En die lekkerste deel van dood wees: `n waardevolle eksperiment

  • 3

Harry Kalmer
En die lekkerste deel van dood wees
2007
ISBN: 9780624045748
Kaapstad: Tafelberg
Bladsye: 256

In die parlement is daar ? register waarin politieke verteenwoordigers hul belange moet verklaar. Enige geskenke, aandeelhouding, en dies meer moet deel van die openbare rekord word. Vir die rekord, dus (alhoewel ek nog nooit ? geskenk van hom ontvang het nie), moet ek bieg dat ek ? volslae aanhanger van Harry Kalmer se boeke en dramas is. Lees dus maar my resensie in hierdie lig.

Ek weet ook nie juis of ? mens hierdie ? resensie kan noem nie. Kom ons sê eerder dis ? poging om sin te maak van die manier waarop die stories in En die lekkerste deel van dood wees vertel word.

In Boeke-insig beskryf Dineke Volschenk Kalmer se werk as “grinterig, melancholies en snaaks op ? nie voor die hand liggende manier”. Benewens die publikasie van kortverhaalbundels en romans het Kalmer het al ? hele rits dramas op die planke gebring (en ? hele rits pryse gewen).

Sy eerste boek, Die waarheid en nader stories, ? kortverhaalbundel, is in 1989 gepubliseer. Daarna volg X-Ray Visagie en die Vingers van God (1993), ? misdaadroman wat aan hom kultusstatus onder ? nuwe generasie lesers besorg het. Die man met die dertien kinders (1998), ? boek wat ek al ? paar keer weer gaan lees het, bly steeds my gunsteling. Kniediep (1998) kan as ? tipe opvolg op X-Ray beskou word – weer die tema van misdaad, maar hierdie keer in ? skrikwekkende postapartheid-Johannesburg. In 2005 is Briewe aan ? rooi dak, ? handgemaakte boek, uitgegee. Dit is ook as drama opgevoer, onder andere by Aardklop. In 2006 verskyn Groceries: 56 stories oor huishoudelike produkte, weer ? kortverhaalbundel, maar hierdie keer met sketse en skilderye deur ? uiteenlopende groep kunstenaars om by elke storie te pas.

En nou is daar Kalmer se nuwe boek En die lekkerste deel van dood wees (2007). Gedeeltes daarvan is verlede jaar as die drama Wolke by Aardklop opgevoer.

Om by my punt oor die boek uit te kom, gaan ek nou eers ? draai deur ? paar ander boeke moet maak.*

Verbeel jou dit: ? Man ry met sy Volvo deur ? plakkerswoonbuurt. Hy luister Mozart en die musiek bulder by sy kar se vensters uit. ? Bekommerde man kom by sy gehuggie uit en beduie dat hy gehijack sal word. Maar die bestuurder van die luukse motor steur hom nie daaraan nie. Aangeklam ploeg hy deur die rommel en die modder voort.

Ek het nogal gelag toe ek hierdie toneel uit Etienne van Heerden se boek Asbesmiddag lees. Ook maar net in Suid-Afrika! Asbesmiddag se hoofkarakter, ? skrywer, voel soos ? afloerder wat op ander mense se lewens teer vir sy stories. Hy wroeg oor die bykans onmoontlike taak vir ? voorstedelike skrywer om oortuigend oor byvoorbeeld die lewens van ? geldmagnaat of ? armoedige haarkapperassistent te skryf.

Sy rit deur die plakkerskamp, op die maat van Mozart, illustreer die absurde gevolge van ons onvermoë om mekaar te verstaan. Sy houding is uitdagend en selfvernietigend. Dis ? snaakse oomblik in die boek, maar ook tragies. ? Ironie in die boek is natuurlik dat die skrywer self dopgehou word.

Asbesmiddag gaan oor die problematiek van die skrywer as voyeur, vampier, of luis – die een wat op ander se stories teer vir sy of haar boeke.

Van Heerden speel ? speletjie met ons, die lesers. JM Coetzee het dit ook (weer) in sy laaste boek gedoen. Die hoofkarakter deel sekere eienskappe met die skrywer self, maar verskil genoegsaam sodat die skrywer hom van die karakter kan distansieer. Antjie Krog doen dit ook elke nou en dan, soos byvoorbeeld in Relaas van ? moord. Die huidige gesprek op LitNet oor Koos Prinsloo se werk sny ook van hierdie verwikkeling tussen fiksie en werklikheid aan.

