Hy staar deur ’n newel van kruit en kordiet
Na planete wat sink en ’n ster wat verskiet
Lyke vervuil die Sahara-woestyn
Sy wêreld was anders
Ná El Alamein
’n Oordrom wat bars soos kartetse ontplof
En hy stik aan die reuk van bloed in die stof
Skrapnel in sy lyf en stom van die pyn
Maar alles was afdraand
Ná El Alamein
Skuld is die gas by ’n dodebanket:
geen teken van my langs sy hospitaalbed
(ek was sestien en stupid met poes oppie brein)
En hy prewel oor glorie
by El Alamein
Nou groet hy vir oulaas die dolle gejaag
Soos die nag retireer en die wêreld vervaag
Met asem wat hyg en ’n hartklop wat kwyn In sy kop speel ’n movie
oor El Alamein

