Ek onthou die 1940’s - Deel 2

  • 1

My ouers het nie altyd na Umtata gegaan vir kerk nie maar die meeste van die tyd wyksdienste in die omgewing bygewoon. Die meeste hiervan is in Elliotdale in iemand se huis gehou. Ek onthou dat die nuwe, vir daardie tyd, Psalm-en-Gesangeboek by een van dié dienste beskikbaar gestel was. 

Op Umtata het tant Karlientjie gebly. Sy was ’n tante van my ma, en ons het somtyds by haar gaan kuier. By haar het ’n oom gebly wat ’n akkordeon gehad het en partykeer vir ons daarop gespeel het.

Hier op Umtata het ek twee redelike groot ondervindings gehad, altans so het ek altyd gedink. Die eerste was my kennismaking met die spoeltoilet. Dit was nog die soort waar jy ’n ketting moes trek. ’n Ketting is ’n ding wat getrek moes word  en ek maak toe ook so. Toe die water egter met ’n groot gedruis begin spoel, het ek gedink ek is weer in die moeilikheid en het my uit die voete gemaak. Ek het eers later agtergekom dat ek nie iets gebreek het nie.

Toe ons weer ’n keer in Umtata kom, merk ons dat daar oral verbeteringe aangebring word. Van die geboue is opgeknap en sommige van die strate is geteer. Ook die straat voor tant  Karlientjie se huis. Ons het toe verneem dat die voorbereidings vir die besoek van die Britse koningsfamilie getref word.

Die dag van die besoek was ons weer op Umtata. Ons kinders is by Tant Karlientjie afgelaai, terwyl my ouers na die aankoms gaan kyk het. Die stoet is voor die huis verby na die plek van die onthaal. Ek kon die gesin duidelik sien. Dit was ’n oom en tannie wat saam met twee opgeskote dogters in ’n swart oop kar gery het. Vir my het hulle maar redelik ordinêr gelyk en ek kon nie verstaan hoekom daar so ’n ophef van die besoek gemaak was nie. Dit was vir my meer opwindend om my pa se motor tussen al die ander te sien.

Op ‘n ander keer het ons kinders saam met ‘n oppasser na die dorp se speelpark gegaan. Ek het ‘n groot hoed opgehad, en dit het alte lekker gegaan totdat ek op die apparaat geklim het wat al in die rondte draai. Die oppasser het die affere ‘n bietjie vinnig gedraai en daar waai my hoed af. Ek spring van die wiel af om die hoed in die hande te kry en val my amper disnis. Dit was nog ‘n lewensles.

Die paaie in die omgewing, soos seker ook elders, was maar baie swak. Geen van die paaie was geteer nie en ’n motor moes goed wees om te hou. Ons was een oggend vroeg op pad na Oos-London , toe ons skielik oor ’n swart streep ry. Dit was die teerpad vanaf Umtata na Oos-London wat in aanbou was. My pa en die ander oom wat saam met ons op reis was met sy eie motor, besluit toe genoeg is genoeg. Hulle gaan nou teerpad ry. Onder protes van my ma en die ander tannie het die twee mans die versperrings uit die pad gehaal en heerlik begin ry. Dit het goed gegaan vir ’n ruk, maar skielik het die swart streep opgehou. Verder was daar net gruishope en dongas. Die pad was hier ook redelik hoog opgebou, met die gevolg dat afdraai nie so maklik was nie. Hulle het toe maar ’n entjie terug gery en by ’n plek wat nie so hoog was nie, pad gemaak om af te draai.

Anderkant Butterworth het ons op nog padwerke afgekom. Dit is waar ’n mens afdaal tussen die berge deur na die Keirivier. Die nuwe pad het dieselfde roete gevolg as die ou pad, en kort kort moes ons stilhou om die mense kans te gee om hul werk te doen. Op party plekke moes rotse met springstof  opgebreek word, en dan moes ons wag tot die skietery verby is.

Dit was my eerste besoek aan so ’n groot plek en ek het my verstom aan alles, vernaam die bote in die hawe. Ek kon nie toe geweet het dat ek eendag op dieselfde hawe tussen  die hyskrane en bote sou werk nie. Dit is egter ’n ander storie.

