Flenters op die werf

  • 1

Nagstilte. Die bome staan in wintergewaad. Die apiesdoring met sy grys dik bas, die soetdoring sy bruine en die kaal takke van die witstinkhoutbome met die blink maan bo in die naglug. Hadidas op die olienhout se takke is in slaap gevou. Die kareebome se takke krom na die ooste. Die groot rots verweer in sestig miljoen jaar. Op die dik mat in die voorportaal lê my swart langbeenhond met sy kop teen sy lyf genestel.

Op my katel onder die lappieskombers mymer ek oor veertig jaar gelede, toe my oudste dogter sewe jaar oud was, ons bruinoog-klong vier en die baba twee maande. In die donker dink ek aan die 46 jaar op hierdie werf. Toe die kinders jongmense was en die huis vol vrolike geborgenheid. Die nag byna 20 jaar terug toe die jongste twee op hul verste reis vertrek het.

Later, in die stil huis, rus my hand op die hondjie met sy ligbruin vlekke. Die hondjie wat bedags uitgelate hardloop en speel, lê nou stil. Ek peins oor die sestien duisend nagte in hierdie huis. Dink gelate aan die wonderlike dae van ingetoë vreugde op hierdie werf, waar madeliefies en aalwyne geblom en gekwyn en verdwyn het. En waar baie dinge in my lewe gekom en gegaan het. Elektrone binne atome is gelyktydig daar en ook nie daar nie, staan dit opgeteken in die dik boek op die tafel voor my bed. Byna soos my lewe. Hier is ek nog. Maar soms voel ek nog soos ’n vreemdeling vir myself – asof ek nie hier is nie.

Hoeveel nagte is daar nog oor voor ek my by die groot stilte sal aansluit? Voor my bewussyn weer deel van die alles sal word? Wanneer die bome, die rotse en die hele werf my nie meer sal ken nie?

Hier onder die bome waar ek gek geword het van die wegskeur van geliefdes. Waar ek snags soms gegil het van die pyn, hier het ek ook vrede gekry. Hier waar ek nou lank na middernag uitstap en, terwyl die honde teen my leun, na die naglumier luister. Hier waar ek onder die bome kan opkyk na die naghemel, om in gebedstilte skoon en ruim te kan voel.
Uit hierdie ure van vrede loop my gedagtes ver terug na die valleie en heuwels op my pad: Ek het my seun op die lughawe gaan haal, hy het my in sy arms toegeskulp. Op pad huis toe het hy oor sy lewe in Japan vertel, my bekoor met die sprankel in sy oë en die tjello-skor van sy stem. Drie maande later sien ek hom koud op ’n hoë tafel in Bloemfontein.
Ek het my dogtertjie op die lughawe gaan haal, gekyk hoe sy haar bagasie uit Switserland op ’n trollie stoot. Ek het haar in my arms en in my hart toegevou en was  bly oor my liefdetjie weer naby is. En oor die laggie wat so klokkie uit haar val. Drie weke later sien ek haar op Winburg, koud agter glas in ’n kas.

Nou vryf ek maar my hond se kop; hy slaan sy oë op na my. Ons brose oë bind. Ek en my hartseer hond op die flenters van hierdie werf.

  • 1

Kommentaar

  • Marthe McLoud

    Aangrypende hartseer verhaal wat 'n mens by bly.  Die rou eensaamheid.

    Hou van die beeld "voordat ek my by die groot stilte aansluit".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top