Ek het al vir Frankie gevra hoe oud hy is en hy beduie vir my dat hy self dikwels wonder. Want ek het hom as jong klong leer ken en so het die wat voor my geloop het hom ook maar so leer ken: Rietskraal en ek is doodseker Bryllcream innie hare. Hy lyk nog presies soos ek hom die heel eerste dag gesien het, nie ’n dag ouer nie. Ek vra hom oor die fontein van ewige jeug waaruit hy drink en hy lag: "Djy wiet mos, eks net ’n halwe Slams. Dit moet maar die voorsate se goeie dade gewies het, ek wietie."
Jy kan nie jou horlosie stel volgens Frankie nie. Want jy sien hom soms Maandag en dan die volgende week die Woensdag en dan soms raak hy weg vir weke. Om weer eendag op te daag met sy vrag tamaties of lemoene of artappels of wat hy ookal by die Kaapse mark kon kry. Frankie is ’n groente- en vrugtesmous. Loop altyd so met sy hanne laag in sy broeksakke ingedruk. Rook Rothmans Rooi niks anders nie. Altyd ’n handlanger byderhand.
Ek het vir Frankie leer ken ’n leeftyd terug. Het altyd ’n afgeleefde en flintergat bakkie gery. Altyd ’n Toyota. Seiltjie oor die groente en vrugte en dan ’n ou visnet bo-oor. Vra jy hom wat hy ophet as hy uitklim en nadat die uitvraery gedon is beduie hy altyd dat dit die varsste van die varsste is. Hy ry die goed allie pad vannie Kaap af en as hy prysmaak staan hy altyd so half weg en beduie vir die handlanger: "Laai vir die Larnie 5 bokse af. Ek verloor helemal maar ons sal dit maar opmaak by die volgende stop." en mens argumenteer of kibbel maar gewoonlik nie met Frankie nie. Want ons kom mos nie van gister af saam nie. "Jy vat nou bloedgeld hierso, Frankie. Is die goed vars?" "Ek sê jou mos, die goed is sommer nog reg uit die trok op my bakkie gelaai" en mens kan nie anders as om hom te glo nie. Vra jy hom of hy vir jou kan spanspek bring vannie Kaap af kan jy maar weet hy sal dit hê. Al is daar nie regtig spanspekke oppie mark nie.
Ek vra hom hoeveel keer hy al die pad Kaap toe en terug gery het en sy gesig lyk nog meer hartseer as gewoonlik. "As die pad annerkant Riversdal nie soveel draaie gehad het nie sou ’n stuurwiel nie eens nodig wees nie want my rygoed ken die pad sommer so vanself". "Het jy nie vir my ’n los entjie nie? My rookgoed lê innie bakkie" en soos gewoonlik bied ek altyd vir hom een van myne aan en dan skreeu hy vir die handlanger om sy goed te bring want hierdie mense rook snaakse goeters. Ek dink dikwels dat Mnre Rupert hierdie klas manne baie beter in advertensies kan gebruik as die mooie mensies wat luilekker op seiljagte om die wêreld rits. Soos in die Stuyvesant advertensies wat ons destyds gesien het.
Ons gesprekke gaan altyd maar in die rigting van die "kerk". "Wanneer laas was jy by die "Kerk"?" Want ons kerk was vir lank die plek waar mens die note innie masjiene gooi en niks uitkry nie. Of soms iets kry as jy baie gelukkig is die dag. "Nei, ekke kommie meer by daai plek nie. Hulle het te veel geld by my gevat. M (vroulief) kla altyd sy wil gaan en ek moet bly beduie dat die geld skraps is. En dobbel is sommer ’n nare ding. Gepraat van: Kry gou die boekie innie bakkie" beduie hy vir die sugtende handlanger. En dan word daar perde en jokkies en afrigters en odds en sulke goete gepraat. "Wat sê jou oom, gaan sy perd wen? En ou mister D, ek sien sy perd hardloop weer Saterdag op Greyville. Djy moet die ou man warm hou lat ons kan opsit as hy weet sy perd gaan wen!"
Frankie stop Maandag oggend vroeg hier en ek sien hy ry nou een van die nuutste Hilux bakkies. Ek loop sit eers agter die stuur want die goed raak mos by die dag al meer soos vliegtuie. Asbakkie soos gewoonlik tot oorlopens toe vol en ek wonder wat sal word die dag as hulle nie meer asbakkies in voertuie sit nie. Frankie beduie bedees dat dit tog tyd was vir ’n nuwe ryding. Hy staan hand innie sak en speel met die vyfrande en praat die vrae oor die Hilux weg.
"Jy moenie te veel artappels koepie. Ek kom oormôre terug uit die Kaap uit dan bring ek ’n groot vrag. Ek sal bring want met hierdie reens moet mens nou koep want die goed raak skaars assie grond so nat is." Ek kyk hom so agterna met die wegry en ek voel skuldig want ek ken nie eens sy van nie.
oester