As skrywers tart hulle ons. Hulle laat ons wonder of hulle besig is met die waarheid of met ? storie.

Professore in die letterkunde sal natuurlik sê dat alles in elke geval net ? storie is – die lewe ook. Waarom wroeg mense oor fiksie en waarheid? Dis só twee eeue gelede!

Maar vir my as redelik ongesofistikeerde leser lyk dit asof ons skrywers dalk al hoe onsekerder raak van die roman as kunsvorm. Is daar nog stories om te vertel? En as daar is, wie het die outentieke stem om dit wel te doen?

As romanskrywers onseker is van die vorm waarin hulle stories vertel, is die biograwe besig om oor te neem. Dink maar aan Mark Gevisser se biografie van Thabo Mbeki. Diegene van ons wat by die bekendstelling van die boek in Wits se Great Hall was, sal kan getuig dat dit nogal merkwaardig is wanneer daar meer as ? duisend mense vir só ? geleentheid opdaag. Sommige moes in die paadjies tussen die stoele sit, terwyl ander die verrigtinge op TV-skerms buite die saal moes dophou.

In Gevisser se geval probeer die skrywer om ? lewende mens te verstaan – ? besonder enigmatiese en geslote een. Gevisser het honderde onderhoude gevoer, die argiewe gefynkam en verskillende plekke in die wêreld besoek om in Mbeki se skoene te probeer staan. Of, soos hy dit stel, op Mbeki se skouer te probeer sit.

Hy was nogal braaf om die projek aan te pak. Hy het homself blootgestel vir mense om te sê: “Wie is jy nou eintlik om hierdie boek oor Mbeki te skryf? Jy, ? wit Suid-Afrikaner van Joodse afkoms, en dan nog gay ook! Wat weet jy van die leefwêreld van swart Suid-Afrikaners en die Xhosa-elite?”

Ek skat Gevisser sou seker dronk in een of ander nedersetting in Pondoland met sy motor kon invaar uit pure frustrasie. Miskien het hy op stadiums so gevoel.

Waar die roman ? fiksie van die waarheid is, probeer die biograaf so naby as moontlik daaraan kom. Suid-Afrika is ? land van vele tale, kleure en klasse. Sommige woon in stede, ander op plase. Sommige is ryk, ander is arm. Daar is mans en vroue, kinders en oumense, wit en swart en alles tussenin, asook diegene wat nie in enige van die geykte skakerings inpas nie. Dís dalk hoekom ons land sulke goeie stories het!

Dis ook hoekom dit so deksels moeilik is om geloofwaardig te skryf. Elke skryfdaad (en dalk lees ook) moet onoorbrugbare klowe oorsteek. Te midde ? kakofonie van beelde, blogs, Flickr, Facebook, YouTube, sms-boodskappe, stories, opinies en reklame, soek ons boonop nog na iets outentiek.

*

En die lekkerste deel van dood wees spook met soortgelyke vrae, maar pak dit op ? ander manier aan. Die storie word vanuit verskillende oogpunte vertel, insluitende dié van ? moordenaar en ? vermoorde. Die skrywer verander as’t ware in vyf uiteenlopende persone.

Daar is ? bejaarde vrou wat briewe aan die huis langs haar se dak skryf, omdat sy niemand anders het om voor te skryf nie – Magdalena Otto.

Daar is hierdie vrou se kleindogter – ? popster in die VSA wat herstel van haar verslawing aan crack. Ons vind uit dat haar ouma in Suid-Afrika vermoor is – Camilla (Wolke) Otto.

Ons lees die transkripsie van kassette met die stem van die moordenaar – Basil Apolis.

Ons lees die briewe wat die popster se vader aan haar geskryf het, maar nooit gepos het nie. Toe sy klein was, het hy haar verlaat om terug te keer Suid-Afrika toe – Jak Otto.

Aan die einde van die boek kom selfs die oorlede man van die vermoorde vrou aan die woord. Hy dryf tussen siprestakke rond en wonder oor sy lewe en sy dood – Isak Otto.

Dis ? vreemde boek – amper soos ? spookstorie – maar ek dink Harry Kalmer klim op ? oortuigende wyse onder sy karakters se velle in. Die stories kom vir my heeltemal geloofwaardig oor. Met die lees daarvan het ek gevoel ek is besig om iets te lees wat geheel en al outentiek is.

