Ek onthou die 1940’s - Deel 3

  • 0

Toe my tweede skooljaar aanbreek, het ons na Elliot verhuis. Ek onthou nog die oggend toe ons almal in die blou Dodge Elliot toe is. Dit was die eerste dag van die skooljaar, en my pa sou ons direk gaan inskryf. Ons was egter nog so 4 kilometers buite die dorp, toe ons ’n meisie teenkom wat ook op pad skool toe was. Sy was omtrent so oud soos my suster Elsa. My pa het haar opgelaai en toe het ons verneem dat haar pa ’n bywoner was op die plaas waar hulle gebly het. Sy sou elke oggend die afstand moes loop om by die skool te kom, en dan weer die namiddag terug huis toe. Ek kan nie onthou wat van haar geword het nie.

Elke huis waarin ons in Elliot gebly het, het ’n naam gehad. Die huise is nie so genoem terwyl ons daarin gebly het nie. Dit was latere jare gebruik as verwysing, omdat ons baie verhuis het.

Die eerste een was Bezuidenhout se huis. Hy was die eienaar. Die huis was aan die onderkant van die dorp, trouens die erf was die laaste een aan die suidekant. Daar was net so ’n klein stukkie grond tussen die erf en die plaas van Debroski.

Die was ’n Burgererf en het ’n groterige land gehad waar my pa altyd koring of gars gesaai het. Daar was ook stalle op die erf. Daar was ook oorgenoeg grond vir tuinmaak. My pa het later ’n paar Frieskoeie vir melk aangeskaf. Die melk het hy aan die kaasfabriek so ’n entjie van die huis af verskaf. Dit was my plig om elke oggend voor skool die persoon wat die koeie versorg en gemelk het, te vergesel om die melk af te lewer. Ons het die kanne op die kruiwa gelaai en die melk so vervoer. Hierdie ou swartman het my op ’n jong ouderdom geleer hoe om te melk. Ek moet erken dat die koeie nie altyd so ingenome was met my pogings nie. Een van hulle het my een oggend skoon onder haar uit geskop. Die spantou was ook seker nie ordentlik vas nie. Een van die koeie se naam was Agnes.

My oudste broer Johannes, wie ons Ouboet genoem het, het ’n Jack Russel gehad met die naam van Tiny. Die tipe met die kort beentjies. Dit was ’n oulike hond met baie lewe, soos sy ras maar is. Een naweek het daar egter ’n katastrofiese gebeurtenis vir die hond plaasgevind. Ons is vir die naweek Ugie toe om te kuier. Daar is natuurlik nie seker gemaak dat die hond nie in die huis was nie. Toe ons die Sondagmiddag laat by die huis kom, was die gevolge baie duidelik. Die hond het probeer om uit te kom, en het omtrent elke deurkosyn en vensterraam met sy tande bygekom. Dit het my pa ’n aardige bedraggie gekos om die skade te herstel. Tiny is natuurlik verban na my oom Ben Venter se plaas, waar hy uiteindelik dood is aan slangbyt.

Ons bure oorkant die straat was Oom Fanie Hart en sy gesin. Hy het ’n kleinhandelsaak gehad, net duskant die brug op die Ugie-pad. Hierdie was opregte bure en het baie vir ons beteken, ook in latere jare vir Tant Martha toe sy, Koos en Alet op Elliot gebly het. Die bure langs ons  se van was Nienaber. Ek kan net die tannie en haar twee kinders onthou. Die seun was so oud soos my oudste broer, en die dogter net so ’n bietjie jonger. Sy het my geleer om uintjies te eet. Ons het dit altyd met ’n mes uitgegrou. Die tante het ’n klompie jare later tragies verongeluk. Daar was elke jaar perdesport op die meent so ’n paar kilometers buite die dorp gehou. Daar was Gimkana, en ook wedrenne. Omtrent die hele omgewing se mense het gewoonlik opgedaag vir die dag se sport.

Die tannie het agter op ’n bakkie gery wat meubels vir gebruik by die Gimkana aangery het, om dit vas te hou. Om een of ander rede het sy afgeval en haar nek gebreek.

