Feminismes, Bennett en Hambidge

  • 0

Ek is baie bly dat Joan Hambidge ’n alternatiewe (korrigerende) perspektief gebied het op Nini Bennett se resensie. Ek was geskok om Bennett se eerste paragraaf te lees. Sy wil kennelik Phillips se boek vanuit ’n feministiese ideologie benader, maar haar inleidende paragraaf verraai hoe sy nog sterk gesetel is in die patriargale tradisie:

“’n Mens kan nie kwaad word vir ’n feminis soos Fransi Phillips nie.” – Is dit dan nog algemeen om "kwaad" te wees vir feministe? Hoekom? Is enige vorm van feministiese kritiek dan vandag steeds iets "sleg" of "bedreigend"? Mens sou tog nie sê: ’n Mens kan nie kwaad wees vir ’n postkolonialis nie, hoekom dan vir ’n feminis? WTF?

“(Mans ook nie.)” – so mans is nie mense nie? Of hoef vroue nie kwaad te wees vir Phillips nie, en mans nog minder? “Daarvoor is haar humor te droog en aweregs, het sy te min eksplisiete woede ...” – hang die "sukses" van ’n feministiese projek af van die mate van eksplisiteit in die uitbeelding van woede? – “... en is die venyn teenoor mans te goed” – is feministiese kritiek dan net ’n gehap na mans? Of gaan dit meestal oor ’n veel groter projek om die werkinge van ’n patriargale sisteem te verstaan en te verander, ’n sisteem waarin vroue, soos Hambidge uitwys, ook agentskap het? – “... gemaskeer met ironie. Net ’n lewe, wat as wenner die R100 000-prysgeld in die LAPA-romankompetisie (2011) verower het, kan in vele opsigte gesien word as ’n hoogtepunt binne die Afrikaanse feministiese diskoers en binne Phillips se oeuvre. Dit is verfrissend dat die skril ondertone wat dikwels in feministiese teorie en kritiek teenwoordig is ...” – wat!? Dit is presies hierdie neerhalende verwysings na meeste projekte van vroue om hulself te "liberate" wat die patriargie aanwend om sulke projekte af te maak as ’n blote histerie! En sonder die militante toon van die eerste generasie Amerikaanse feministe sou vroue beslis nog nie soveel beter af gewees het nie – “... afwesig is by Phillips. Met understatement en ’n getemperde styl wys sy sekuur die wanbalans tussen mans en vroue uit en laasgenoemde het ’n groter impak op die leser as die voorspelbare lawaai van militante vroue oor die gewaande onreg teenoor hulle ...” – weereens: moet vroue minder "militant" wees of minder "voorspelbaar" wees om "goeie" feministe te wees? Is feministe meer aanvaarbaar as hulle lipstiffie dra en nie voorspelbaar aandring op gelyke regte nie? En is hierdie onreg werklik ’n "gewaande" ("kastige") onreg of het jare se navorsing al lankal die materiële en ideologiese onderdrukking van vroue as ’n feit uitgewys?

Nini Bennett doen hierdie navorsingsveld en ook vroue ’n onreg aan deur haar verskonende aanbieding van Phillips se boek as ’n "beter" soort feminisme wat o, tog net nie sal aanstoot gee nie.

Heidi

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top