Feit

  • 1

Feit

My lyf is ’n feit
soos ’n koei of ’n berg
ek kan bulder of bulk
ek kan lang treë neem soos die spane van ’n roeiboot
ek kan vaar teen die ysige walle van ’n lewe vol waters.

My lyf is ’n waarheid
wat haarself saggies praat
soos ’n hurkende man onder ’n bos skaamtelik
soos ’n varsverskrikte kiewiet swenkend onder voete uit
my lyf is ’n waarheid wat om verskoning vra maar
’n waarheid ewenwel.

Jy, vreemde, kyk na my dye. My nek gloei van jou oë
ek lig my skouers hoër, moenie kyk nie laat my net verbystap
met my waarheid, ek sal sagter praat
ek koes onder jou staar uit, die veragting in jou blik
is water op my woede.
My lyf is ’n waarheid
wat te klein is maar nogtans te groot
gering is ek broos soos die vere op ’n kuiken se keel
as ek alleen loop vra ek om aangestaar te word
as ek alleen kamp vra ek om geknak te word
ek ken nie my plek nie ek huiwer tussen oordaad en te min
ek praat te veel ek sit te klein
ek bewoon myself met die huiwering van ’n huurder
wat wil gate boor in die wande van ’n ander man se huis.

My lyf is ’n feit
soos ’n grot of ’n seemeeu
ek mag ontvang ek mag verdryf
ek mág solank ek saggies is: beskeie soos ’n vyeblaar
goedgemanierd soos my ouma as sy vir die tiende keer vandag
oor haarself om verskoning lag.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top