Soos ek reeds gesê het, die perdesport was elke jaar een van die uitstaande gebeurtenisse in die lewe van die mense van die omgewing. Die Gimkana-gedeelte het bestaan uit verskillende nommers. Penne is in ’n ry in die grond ingeslaan en  die ruiters het dan in groepe van vier of twee saam gejaag en na die penne gesteek. Vir party nommers is lanse gebruik, en ander kere is sabels gebruik. Dan weer is ’n aartappel bo-op ’n paal vasgeheg, en moes die ruiter die aartappel met sy sabel van die paal af kap. Dit moes gedoen word terwyl daar oor ’n lae hindernis gespring word. Verskeie spanne het gewoonlik meegeding.

Die wedrenne was ook van ’n hoë gehalte. Dit was nie net sommer plaasperde wat daarvoor gebruik is nie. Die eienaars het deurlopend aan wedrenne op verskeie plekke deelgeneem.

Daar was natuurlik ook baie sports. Soos gewoonlik op so ’n plek, was daar ouens wat deurlopend lafenis nodig gehad het. So het dit een keer gebeur dat een van die deelnemers nie sy perd se buikgord behoorlik vasgetrek het nie, en toe aan die nommer deelgeneem het waar aartappels in ’n blik gegooi moet word terwyl die perd vinnig galop. Die saal het gegly en met ruiter en al onder die perd beland. Die persoon is baie erg beseer en was vir ’n lang tyd in die hospitaal. As ek reg onthou was dit ‘n oom Van Zyl. My suster Yda was goed bevriend met sy stiefdogter.

Ek kan nie onthou hoe lank ons hier gebly het nie. Dit was egter die ideale plek vir ’n jong seun om groot te word. Die strate was nie geteer nie en die landsgras het op die sypaadjies gegroei, tot amper binne in die straat. Hier het ons te lekker gespeel en mekaar met die gras vasgemaak sodat jy nie kon los kom nie. Dit was net ver skool toe. As my pa by die huis was, het hy ons met die motor geneem, maar hy was die meeste van die tyd nie tuis nie. Hy het as verteenwoordiger vir Sanlam gewerk, en het ’n baie groot area gehad om te bedien. Hy was ’n baanbreker sover dit die versekeringsbedryf in die Noord-Oos Kaap betref.

Die volgende huis waarin ons gebly het, was Stofberg se huis. Die meneer Stofberg was die persoon wat my pa gewerf het vir Sanlam.

Hierdie huis was ook aan die kant van die dorp, maar aan die westekant. Dit was baie nader aan die skool. Dit was ook ’n baie groot erf en my pa se koeie het saamgegaan. Ook het hy nog gereeld koring gesaai. Ons het ook altyd ’n groot groentetuin gehad. My suster Alet is gebore toe ons in hierdie huis gebly het. My pa het vir tant Martha op Ugie gaan haal om my ma by te staan en vir haar geselskap te wees. Sy is nooit weer terug Ugie toe nie, en het vir die res van haar lewe, buiten die tydperk wat sy op Elliot met Koos en Alet gebly het, by ons in die huis gebly.

Soos dit maar met ’n huurhuis gaan, het meneer Stofberg die huis verkoop, en moes ons weer trek. Hy het toe al lankal op Oudtshoorn gebly.

Die volgende huis waarin ons gebly het, was Emma se huis. Dit was vernoem na ’n besonderse huishulp wat by my ma gewerk het.

Die erf was ook groot, maar my pa het nie in hierdie tydperk beeste gehad nie. Ek weet nie of my pa dit verkoop het nie, want ons het later weer melkbeeste gehad. Of my pa hulle net op die meent aangehou het sonder om hulle te laat kalf, is ’n moontlikheid. 

Die huis self was nie baie groot nie, maar die motorhuis was enorm. Daar kon vier motors in staan, twee-twee langs mekaar. My pa het ook die Skietkommando se skywe daarin gebêre.

