Ek mis jou

  • 4

Nog ‘n jaar is verby
en die verterende seer gaan nie weg.
Ek staan voor jou graf met ‘n patetiese kaartjie
wat woorde kots uit Hallmark se pen
en ‘n bossie blommetjies wat fokol beteken.

"Praat met my, Pa,
sȇ iets vir oulaas!"
krap ek ou wonde oop
met stomp vingernaels.
Ek byt op my lip tot ek bloed proe,
want ek weet – nie die trane op my wange
of die snot op my bolip sal jou kan terugbring …

Ek lees jou grafsteen voor ek wegdraai
terwyl die wind huilend vir my lag
en met ‘n stem wat ek skaars herken as my eie
is al wat ek uitkry:
"Ek mis jou …"

  • 4

Kommentaar

  • Chris-Marie, wat jy hier met ons deel, het baie van ons al meermale ervaar. Die brandpyn van liefde vir iemand wat ons verloor het en vir wie ons dit nie nou meer kan wys nie, skroei die siel flenters. Met die dood van 'n geliefde verloor jy 'n stuk van jouself - van jou menswees - van wie jy is. Die leemte word nooit regtig weer gevul nie. Die letsel word soms net effens draagliker - maar soms nie. Baie van ons het skuldgevoelens oor verspeelde geleenthede om liefde of dankbaarheid te betoon terwyl daardie geliefde nog met ons was. Ons sukkel ongelukkig nog steeds om, wat ons lewende geliefdes betref, daagliks daadwerklik iets daaromtrent te doen. Maar gaan kuier gerus weer vir jou pa - dalk hou hy jou van ver af dop en miskien glimlag hy tevrede as hy jou opregte gemis op die rukwind hoor aanwaai. As jy hom regtig mis sal jy hom vir altyd mis - dit is soos dit maar is.

  • “Death leaves a heartache no one can heal, love leaves a memory no one can steal.
    From an Irish headstone”
    ― Richard Puz, The Carolinian

  • Hierdie is baie hartseer. Het skoonpa onlangs gegroet. Paar vriende langs die pad. Mens wil nie eers dink aan jou eie ouers nie. Dit is nie 'n "probleem" wat mens ooit kan "oplos" nie. Durf ek sê dis goed geskryf?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top