Fruit of a Poisoned Tree so goed soos Truman Capote

  • 0

Fruit of a Poisoned Tree: A True Story of Murder and the Miscarriage of Justice
Antony Altbeker
Uitgewer: Jonathan Ball Publishers
ISBN: 9781868423330
Prys: R165.75

 

 

So dan en wan verskyn daar ’n boek wat ek wens ek geskryf het, of selfs kon skryf. Antony Altbeker se Fruit of a Poisoned Tree: A True Story of Murder and the Miscarriage of Justice is so ’n boek. In die genre wat Truman Capote met sy grootse In cold blood ingelui het met sy indringende blootstelling van die banaliteit van die moord op ’n plaasgesin in Kansas en die psige van die moordenaars, het Altbeker nou die leidende teks in daardie genre in Suid-Afrika geskryf. Pulitzer-kwaliteit, as ons daarvoor sou kwalifiseer.

Daar is min leesstof so onverteerbaar soos ’n hofrekord, en min relase oor die regsproses so misleidend as persberigte. Nou hoe sal ’n mens dan die vervolging van Fred van der Vyver ná die moord op Inge Lotz tot sy reg laat kom en terselfdertyd reg laat geskied aan die hof se uitspraak? En, natuurlik, op so ’n wyse dat die leser nie teen bladsy 25 sy boek verder ongelees vir iemand anders aanbied as geskenk nie.

Die antwoord: gee die hele affêre vir Antony Altbeker; 438 bladsye later is daar helderheid, lig waar daar voorheen net donker kolle droë getuienis was, terwyl die aanklaers se beste punte elk aan deeglike ontleding onderwerp word aan die hand van getuienis, nie spekulasie nie, en al die moeilike vrae beantwoord word. Goed, nie letterlik ál die vrae nie. Hieroor meer later.

So hoe het Altbeker te werk gegaan om hierdie onverteerbare saakrekord te omskep in ’n spanningsverhaal terwyl almal tog weet dat die hof Fred onskuldig bevind het en selfs geskimp het dat hy nooit aangekla moes gewees het nie?

Daar is twee redes waarom die leser (sal) aanhou lees en lees en lees. Die eerste is die meesterlike wyse waarop Altbeker die getuienis ontleed en telkens met regs- of wetenskaplike beginsels uitlig of met sy eie filosofiese bespiegelings ophelder. Die ander is dat die leser self wil besluit oor skuld en onskuld, en nie noodwendig die hof se uitsprake as korrek of finaal aanvaar nie. Wie gee nou om vir voordeel van die twyfel as ’n mens wéét wie die skuldige is? En was daar dan nie in die vroeë jare van die vorige eeu ’n geval in Kaapstad waar ’n man onskuldig bevind is aan moord maar in ’n siviele saak tog aanspreeklik gehou is vir die weduwee se skade nie? Dieselfde het met ook OJ Simpson gebeur, nie waar nie?

Altbeker skryf aantreklike Engels, en het die idioom van die polisiestasie en hofsaal onder beheer. Hy skryf ’n Engels wat die intensiteit van die geleentheid pas.

Tog lyk dit vir my of daar ’n gevaar kan skuil in die intensiteit – vergeet dat dit veroorloof is – waarmee Altbeker die tekortkominge in die polisie-ondersoek en die staat se saak blootlê. Dit is soos ’n lasterlike bewering wat hand en tand beveg word, maar as teenproduk van die verset net die lasterlike bewerings vlerke gee. Jan Publiek gee nie veel om vir wat hy sien as tegniese punte nie, veral nie wanneer die lyk van ’n beeldskone en intelligente meisie in haar woonstel op die rusbank in ’n plas bloed lê, met haar skedel vergruis en talle steekwonde in haar borskas nie. Nee, Jan Publiek wil nie weet wat met die ondersoek skeefgeloop het nie. Hy wil weet wie die moordenaar is, en dan soek hy self bloed, ten minste in eweredige mate tot die bloed wat verspil is.

Dit is juis hier waar Altbeker die leser vang soos in ’n strik en dan meesleur. Jan Publiek kan nou self die getuienis beoordeel en sy eie uitspraak lewer. Dit doen Altbeker deur die stryd tussen die aanklaers en die verdedigers aan te bied as a skouspel, soos ’n gladiatoriese spektakel in regter Nero se arena, vir die vermaak van die massas. ’n Christen, Fred van der Vyver, staan in wit vasgemaak aan ’n paal, onbeweeglik, ooglopend onbewus van die gevaar waarin hy verkeer. Om hom woed die stryd. Gladiatore met ’n verskeidenheid wapens word op hom afgestuur, maar sy advokate weer hulle af, nie met kruise nie maar met kruisondervraging wat allerhande skete en swakhede in die aanvallers ontbloot en vir eie voordeel benut. Elke dan en wan steek ’n aanvaller homself in die voet, of erger, verblind hy een van sy makkers. Hoe hard sy eie stryders ook al veg, word Fred tog gewond, nie met ’n noodlottige hamerhou of onthoofding met ’n swaard nie, maar met rapiersteke wat sy witte kleed met bloed bevlek en hier en daar in toiings laat.

Altbeker kyk na die toneel deur ’n buis wat die blik konsentreer op enkele skermutselings eerder as op die geheelbeeld. Nero, aan die ander kant, kyk van bo en sien alles.