Hier het ook ’n paar noemenswaardige dinge gebeur. Een daarvan was toe my neef Hennie deur die turksvybos geval het. Die turksvybos het langs die stalle gestaan, en Hennie het bo-op die dak geklim om die turksvye by te kom. Hy het seker te ver oor geleun en deur die bos geval. Hy was behoorlik vol dorings. 

Op ’n ander keer het my suster Miela agter my pa se motor gespeel wat in die straat gestaan het. My pa het haar seker nie gesien nie, en agteruit gery. Die motor het haar omgestamp en sy is ’n entjie saam gesleep. Gelukkig het die wiel nie oor haar gerol nie, en het sy so ’n keel opgesit dat my pa haar gelukkig gehoor, en stilgehou het.

Daar het ’n opgeskote swart seun met die naam van Stefaans by ons gewerk. Wat sy funksie was weet ek nie meer nie. Ewenwel, my broer het iewers ’n windgeweer gekry, en met die spelery het hy Stefaans in die been verwond. My pa het hom dadelik na die dokter geneem, maar dit was nie ernstig nie. Ou Stefaans het nog baie jare daarna vir ons gewerk, vernaamlik in die huis. My pa het ook maar sy dae met die jongklomp gehad. Geen wonder hy wou ons soms almal foeter nie.

Die volgende huis waarin ons gebly het, het my pa gekoop. Die huis het nie ’n naam gekry nie, maar is na verwys na Skoolstraat se huis. Die huis was naby die skool en redelik sentraal geleë.

Aan die een kant was daar ’n vervalle gebou wat vroeër gebruik was as ’n garage. Die plek was nie omhein nie en ek het baie daar gespeel. Daar was verskeie oliekolle waar geen gras gegroei het nie. Daar het ook ’n wrak of twee gelê, asook gebruikte oliefiltreerelemente. Daar was aan die agterkant ook ’n oprit gebou waar die voertuie opgetrek is om aan die onderstel te werk. Dit was dus my eerste kennismaking met besoedeling. Ek weet nie aan wie hierdie perseel behoort het nie. Die deure was egter gesluit en mens kon nie ingaan nie.          

Die gras rondom die gebou was nogal ruig, en ek het besluit on iets daaraan te doen, en het dit aan die brand gesteek. Dit het alles goed gegaan, totdat die vlamme naby ’n aangrensende gebou gekom het. Ek het eers probeer om die vlamme dood te trap, maar verniet. Onder die geterg van Miela het ek huis toe gehardloop en gou ’n emmer gegryp en vol gemaak met water.  Ek het weer na die brand gehardloop (as ’n kind met ’n emmer vol water kan hardloop) en dit wat nog oor was oor die brand gegooi. Ek het dit nog twee of drie keer gedoen, en wonder bo wonder die brand geblus gekry.

Dit was ’n lekker groot huis. Die huis het direk aan die sypaadjie gegrens. Daar was ’n voorstoep met ’n gedeelte wat toegebou was vir ’n ekstra slaapkamer. My oudste broer, Ouboet het hier geslaap. Hy was heelwat ouer as ek en so was ek nie baie welkom om daar in te gaan nie. Daar het sy vriende vir hom kom kuier en dan het hulle musiek gemaak. My broer was ’n kranige ghitaarspeler. Die enigste kere wat ek daar toegelaat was, was wanneer ek die mondfluitjie vir hom moes vashou terwyl hy ghitaar en mondfluitjie speel. Verder was daar ’n paar slaapkamers, ’n groot kombuis, eetkamer en ook ’n groot badkamer, asook ’n sitkamer. Dan was daar agter ook ’n toegeboude stoep, waar ek geslaap het. Aan die noordekant van die huis was daar ook nog ’n slaapkamer, waar my oupa Botha geslaap het. My suster Martha is in hierdie huis gebore. Van al ons kinders glo ek dit was net Martiens wat in ’n hospitaal gebore was. Dit was seker omdat my ma voor sy geboorte ’n miskraam gehad het. My ma se geestestoestand kon miskien iets daarmee te doen gehad het. Gedurende hierdie tydperk het ons nog op Xorana gebly, en my ma het my later vertel dat sy pal in vrees gelewe het, aangesien ons die enigste blankes tussen al die plaaslike bevolking was. Dan moes sy nog bedags alleen by die huis bly met die kinders terwyl my pa by die werk was. Ons is egter nooit gepla nie.

