hom oprol in ‘n stywe lang kegeltjie. A, dink ek, dít het ek nog nie gesien nie, vindingryk, ek wonder hoe hierdie storie gaan werk.  En, soos ek in nuuskierige afwagting haar dophou, rek sy haar bolip oor haar tande en druk die papierkegeltjie in haar neus en, soos sy hom uithaal en inspekteer, sê sy “it doesn’t work.”

Ek vat toe maar my kaart en loop terwyl sy nog steeds die papietjie in haar neus roer.

Jan Rap

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top