Daar was ’n watertekort in Oos-London en water is vanaf Durban met bote aangery. Dit is dan per vragmotor vervoer en in ronde militêre tipe opgaartenks van seil gegooi. Die tenks was op straathoeke geplaas en die inwoners moes dit self daar kom skep. Die tenks was net een keer per dag volgemaak.

Hier het ek ook die eerste keer ’n motorfiets gesien. My ma se broer Piet Botha het destyds op die hawe gewerk in ’n semi-militêre hoedanigheid, en het die motorfiets gebruik om mee werk toe te ry. Hy het deur die luik van een van die bote geval en is erg beseer. Sy besering was die rede vir ons besoek. Sy een been was daarna permanent korter as die ander. Sy besering, tesame met my ma se ander broer, Giens se gevangeneming was vir my ma baie traumaties. Ek dink sy was tot ’n mate verlig dat hy nie meer aan die front was nie.

Ons was nie toegelaat om alleen die bosse in te gaan nie. Daar was te veel slange en ander gevare. My pa het egter so af en toe met ons met die motor langs bospaaie gery.

My pa het meestal te perd gery wanneer hy iewers moes heen om te werk. Hy het gewoonlik sy toebroodjies in sy saalsak gesit. In die saalsak was ook gewoonlik ’n beker en ’n bottel koffie. Dit was nie ’n Termosfles of iets dergeliks nie, maar ’n gewone bottel. Die lekkerste vir my was as daar ’n bietjie koffie oor was en ek dit kan drink. Ek wonder of hy dit partymaal nie spesiaal vir my gespaar het nie. Dit was natuurlik koud, maar vir my was dit baie lekker.

My geheue aangaande die ouer kroos gedurende hierdie tydperk is baie vaag. Daar is net enkele dingetjies wat ek onthou, soos die dag toe ons komberse onder die bome gegooi het om op te sit. Ons sit nog so lekker, toe seil daar ’n slang langs Yda verby. Sy het haar gedaan geskrik, en ’n keel opgesit. Ons uitstappie was natuurlik ook daarmee heen. My pa het later gesê dit was ’n blinde slang.

Nog ’n letsel wat ek van Xorana oorgehou het, is ’n gesplete toonnael.  My pa se werkwinkel was in die skuur waar hy allerhande gereedskap en dinge wat nodig is om herstelwerk te doen, gehou het. Onder andere was daar ’n slypsteen waarop goed soos die byle skerp gemaak is, en ook ’n aambeeld. My pa het somtyds die aambeeld rond gedra om dit te verskuif. Dit was nogal ’n groot aambeeld. Eendag probeer ek toe ook mos om die aambeeld te lig, met katastrofale gevolge. Al wat ek kon regkry was om die aambeeld effens te lig en bo-op my linkergroottoon neer te sit.         

Die ouer kinders was natuurlik meestal weg, en het net vakansies huis toe gekom. Eers was dit net Yda, ek en Miela. Later het Martiens bygekom.  Nog later toe Yda ook skool toe is, was dit net ek, Miela en Martiens. Die ander het dus ’n lewe van hul eie gehad. As ek reg onthou, het ek die jaar voordat ek skool toe is, ook vir ’n tydjie by tannie Martha gebly. Ek weet nie wat die rede was nie. Ek kan verkeerd wees hieroor. Iets wat my egter nog deur die jare bygebly het, was ’n besoek van een van my ma se vriendinne. Dit was ’n koel namiddag. Toe sy loop het sy die volgende versie vir my opgesê:

Wintjie, jy kom van die ver blou see

Bring jy groete van my Mamma mee?

Dit is natuurlik ’n verbastering van die eerste twee reëls van die gedig “Boeta” deur H A Fagan.

’n Kind bereik natuurlik die tyd wanneer sy sorgvrye bestaan tot ’n einde kom en hy moet skool toe. Aan die begin van 1947 is ek dus ook  Ugie toe om my skoolloopbaan te begin. Dit was die naaste Afrikaanse skool, en my twee ouer broers en twee susters was alreeds daar. Dit het die skeiding met my ouers redelik vergemaklik, maar ek was glad nie ingenome nie. Ek en my twee broers het by Tant Martha, ’n oujongnooi-suster van my ouma Botha gebly en my twee susters by ouma Pretorius.

