Geheuekiekie 23

  • 3

Ons sit in die Duitse klas, vreesbevange, soos altyd.  Ons is vreesbevange want ons kry klas by ou Boel, die skoolhoof, en hy is kwaai en sonder geduld.  Hy is kort maar net so breed as wat hy lank is; nie 'n ons vet nie, net spiere, vandaar die naam Boel.

Boel lees uit 'n voorgeskrewe boek en kom op die woord ‘Huhn’ af. Hy druk sy wysvinger in die lug, soos hy altyd maak as hy 'n vraag vra of 'n stelling maak, kyk vir Smittie wat doer agter in die klas sit en sê: “Der die das Huhn Smit?”  Smittie staan stadig uit sy bank op en halfpad boontoe sê hy “Der Huhn.” 

Boel se oë rek en sy wange verstyf en hy begin in ou Smittie se rigting te draf.  In plaas van om te gaan sit rys ou Smittie toe verder want kennelik was ‘Huhn’ se geslag nie manlik nie en hy stel voor “Die Huhn.”  In plaas van dat dit ou Boel kalmeer rek sy oë groter en hy versnel merkbaar, sy kort haartjies staan agtertoe soos ystervarkpenne en water uit sy ooghoeke stroom oor sy slape  soos hy die lug klief in sy ylingse vlug op pad na ou Smittie toe.

“DAS Huhn!” pleit Smittie maar dis te laat, ou Boel is op hom.  Gelukkig is Smittie teen hierdie tyd al regop; regop kinders pluk makliker uit skoolbanke uit.  Ewentwil, met groot geraas en geskuif van banke verduidelik ou Boel toe aan Smittie wat die geslag van ‘Huhn’ is en gooi hom weer terug in sy bank in. 

“Mense,” sê hy vinger in die lug terwyl hy wegstap van ou Smittie af, “julle moet julle geslagte leer.  Dit is ‘das Huhn’ EN NIE ‘DER’… “, en hy vlie om, weer terug na Smittie toe wat nog besig was om sy bril reg te skuif en sy hare plat te stryk, “OF ‘DIE HUHN’ SOOS SMIT GESÊ HET NIE!” en daar het hy ou Smittie weer beet, hierdie keer met bank en al want ou Smittie het nie kans gehad om op te staan nie.  Sover ek weet was dit die enigste keer wat Smittie ou Boel se toorn moes ondervind en as ek dit nie mis het nie het hy nog ‘n onderskeiding ook in Duits gekry.  Wys jou, ou Boel se onderrigmetodes werk.
Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • In my matriekklas was daar toevallig ook 'n Smittie, destyds 'n goeie vriend van my. Maar wat van hom geword het na skool weet ek nie, ons het ons aparte weë gegaan. Miskien is daar in elke skool in die land 'n Smittie, want daar is baie Smits en Smiths.

    Ons onderwysers was maar half dooilik, behalwe miskien die wetenskaponderwyser wat ek in standerd 8 gehad het.

    Daar is 'n bekende TV-sepie wat ek in Duits vertaal as "Das Bold und Der Beautiful". Dink jy dis reg?
    Ek het nie juis matriekduits nie.

    Varkspek

  • Nee Varkspek ek weet nie.  Daar is seker 'n reël wat sê wat die geslag van leenwoorde is maar ek weet nie, het Duitse grammatika jarre der jarre gelede gehad alhoewel ek nog so nou en dan 'n Duitse boek lees.  Ook, 'bold' en 'beautiful' is eintlike byvoeglike naamwoorde.  As daar egter selfstandige naamwoorde van gemaak word behoort dit seker die geslag aan te neem van wat dit beskryf, soos der Bold und die Beautiful byvoorbeeld.  Of so-iets.
    Groetnis

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top