Daar is ? paar redes hiervoor.

In die eerste plek skryf Kalmer oor die Johannesburg wat ek ken. Dis nie die beskermde voorstede van Saartjie Baumann nie. Dis die kant van die stad waar Afrikaners maar net nog ? groep immigrante is, waar ons op ? manier in ? kosmopolitiese mengelmoes verdwyn.

Magdalena Otto, wat die briewe aan die rooi dak skryf, praat byvoorbeeld oor die stad:

Maar in die Kaap bly daar al langer as driehonderd-en-vyftig jaar wit mense. Nie soos hier waar alles nog bloedjonk is nie. Of stokoud. Of platgeslaan. Mynkamp-mentaliteit. Toe ek gebore is, was hierdie stad nog nie eens vyftig jaar oud nie. As dit ? man was, kon hy nou nog gelewe het. ? Ou man met ? bril en ? kierie. Honderd-en-vyftien jaar oud. Heeltemal haalbaar in hierdie dae van brille, pille en ysterlonge. (p 19)

Sy skryf verder:

Toe ons klein was, was die meeste myne nog aan die gang. Die grond het gereeld gesidder wanneer hulle geskiet het of daar rotsstortings was. Toe was dit nog regtig ? goudstad. Nou voel dit dikwels vir my soos ? foutstad. Oral waar jy kyk, sien jy dinge wat vervalle is. (p 20)

Dan skryf sy oor haar eerste dag op skool by Helpmekaar. Die bakens van Johannesburg se klasgrense word sigbaar:

Toe ek my adres hardop sê, was daar ? fluistering in die klas. So saggies dat ek eers gedag het ek verbeel my. Maar net totdat Engela haar Fordsburg-adres gee en dieselfde geluid opklink. Tog het dit gelyk asof dit nie vir Engela skeel nie, haar stem was sonder huiwering. Haar ken het gelig en haar rug was reguit ... (p 27).

Sy skryf ook in haar briewe oor haar jeugliefde Manny de Jesus, “die seun van Funchal Fish & Chips in Julesstraat, Malvern”:

Manny was in Jeppe Boys High en het vir die eerste span rugby gespeel. Geen Helpmekaar-eerstespanspeler het ooit in my rigting gekyk nie. Maar Manny de Jesus het. En hy het my op my ooglede gesoen ... Maar my pa sê Portugese is seekaffers. (p 25).

? Deel van die stad se onheilspellende ondertone kom uit as Camilla Otto wakker lê in die rehabilitasiesentrum in die VSA. Sy hoor honde in die verte blaf en dit herinner haar aan Johannesburg: “Honde wat blaf. Haar pa wat die gordyne versigtig eenkant toe trek en buitentoe tuur om die oorsaak van die honde se onrustigheid probeer sien” (p 64).

Dan is daar die moordenaar, wat ná ? traumatiese bekendstelling aan Johannesburg deur die skuim van die aarde met ? bebloede gesig op die sypaadjie gaan sit en sien die straat se naam is Mooistraat. Hy begin “lag en lag en lag” (p 146).

In die laaste gedeelte van die boek, oor die lewe van Isak Otto, word Johannesburg weer uit die verlede opgegrawe. Dis die herinneringe se detail en tekstuur wat dit so geloofwaardig maak. Isak se vriend Abdie se pa ry groente van die Newtown Mark af aan na sy groentewinkel in Troyville. Abdie se pa sê vir Isak se pa, “Naand, baas Otto” (p 216).

Hierdie is maar enkele voorbeelde om die punt te illustreer. Dis die tekstuur en die detail in En die lekkerste deel van dood wees wat ? mens ? ander blik op die stad gee. Ons kry ? weergawe van Johannesburg wat dieper kyk as die oppervlakkige weergawes van “suburb” en “township”. Dis ? stad waar regte mense woon. Hulle leef die geskiedenis deur hulle liefdes, teleurstellings en trauma. Hulle is mense wat nie instaan vir een of ander groot idee nie.

? Tweede rede vir die boek se geloofwaardigheid is die manier waarop daar oor musiek geskryf word.