Ek onthou nie veel van my eerste skooljaar nie, buiten dat daar op Ugie ’n Kinderhuis was en ons saam met die kinders skoolgegaan het. Daar was een besondere seun wat altyd in die moeilikheid was en omtrent elke dag ’n besoek aan die Hoof moes bring. Nou dat ek kan terugkyk glo ek dat hy ’n baie ongelukkige kind was wat miskien deur baie trauma moes gaan.

My onderwyseres was juffrou Albertyn. Ek weet nie hoekom ek dit nog al die jare onthou nie, miskien omdat sy  altyd vir ons mooi stories gelees het. Dit tesame met speel was omtrent al waaruit my eerste skooljaar bestaan het. Nie dat daar nie ook drama was nie. Op tant Martha se erf was ’n paar akkerbome, en ek het gewoonlik smiddae onder ’n een gespeel. Ek het ’n karretjie present gekry en was een middag weer aan speel, toe my broer Koos saam begin speel. Ek het stokkies gehad waarmee ek ’n pad uitgelê het. Die handbyl was ook daar en Koos het van my stokkies begin middeldeur kap. Ek was nie geneë daarmee nie en het dit probeer gryp. Die byl het my linkermiddelvinger in die lengte getref, en erg beseer. Die been is totaal vergruis.

Stel jou voor hou ’n konsternasie dit veroorsaak het. My ouers was myle ver en daar was geen telefoon of motor nie. Ouboet het my op sy rug gelaai en afgesit na die dokter, seker so twee kilometers ver. Daar aangekom was die dokter uit in die distrik, met net sy ontvangsdame / verpleegster in die spreekkamer. Sy het die vinger toe sommer net so toegedraai en gesê dat ons die volgende dag moes terugkom. Die rit op ouboet se rug het ’n daaglikse instelling geword, totdat die dokter tevrede was. My vinger is vandag nog skeef en korter as wat hy moet wees. Daarby kan dit ook nie buig nie. Koos verwyt homself tot vandag toe oor die voorval. Ek het al feitlik daarvan vergeet. Ek word net bewus daarvan as ek dit sien, of as ek iets in die hand wil vashou.

’n Ander voorval wat ek goed onthou, was toe die Kinderhuis se water opgaartenk ineengestort het. Dit was ’n stellasie wat bestaan het uit ’n vierkantige tenk wat seker so vierduisend liters water kon hou. Dit was bo-op spoorweg dwarslêers wat regop staangemaak was, gemonteer. Ek kan nie onthou hoe dit verder gestut was nie. Ewenwel, die stellasie het eendag inmekaar gestort en jy het net water gesien. Vir ons kinders was dit natuurlik ’n hele aardigheid. ’n Nuwe stellasie is aanmekaargesit, maar ek kan nie onthou hoe dit gelyk het nie. Ek glo dit was heelwat stewiger. 

Tant Martha het ’n groot erf gehad, seker wat mens vandag ’n Burgererf sal noem. Daar was baie vrugtebome, vernaam appel, pruim en perske. Sy het ’n gedeelte van die erf elke jaar laat omploeg en mielies laat plant. So was ek nog altyd naby die natuur.

Op die dorp was daar nog ’n Grofsmit. Ons kinders kon onsself verkyk hoe die metaal verhit word en in verskillende vorme gesmee word. Die oom en sy helpers het ook baie kere wiele gekort. Om dit te doen word ’n segment van die staalband verhit en dan word ’n seksie deur middel van ’n beitel en hamer uitgesny. Die ente word dan weer aanmekaar gesmee, weer deur verhitting om dan met voorhamers gekap te word totdat die las gevorm is. Daarna is die band weer eweredig in ’n vuur verhit tot die regte temperatuur en met tange gelig en om die houtfelling geplaas. Laastens is dit met water afgekoel.

