Man, jy ry en jy ry. Dit kan nou per boot wees, per motor, per trein of per vliegtuig, ja, selfs te voet. Dit maak nie saak nie, sien. Maar, dit gaan jou byt. Jou oë begin vinniger beweeg, hulle soek in die vreemde. Die wondere van die nuwe stad is skielik onbelangrik, ja, geheel en al onbelangrik. Daar is ander dinge wat aandag wil geniet, nou, juis nou. Sodat niemand asseblief iets moet agterkom nie. Hoe later, hoe kwater.
Net soos met daardie groot ouens van Suid-Afrika jare gelede in Zürich: Saam met die tolk gaan hulle van een skool na die ander. Word baie gaaf ontvang. In die groot ambagskool van Zürich nooi die rektor hulle uit vir middagete, sommer in die skool se puik kantien. En daar is heerlike appelsap, so ? bietjie gegis man, sommer net so ? bietjie. Dit is wat die Switsers graag drink. Nouja. Die tolk vra almal baie beleefd voordat hulle per voet na die volgende skool gaan of hulle nie eers ? draai wil loop nie, dit veral weens die baie appelsap wat hulle gedrink het. Verontwaardiging. Nee, ons stap.
Deur die besige strate van Zürich word die pas al hoe haastiger. Die tolk glimlag, en vra die beroemde vraag: “Moet u?” Ja-nee, hulle moet, en sommer gou. En so hardloop al die deftig geklede mans soos skoolkinders agter die tolk aan op soek na daardie geheimsinnige plekkie waar, soos die Duitser dit stel, selfs die Keiser te voet heengaan.
Dit is reis, dit is reis in die werklikheid. As jy moet, moet jy, klaar. En daar is mense, gedurig, altyd te veel op die verkeerde plek.
En dit hoewel Pous Julius die Eerste blykbaar na so ? belewenis al 350 nC die belangrikheid daarvan terdeë besef het en na sy dood daarom die heilige geword het vir daardie plekkies ja, die heilige plekkies, want niemand kyk daar vir jou nie, net Pous Julius, die arme drommel.
En die probleempie begin al in die vliegtuig: Sleg geslaap dwing jy jou oë oop, maar, o wee, daar is al ses, sewe mense wat wag dat ? besliste simpel liggie tog uiteindelik groen word. Wat maak die arme siel daar binne so lank? En die mense in die ry is onrustig. Die vliegtuig kan nie gepla wees nie. Hou koers teen sowat 900 km per uur. En jy, jy wag teen nul tree per uur.
En op die Duitse Autobahn? Sneeu, koue, ys, venynige wind. Alles tref jou as jy daardie motor se deur oopmaak. Jy sukkel om vinnig genoeg in die restaurant te kom. Nee, jy soek net één ding, ja, net daardie één plek. Ag so, jy moet eers betaal. Natuurlik het jy geen muntstukke nie, natuurlik is daar rye mense voor jou. Eers die regte muntstukke vir die dekselse toelatingsmasjien kry, Euros natuurlik. Vinnig, asseblief tog. Uiteindelik het jy die geldjies. Maar, o wee, daar is sommer honderde wat nog voor jou staan. En jy is maar te bly dat jy ? man is ...
En dan daardie heerlike restaurant lang die hoofpad Parys toe: Wonderlike gebou, heerlike ete, sagte musiek, kerslig. En die kelner praat en praat en praat, maar alles ‘non speak Anglaise...’
Jy kap maar terug met jou gebrekkige kennis van die Franse taal, maar almal is tevrede. Jy ook. Na die groot en heerlike ete in die heerlike atmosfeer wil jy weer, uitgerus en versadig, verder ry Parys toe. Maar voor dit wil jy tog net gou seker maak, ? draai gooi.
Wel, die hele plekkie wat jy so soek is oorstroom met water, ou water. En dit stink. En dit is vuil. Jy vergeet sommer jou sorge, knyp maar alles toe, draai om, klim in jou motor en ry aan. En jy wonder hoe dit in die kombuis lyk wat so lekker kos kook?
Of soos die dag op die groot pontboot wat van Italië na Albanië ry: Groot, man, groot. Die skippie vat sommer sowat vyftig groot vragmotors en honderde passasiers. Vat die hele nag en ry met groot gedreun van Italië na Albanië. Russiese personeel, ongelooflik onvriendelik en stuurs, ook die kaptein. En jy, as vragmotorbestuurder, kry nogal ? eie kooi in ? kajuit vir ses. Doodmoeg gaan jy soontoe. Die ander slaap sommer in die eetsaal op die vloer. Lyk eienaardig. Maar daar is geen ander kajuite nie. En die nag is lank.
Dan kom jy by die kajuit: Wel, die stort en die meegaande dinge se deur staan wawyd oop. Die gestank slaan jou tussen die oë. Nou weet jy hoekom so baie mans in die nag by die kant van die groot skip staan en ‘visvang’.
Moet ook nie die idee kry om op die baie kanale van Frankryk te gaan toer nie. Nee, die boot wat jy huur is volmaak (indien daar so iets in Frankryk bestaan, maar ons laat dit daar). Moet tog net nie die idee kry om in die water van die rivier of kanaal te duik nie. Jy tref sommer heelwat ou bekendes daar. Die vis hou daarvan, lekker vet. En dit is die vis wat jy juis as heerlike middagete genuttig het.
Switserland: Silwerskoon, ongelooflik duur alles, perfek. Sagte musiek begelei jou gedoen en gedaan. En alles in ? pers lig, want dit is die lig wat dwelmverslaafdes nie kan vat nie, maak hulle mal. En in Lausanne is die mure van daardie besondere plekkies van glas. Sodra jy hulle aanraak, word hulle van buite af ondeursigtig. Jy kan egter almal op die straat aanskou terwyl jy besig is. Hoop maar die elektriese toorgoed werk, hou aan met werk.
En in Parys is dit heel aangenaam om man te wees, dankie. Daar is eenvoudige houtskerms langs die straat en die mans kan sommer gou daar so te sê om die draai hul sakie reël. Maar blykbaar is daar nie sulke plekke vir dames nie. Nouja, wat soek dames ook op die strate van Parys? ? Geldige vraag.
Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