Een van die mees treffende tonele is waar Camilla Otto praat oor hoe sy voor sy op die verhoog gaan, met haar kop teen die muur gaan staan en toelaat dat die klanke van die bastrom en die baskitaar deur haar lyf gaan. “Dan stoot sy haarself van die muur af weg en stap die kollig in wat haar aan die kant van die verhoog inwag. Al skree en gil die gehoor wanneer hulle haar sien, weet sy dat die beste deel van die vertoning reeds verby is ...” (p 109).

Camilla (of Wolke) Otto is ? musikant, maar haar pa is ook een. Hy het haar as kind in die VSA agtergelaat om na Suid-Afrika toe terug te keer. Hieroor skryf hy in sy briewe aan haar:

Dalk reis die pianis die ligste van alle musikante, want hy weet dat hy nooit sy klavier saam met hom sal kan dra nie ... En wie weet: As jy jou musiekinstrument kan agterlaat, kan jy dalk enigiets agterlaat ... Selfs jou kind.” (pp 185-6)

Elders skryf hy oor hoe hy saam met ? groep Suid-Afrikaanse country-musikante gewerk het aan ? opname. Hul eertydse glorie het vervaag en country-musiek het uit die mode geraak. Die musikante befonds self die opnames in die hoop dat hulle ? verspreidingsdeal sal kry. Hy skryf:

Ek hou vir hulle duim vas. Hulle musiek raak selfs vir my wat nog net met ironie na country-en-western kon luister. Noudat ek saam met hulle werk, weet ek dat ons dieselfde ding probeer doen ... Probeer om sin te maak van die lewe ... Ek voel geseënd om saam met hierdie boere-cowboys te werk. Maar ek hou ook duim was vir myself. Want ons is ook op ? ander manier dieselfde: musikante in ? land waar mense liewers na oorsese musiek luister.” (p 194)

Laat ek met hierdie voorbeelde volstaan. ? Mens sou ? hele referaat oor musiek in die boek kon skryf. Die punt wat ek probeer maak, is dat dit geloofwaardig is – in detail, tekstuur; it rings true, ook vir my as musikant.

? Laaste rede vir En die lekkerste deel van dood wees se geloofwaardigheid is die wyse waaroor daar oor buitestanders geskryf word, die mense wat nog nooit in die kassies van die groot ideologieë ingepas het nie – hetsy die nasionalisme van die Afrikaners of die Marxisme van die bevrydingsbeweging. Mense is kompleks en kan nie tot wette van die geskiedenis of stereotipes gereduseer word nie. Ek wil graag die boeke van skrywers lees wat die vervelige ou gesprekke oor misdaad en verval op ? interessante manier aanpak en ? mens op nuwe maniere daaroor laat dink. Maar sonder om maklike antwoorde te gee.

Ek wil net een gedeelte aanhaal. Jak Otto, die musikant, kuier by familie op ? plaas in die Wes-Transvaal. Die volgende grepie speel langs die braaivleisvuur af:

"My fok, waar val jy uit met daai oorbel in jou oor?" vra my neef Sagrys en lag. En ek voel hoe ek begin bloos. Liewe Here, ek is amper veertig en hierdie mense laat my nog steeds voel asof ek van ? ander planeet kom. Net soos toe ek klein was en hulle my geterg het oor ek klavier speel.

Etienne van Heerden, Mark Gevisser en Harry Kalmer skryf op verskillende maniere oor hoe moeilik dit is om onder ? ander mens se vel in te kruip, om op sy skouer te gaan sit, of om in haar skoene te staan. Ek dink nie juis ek gee om oor of dit in die vorm van ? roman oor die skryf van ? roman, ? roman, of ? biografie is nie. Dis sulke eksperimente wat dit vir my die moeite werd maak om aan te hou bly in hierdie land waar dit meestal onmoontlik is om in tuis te voel.

  • 3

Kommentaar

  • Thys du Preez.

    Ek het hierdie boek gelees , en na die laaste bladsy het ek onmiddellik weer voor begin ... dit het nog nooit voorheen gebeur nie. Ek weet nie hoekom nie, maar ek weet ek gaan hom weer lees ... en dalk weer.

  • Dit is seker moontlik vir 'n bekommerde man om uit sy gehuggie te kom, maar waar is hy dan? In die oop veld? In die stad? Ek stel voor die skrywer hiervan moet darem eers seker maak wat vir 'n ding 'n gehuggie is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top