
Foto: Canva
Gedagtelig
(Innerlike denkvlam)
Wanneer hy sy oë sluit,
is dit nie donker wat hom omvou nie,
maar ’n sagte lig
wat tussen die voue van sy denke
onhoorbaar bly beweeg.
Agter sy gordyne van sig,
waar geen kyk kan kom nie,
ontvlam ’n wêreld
nie van son of ster gemaak nie,
maar van herinneringe,
en drome sonder uurglassand.
Die glans van sy gedagtes.
Nie gesien nie, maar gevoel.
Nie gesoek nie, maar altyd daar.
Onder sy ooglede
fladder ’n skaduwee van wat kon wees –
’n silhoeët van vae verskynsels,
woorde sonder klanke
wat in stilte vergestalt.
En dit is daar,
in die binnewêreld,
waar insigte ontvlam.
Wanneer hy verdwyn,
in die vrede van sy siel,
vlam ’n denklig op,
wat sonlig nie belig nie.
In die ruimte van sy siel
ontspring vlamme van verbeelding,
elkeen diep gevoed,
uit die grond van sy gemoed.
En na alles,
en met alles,
vind hy dit goed.

