Saterdag 13 Oktober is by die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam die Elisabeth Eybers-kamer offisieel oopgestel vir die publiek. Ook is ’n spesiale webwerf geloods met ’n katalogus van Eybers se persoonlike boekery, wat in die Eybers-kamer bewaar word.
Elisabeth Eybers (Klerksdorp, Suid-Afrika, 26 Februarie 1915 - Amsterdam, 1 Desember 2007) het die eerste helfte van haar lewe in Suid-Afrika deurgebring en die tweede helfte in Nederland; in albei lande presies 46 jaar. Toe sy haar in Nederland kom vestig het, was sy in Suid-Afrika natuurlik al ’n bekende digteres. Haar debuut, Belydenis in die skemering, was in 1936 die eerste digbundel van ’n vroulike outeur wat in Afrikaans verskyn het. In 1943 was sy die eerste vroulike digter wat die Hertzog-prys ontvang het, vir haar bundels Belydenis en die skemering en Die stil avontuur. In 1971 sou die Hertzog-prys weer aan haar toegeken word, naamlik vir Onderdak.
Na haar verhuising na Nederland in 1961 het haar digbundels elke keer gelyktydig in ’n Suid-Afrikaanse en ’n Nederlandse uitgawe verskyn. Hoewel sy volgehou het om in Afrikaans te skryf, is sy ook in Nederland as ’n belangrike digteres beskou. In Nederland het sy onder meer die Herman Gorter-prys (1975), die Constantijn Huygens-prys (1978) en die groot staatsprys, die PC Hooft-prys (1991), gewen. Sy is as een van die drie belangrikste naoorlogse Nederlandse digteresse gereken, saam met M Vasalis en Ida Gerhardt.
Elisabeth Eybers was ’n toegewyde leser. Sy het veral gehou van poësie en van woordeboeke. Sy het heelwat boeke besit. Maar deur die jare het sy ook weer van ’n deel daarvan ontslae geraak, terwyl haar erfgename na haar dood ’n deel van haar boeke vir hulleself gekies het. Die boekery wat oorgebly het, bestaan uit omtrent 2 000 boeke. Hierdie versameling het nou, soveel moontlik in die oorspronklike opstelling, ’n nuwe “onderdak” gevind in die sogenaamde Eybers-kamer in die Zuid-Afrikahuis aan die Amsterdamse Keizersgracht. Daar is ook ander voorwerpe wat aan Eybers herinner, soos haar jas en haar hoed, haar tikmasjien, die stoel waarin sy heerlik gesit en lees het en ’n kalendertjie wat vir jare op haar buro gestaan het, altyd met dieselfde foto voor, van ’n Suid-Afrikaanse landskap met ’n windpomp. Die boeke wat by haar dood op haar nagkassie gelê het – boeke van die Poolse digteres Wislawa Szymborska, met wie haar poësie ’n groot verwantskap getoon het – is ook daar, saam met haar leesbril.
Die letterkundige Hans Ester, wat Eybers goed geken het, het die moontlikheid om Eybers se boekery aan die Zuid-Afrikahuis te skenk, vir die eerste keer met die familie bespreek. Ook Ena Jansen, wat ’n sterk band met Eybers gehad het, was nou by hierdie projek betrokke.
Watter boeke die Eybers-kolleksie omvat, staan opgeteken in ’n uitvoerige katalogus. Terwyl die studente wat hierdie katalogus opgestel het, besig was om deur die boeke te gaan, het hulle op allerhande interessante ontdekkings afgekom, soos persoonlike boekopdragte van bevriende skrywers, manuskripte van nuwe gedigte en strepies en aantekeninge van Eybers by dit wat sy gelees het. Hierdie vondste is van groot belang vir letterkundige navorsers. Omdat ’n deel van die materiaal ’n private karakter het, word op die webwerf slegs ’n vereenvoudigde weergawe van die katalogus aangebied. Die uitvoerige katalogus kan by die Zuid-Afrikahuis geraadpleeg word. Ernstige navorsers kan die boekeversameling in die Eybers-kamer self bestudeer.
Tydens die feestelike byeenkoms op Saterdag 13 Oktober het verskillende sprekers ’n inleiding gegee. Ena Jansen het foto’s gewys van Eybers se twee huise in Amsterdam, aan die Van Breestraat en aan die Stadionkade. Boekhistorikus Lisa Kuitert het die opening van die Eybers-kamer teen die agtergrond van ervarings met ander skrywersbiblioteke geplaas, soos dié van die Nederlandse digters Lucebert en Hans Faverey. En Marisa Botha van die Mandela-Universiteit uit Port Elizabeth, wenner van die Eybers-beurs 2012, het tematiese ooreenkomste tussen die poësie van Antjie Krog en dié van haar “classy heldin” Elisabeth Eybers uitgewys. Yolande van den Berg en Anneke van der Merwe het toonsettings van Eybers-gedigte ten gehore gebring. En daar is ‘n 25 minute lange opname vertoon van Eybers se enigste televisie-optrede in Nederland, ’n onderhoud met Hanneke Groenteman uit 1999.
Eybers se jongste dogter, Jeanne Wessels, was by die geleentheid aanwesig. Daar het ´n interessante gesprek ontstaan toe mense wat Eybers goed geken het – soos Wessels, Jansen en Eybers se goeie vriendin Annemarie Balkema – herinnerings begin ophaal het, spesifiek met betrekking tot Eybers se hantering van haar boekeversameling. Sowel die feit dat die versameling nie volledig bewaar gebly het nie as die feit dat van haar skrywersvriende haar ál hulle nuwe boeke present gegee het, maak dat die beeld in sekere opsigte onbetroubaar sal wees. Daarom sal dit goed wees wanneer onderneem word om ook boeke wat tans by familie en vriende berus, in die toekoms aan die lys toe te voeg.
Maar ten spyte van die leemtes is dit moeilik om die verleiding te weerstaan en nie gevolgtrekkings aan die beknopte katalogus op die internet te probeer ontleen nie. Die Afrikaanstalige digters van wie Eybers die meeste boeke op haar rak gehad het, was DJ Opperman, Ernst van Heerden en Sheila Cussons. In die Nederlandse poësie was Gerrit Achterberg, Ed Leeflang en Lloyd Haft ruim verteenwoordig. En as dit kom by prosa, staan Hennie Aucamp uit onder die Afrikaanse skrywers en Pierre H Dubois en Renate Rubinstein aan die Nederlandse kant. Ander skrywers wat veelvuldig in Eybers se persoonlike boekery aanwesig is, is die Nederlandse skrywer van diereverhale Toon Tellegen, Karel Schoeman en die Fransman Georges Simenon.