Uiteindelik lê al die manne pootuit in die stof van die konflik, sommige dood, ander swaar gewond, die res net te moeg om voort te veg. Advokaat teen getuie, teen die ander kant se advokate, polisieman teen oudpolisieman, deskundige teen deskundige, vingerafdrukman teen vingerafdrukman. Hulle hyg nog na asem wanneer die kapteins hulle na Nero wend vir sy oordeel. Nero hou sy regterhand omhoog en strek sy duim sywaarts uit, nie na bo – vir lewe – of na onder – vir dood – nie. Die keiser skimp dat die geveg nie oor is nie: daar is nog een vegter oor, een wat nie sodanig verwond is dat hy nie kan deelneem nie. Waarom het Fred nie getuig nie? Die gladiatore wat namens hom ’n alibi probeer bewys het, was maar flou. Hoe kan hy nie die saak teen hom beantwoord nie?

Versterkings word ingeroep, ’n meer senior advokaat. Vanuit die getuiebank kyk Fred vir die eerste maal sy aanklaers in die oë. “Ek het haar liefgehad,” sê hy. “En ek was by die werk.”

Die hof gee hom gelyk, maar daar buite is Jan Publiek nie tevrede nie, want hy oordeel op wat hy in die koerant lees. Wel, Jan Publiek, dan sal jy maar Altbeker se boek moet aanskaf en lees, want hy verduidelik in die fynste besonderhede waarom die omstandigheidsgetuienis wat aangebied was, onvoldoende was om skuld bo redelike twyfel te bewys. Let maar hier op die volgende:
 

  • Daar was geen ooggetuies nie. Daar was wel direkte getuienis dat Fred by sy werk was, al is daar ’n gaping van so ’n uur of twee.
  • Fred se skoen pas nie die skoenspoor – in bloed – in Inge se badkamer nie.
  • Fred se seremoniële hamer pas nie op die wonde in Inge se skedel nie, en eksperimente daarmee kon nie voltooi word nie, want dit was te tingerig.
  • Fred se vingerafdrukke op ’n DVD-houer kom van ’n glas af en is óf foutiewelik aan die DVD-houer toegeskryf óf opsetlik daarna oorgeplaas. (Dit is nogal redelik maklik om ’n vingerafdruk van een oppervlak na ’n ander te verplaas, soos ’n polisieman jare gelede vir my gewys het.)
  • Fred se woorde en optrede na die gebeure is in ooreenstemming met sy oorblufte geaardheid, en nie noodwendig ’n aanduiding van ’n skuldige gewete nie.

    Ensomeer.

Ervare regslui en polisiebeamptes beskou omstandigheidsgetuienis as meer betroubaar as direkte getuienis (ooggetuienis). ’n Bekwame advokaat kan maklik ’n ooggetuie deurmekaarpraat, maar selfs die mees ervare advokaat kan nie ’n vingerafdruk van die oorledene se bedkassie af onder kruisverhoor plaas nie, of inskrywings uit ’n boek uit, of met slinkse vrae die oorledene weer laat opstaan nie. Daar is ook ’n wanopvatting ten opsigte van omstandigheidsgetuienis wat Altbeker baie goed uitlig. Terwyl die skuld van ’n aangeklaagde bo redelike twyfel bewys moet word, is dit nie nodig om elke item van getuienis wat op skuld dui, bo redelike twyfel te bewys nie. Soos ’n regter in Engeland dit gestel het: “Each piece of circumstantial evidence may have no more than the weight of a feather, but together they can press down on the neck of the accused with the weight of lead.” Dit is juis hier waar Fred se saak elke toeskouer toelaat om sy of haar eie mening oor sy skuld of onskuld te vorm. Geen twee horlosies dui presies dieselfde tyd aan nie, maar elk van ons glo tog sy eie, nie waar nie?

In sy ontleding van die saak neem Altbeker nie gevangenes nie. Die pers, die NG Kerk en His Church, die polisie, die regslui, die regsproses en selfs die regter kom ernstig onder die loep. Tereg, na my mening. Die families lyk ook nie goed nie, maar moenie my vra om goed te lyk as my kind vermoor is of van moord aangekla word nie. In die stof van die arena lê daar vele lyke en swaargewondes, maar ’n enkele Hollander ontsnap darem, die man wat die vingerafdruk op die DVD-houer finaal ontbloot as ’n slenterslag, daardie enkele stukkie getuienis wat andersins skuld bo redelike twyfel sou bewys.

Maar wie het dan vir Inge Lotz so brutaal vermoor? Altbeker beantwoord nie die vraag nie. Die polisie, so lyk dit, soek ook nie verder nie. Die moord was duidelik gepleeg in passie of woede, deur iemand wat vir Inge Lotz só liefgehad het, of só gehaat het, dat hy of sy haar op so ’n buitensporige, gewelddadige en volgehoue wyse van agter aangeval het met meer as een wapen – wat met voorbedagte rade na die toneel geneem is – om haar uit te wis as persoon, om haar finaal uit te skakel as bron van haat, afguns of wraak.

Wie dan?

Nie Fred van der Vyver nie.

Maar tog iemand wat Inge goed geken het, en vir wie sy vertrou het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top