Ons was ’n mooi klompie toe ons in Skoolstraat gebly het. Dit was my ouers met eers sewe kinders en toe agt na die geboorte van Martha, asook my ma se tante Martha en my oupa. Elsa het toe nog by my ouma Pretorius gebly. My ouma het toe ook alreeds op Elliot gebly.

Oorkant ons het Tannie Tauber  (ek hoop die spelling is reg) met haar twee seuns gebly. Haar man was oorlede. Sy en my ma het goeie vriende geword. Die bure aan haar regterkant se van was Bam. Aan die ander kant het ’n ouerige dame gebly, maar ek kan nie meer die van onthou nie. Ek dink dit was Munroe.

By hierdie dame was daar een aand groot sports. Sy het jongmense gehad wat by haar loseer het, en blykbaar het hulle haar baie probleme gegee en sy het besluit om hulle weg te jaag. Dit het ’n groot gewolt afgegee, met die hele straat se mense wat staan en kyk. Die jong mans het ’n groot grap van die hele petalje gemaak.

Dit was terwyl ons hier gebly het dat my pa finaal besluit het om van die beeste ontslae te raak. Sy werk het vereis dat hy vir ’n paar dae op ’n keer weg van die huis moes wees, en dit het probleme veroorsaak. Ek en Koos het een Sondagoggend die opdrag gekry om die beeste na my oom Jan Nel se plaas aan te jaag. Dit was ’n goeie 20 kilometers en het dit ons omtrent die hele dag gevat. Enigiemand wat Koos ken sal weet dat dit nie sonder drama verloop het nie. Hy het die hele ent pad my siel loop en verpes.

Dit was terwyl ons hier gebly het dat ek begin rugby speel het. Ek was seker toe so 8 jaar oud. Ons het kaalvoet gespeel en dit was meer ’n georganiseerde rondjaag van die bal as iets anders. Die bal wat daardie jare gebruik was, was van leer gemaak en baie groter as die hedendaagse.

Wanneer daar nie sport was om aan deel te neem nie, het ons ons vrye tyd in die veld deurgebring. Ons het in die rivier geswem of Ghielemientjies gevang. Dit is ’n klein soort vissie waarvan daar baie in die Slangrivier was. Die stok was ’n kweperlat van so een meter en die lyn van ’n sterk gare. Die hoek was ’n kopspeld wat omgebuig was. Vir aas het ons erdwurms gebruik.

Daar was ’n oom van der Merwe op Elliot wat die pakkette vanaf die stasie na die winkels en ander plekke aangery het. As ons niks beter gehad het om te doen nie, het ons hom gehelp met die op – en aflaai van die goedere net om saam te kan rond ry. Eendag moes sy seun lusern na Lagg, ’n polisiestasie in die distrik, vervoer. Ek het agter op die bak gestaan om te verseker dat die bale nie afval nie. Ek moes ook die hekke oopmaak. Terug by die huis het hy my ’n tiekie gegee. Die enigste keer dat ek iets gekry het. Ons het dit in elk geval nie vir betaling gedoen nie, maar vir die avontuur.

My neef, Martiens Nel het ’n tydlank by ons loseer, en ek het baie naweke saam met hom plaas toe gegaan. Daar was ons ook maar altyd in die veld.

Gedurende hierdie tydperk het ons met die Desembervakansies Port St Johns toe gegaan. Dit was gewoonlik ons gesin, die Thompsons en die Nelfamilie wat gegaan het. Daar is so ’n maand voor die tyd begin met die voorbereidings.

Hier eindig my vertellings oor my vroeë kinderjare. Miskien skryf ek later oor die volgende tydperk.

Dirk Pretorius

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top