As jy vir Mike Tyson sien dan sien jy vir Eric. Nie die kleur nie, die liggaam. Groot man sonder 'n nek. Jy weet mos van die manne wat nie anders kan as om met hul arms so wyd te loop nie. Daars doodgewoon nie plek langs die liggaam vir goed soos arms en hanne nie. Te groot, sien. Eric was so. Groot. Niks vet nie. Kop en dan skouers. Die nek was soort van bysaak.
Slagter, of liewer blokman sy lewe lank gewees. Groot hanne wat altyd so oopgehang het. Het elke snit op elke karkas geken en kon vir jou 'n rump of enige snit uitsny presies soos hy hoort. Altyd reguit gepraat en het nie doekies omgedraai nie tot die punt waar hy sy slaghuis moes toemaak want hy het te veel mense die deur gewys. Eendag selfs 'n oud minister beduie dat hy nie "Nasionale" vleis bedien nie en die minister maar moet omdraai en nie die sifdeur moet toeklap op pad uit nie.
Eric het toe maar, met die slaghuis se toemaak die pad gevat soos hy eintlik lankal wou. Rondreisende verkoopsman vir 'n bekende groothandelaar wat aan slaghuise en slagters en grootwildjagters en wildsplase verskaf. En op die sideline biltong en droeewors en worse en nog wat gesmous wat hy self by die huis gemaak het as hy die dag tuis was. Lief geraak vir die dorre Karoo soos wat hy vir sy Waterberge was.
Eric stop die dag hier en ek herken die brul en die rillings gaan af teen my ruggraat want jy ken mos die dreuning van 'n Goldwing as jy 'n biker is nog lank voor jy hom te siene kry. Jou regterhand begin mos sommer vanself saamwerk as jy die dreuning hoor.
Hy beduie dat hy ook na Daai dam doer innie Karoo toe gaan. Hy en sy "meisie". Ons praat oor daai dam wat mens altyd moet by stop en lank moet bly oorstaan. Beervlei dam. Hy beduie dat hy gaan oornag net neffens die wal en ek beduie hy moet groete stuur want dis 'n befokte plek op sy kakste en sy is altyd vriendelik en haar dogter ken van perdry en sy is moer sag op die oog. Blouste ogies wat jy ooit in jou lewe aanskou het en, wel, die res is nie hier ter sake nie, is dit?
JR kom die Sondagoggend in en hy beduie so om die gesprekke om die voorblaaie van die vadoeke wat ons as koerante beskou of ek gehoor het van Eric? Eric is dood.
Jy vat mos maar 'n doodstyding so in jou stap en jy is treurig of bly of jy glimlag of jy dink: good riddance, jou bliksem. Met Eric was dit anders. Want so iemand kan nie doodgaan nie. Nie nou al nie. Ek vra hoe en waar en wanneer en wie het dit veroorsaak en JR beduie: Dis daai fokken Goldwing. Eric was blykbaar op pad na daai dam toe toe die Goldwing se kabel moeilikheid beginne gee het. As jy 'n biker is sal jy weet dat hy die klassieke fout gemaak het en as jy nie een is nie sal jy dit in elk geval weet: Eric het afgekyk en sy aandag vir net een sekonde te lank weg van die pad gehou. Die pad wat gedraai het en Eric is reguit.
Ek hoor na die tyd dat die ambulanse en die odd verbyganger hom so gekry het: Onder sy Goldwing. Hy is op pad na een of ander dorp in die Langkloof se hospitaal in die ambulans dood.
Ek koop Eric se karavaan uit sy boedel voor dit na 'n vreemdeling toe gaan en ek maak die deur oop en ek sien die detail. die fyn handewerk. Ek sien die fraaiing gordyntjies wat hy met sorg aanmekaar gestik het want hy moes ook kleintyd leer om selfs met 'n naald en garing en 'n Bernina te kan werk.
Vanaand stap 'n handelaar hier in en bied my dubbel aan wat ek vir die karavaan betaal het. Eric se wegbreekgeleentheid Gouritz toe hierdie karavaantjie.
Die ding staan en oproes in elk geval en ek vat maar die tjek, want dit is tog net aardse goed, is dit nie? Ek wetie of ek more die donnerse ding sal laat wegsleep nie. Ek wou self die ding Gouritz toe sleep om eerder daar te staan en oproes as wat 'n vreemdeling die gordyne na mammie se smaak gaan verander
oester


Kommentaar
Tien uit tien oester! Ek vermoed daar's nog baie stories in jou arsenaal. Laat loop!