Daar was toe nog nie elektrisiteit op Ugie nie. Ook nie spoellatrines of lopende water nie. Dit het ons egter nie gepla nie, want ons was dit so gewoond. Op beste is paraffienlampe gebruik as daar boeke gevat was of  met etenstye. Verder is kerse gebruik.

Die emmerstelsel was vir my egter iets nuuts. Op Xorana het ons nog die tipe gehad waar ’n gat in die grond gemaak was, waaroor ’n huisie met sitbank geplaas was.

Hier op Ugie het die nagwa, soos dit algemeen bekend was, bestaan uit ’n vierkantige houer wat bo-op die wa gemonteer was. Die afval is dan daarin gegooi.

Ek dink die unieke ontwerp het daarmee te doen dat die nagwa vroeër omgeslaan het en die hele wêreld bemors het. Die ongeluk het gebeur deurdat die wa in een van die stormwaterslote wat algemeen in die dorp was, beland het. Die ontwerpers het seker bedink dat ’n ongeluk met hierdie wa nie weer so ’n ernstige gevolg sou hê nie. Die aflaai was seker ook makliker.

Tant Martha se huis was naby die kinderhuis (MTR Smit Kinderhuis), en die kinders het baie keer onder toesig in die straat verby gekom oppad na die kinderhuis se plaas. Dit was gewoonlik ’n groep van so 20 kinders wat ’n Skotskar getrek het. Vir die wat nie weet nie, ’n Skotskar is ’n tweewielwa met ‘n disselboom, en word gewoonlik deur twee osse getrek. Dit was gewoonlik op Saterdae wanneer hulle vroeg uit is om op die plaas te gaan werk. Hulle het dan weer so teen die middag se kant teruggekeer met groente wat vir die kinderhuis bedoel was.

Oor die algemeen glo ek die kinders is goed behandel. Hulle was altyd skoon en netjies, hoewel die klere nie altyd goed gepas het nie. Hulle moes seker maar aantrek wat beskikbaar was. Hulle het egter altyd aan loopneus gely.

Daar was verskillende hostelle en elkeen het sy eie ouerpaar gehad. Die een ou omie was nogal befoeterd en ek het op verskeie kere gesien dat, as die seuns nie gou reageer op sirenes nie, hy hulle jaag met ’n sweep. Ek weet nie of hy hulle ooit geslaan het nie, maar ek kon die sweep hoor klap. As ek reg onthou was sy van ook Pretorius.

Wat van die kinders geword het wat hier gehuisves was, weet ek nie, maar ek glo dat daar baie goed uit Ugie se kinderhuis gekom het. Die kinderhuis was trouens gestig deur Ds. Smit om na die weeskinders uit die Afrikaanse gemeenskap om te sien. Ek weet egter van dr Sollie Ozrovech en die sangers Frans en Sannie Briel wat hier grootgeword het en baie goed aangepas het. Dr Sollie het seker een van die NG Kerk se bekendste predikers geword. Ek het die voorreg gehad om ’n paar jaar later sy eerste diens op Elliot by te woon, kort nadat hy in die amp beëdig was. Die behandeling van die kinders het latere jare baie verbeter, en hulle is in kleiner groepies onder ’n ouerpaar ingedeel.

Ugie is in ’n idilliese omgewing aan die voetheuwels van die Drakensberge geleë. Dit is graswêreld met heelwat natuurlike bos. Aan die noord-ooste kant van die dorp is ’n losstaande berg  met die naam Prentjiesberg. Ek het as kind gedink die naam verwys na die mooi uitsig, maar moes as volwassene hoor dat dit verwys na Boesmantekeninge in die berg.

Daar het heelwat Skotse immigrante in die omgewing gevestig. Ugie is self ’n Skotse naam, en dan is daar nog Kincardine en Maclear. Baie plaasname in die omgewing het ook ’n Skotse oorsprong, soos ook Feltham, Elburg, Merlen, Ryno en ander.

My ouers het gedurende my eerste skooljaar ook na Ugie getrek. My pa het by Sanlam aangesluit en moes vir ’n tydlank op Ugie werk voordat hy na Elliot verplaas is. Die trek na Elliot het gedurende daardie Desember plaasgevind.

