Gebed om die gesteentes

  • 0

Die suidooster skep, pluk die flentermens
aan oom Jan vasgeketting;
kompanjiesduiwe hang gespalk soos wit kruise
teen sy grys verwyte lyf.
Die droë dissel word steeds oor vlaktes gejaag,
kruis en dwars, en opwaarts – na noord;
sipresse buig krom terug na die turf, troosteloos,
wyl nuwe winde onrusbarend om die wortels maal.

Oom Paul se versiende oog verstar oor die plein
– skerpgebeitelde kaste nou met nagskadu’s gevul –
'n wolk skuif tussen sy weemoedige hoof en die hemel in;
net of die maan ook sy grafsuil versaak het.
In die Baai moet alle gedenkbeelde waai.
Saag af, áf-áf! Smyt in die see! sê die EFF.
O wee, o wee, en Gandhi, Dick King, die mooie vosperde
(wie het Ndongeni op sý stoere perd gesit?)
in die naam van watse warrelwind dié verbanning dan?

Miskien moet mens maar aanhou vra, Here,
om ons skedels en gebeendere te bewaar,
en om u grote lig oor die grou brokstukke
van lewende stryders te laat daal.

© Jo Fourie-Symmons 2015

Titel na Opperman se gedig “Gebed om die gebeente”
droë dissel – erkenning D.J. Opperman, “Gebed om die gebeente” uit Engel uit die klip
weemoed, maan – erkenning J.R.L. van Bruggen, “Die beeld van Oom Paul” uit Gedigte, 1925.

“– dat ons as een groot nasie in dié gramadoelas
met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,
en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas
ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.” – D.J.O.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top