Buite Ugie is daar ’n koppie met ’n klipgroef waar sandsteen gemyn is vir bouwerk. Ons kinders het ’n keer of wat saam met my ma daarheen gegaan vir ’n piekniek en uitstappie. Ons kinders het te lekker in hierdie klipgroef baljaar, en heelwat klippe opgetel met die afetsing van varings en ander plante daarop. Ons kon nie verstaan hoe die plante in die klip kon kom nie. Die wetenskaplikes het deesdae baie verduidelikings daarvoor.

Ons het ook ’n paar keer rivier toe gegaan en dit is waar ek geleer het om ’n plat klip te gooi sodat dit oor die water spring. Die een wie se klip die meeste spronge maak, het gewen. Daarvoor was ’n klip met die regte vorm en grootte belangrik, asook die hoek waarmee die water getref word.

Ek onthou so ’n bietjie van 1948 se verkiesing. Tant Martha het die oggend dorp toe gegaan en vir my gesê dat wanneer sy terugkom, sy die landsvlaggie sou swaai. Ek het nie verstaan wat aangaan nie, en met my speletjies voortgegaan.

’n Ander keer het ek amper ’n ongeluk veroorsaak. Tant Martha se huis was teen ’n redelike skuinste gebou. My pa het sy motor voor die hek in die straat parkeer en hy is toe met iemand anders saam iewers heen. Grootmeneer wat ek is, klim ek in die motor en maak die handrem los. Ek het die motor ook seker uit rat gehaal, maar ek vermoed dat dit in derde rat was, anders sou die motor sekerlik aan die hardloop gegaan het. Ewenwel, die motor begin teen die afdraande af beweeg. Ek probeer toe weer om die handrem op te trek, maar ek was seker te swak of te dom om dit te doen. Een van my niggies het toe daar aangekom en my uit die verknorsing gehelp. Ek het die deur al oop gehad en het langs die stadig bewegende motor geloop terwyl ek die handrem probeer optrek. My pa was nie baie ingenome toe hy tuiskom en sy motor halfpad in die straat af  kry nie.

  • 1

Kommentaar

  • Beste Dirk

    Baie dankie vir hierdie stukkie persoonlike geskiedenis. Dis wat ek "suiwer geskiedenis" noem, omdat dit is soos 'n mens dit persoonlik ervaar het, sonder enige druk om aan die feitelikheid daarvan te peuter.
     
    Die geskiedenis wat ek op skool geleer het, staan in direkte kontras met die geskiedenis wat my laatlam nou op skool leer. Dit beteken dat iemand êrens lieg. Ek noem hierdie soort geskiedenis "ideologiese geskiedenis", want die regering van die dag wil die kinders opvoed volgens hulle eie ideologiese doelwitte. Watter regering die meeste lieg is natuurlik 'n oop vraag, en ek raak nooit in sulke bespiegelings betrokke nie. Dit is nooit opbouend nie.

    Jou skryfstyl is gemaklik en lees baie lekker. Dankie daarvoor!

    Net vanoggend by Binnelandse Sake het ek met 'n bejaarde Indiër gestaan en gesels. Hy het in 1943 Suid-Afrika toe gekom, en het vandag nog nie burgerskap nie. Hy het my van die 1947-besoek van die Britse Koninklike familie vertel, en dat hulle by die Marabastad Indian Boy School 'n besoek afgelê het. Hy het vandag nog 'n beker wat die besoek gedenk.

    As Pretorianer en Bosvelder het ek nooit die Ooskaap leer ken nie, totdat ek kruis en dwars daardeur moes reis vir 'n projek wat ek vanaf 2001 tot 2003 by betrokke was. So ek herken baie van die name wat jy hierbo noem. Maar helaas, baie van die plekke is vandag gladnie meer so idilies en mooi soos wat jy dit uit jou kinderdae herroep nie. Soos byvoorbeeld Butterworth. Ek beplan 'n skrywe juis oor my Ooskaapse reis wat ek hopelik hier op LitNET sal publiseer.

    Beste wense

    Sandvelder
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top