Ek is nog hier

  • 4

Foto: Canva

Ek is nog hier

Ek sit weer alleen in my kamer,
die lig van my skerm is blouer as die oggend.
My hande bewe oor woorde wat niks sê nie,
en ek wonder of môre regtig saak maak.

Ek’s moeg,
moeg van probeer, moeg van glo,
moeg van asemhaal as dit net brand.
Dis asof ek in water loop
en elke tree sink dieper.

Ek het met God gepraat,
nie hard nie, net stil in my kop
gevra of Hy nie net kan verstaan
dat ek nie meer wil nie.
Maar Hy hou my nog vas,
met hande wat ek nie kan sien nie,
en sê niks,
maar ek voel tog iets bly.

Ek staan al vyf jaar voor die drempel van die hek,
die hek wat warm vlamme oor my lyf was.
In my drome waarsku jy
Dat net jy lewe kan gee en wegneem
daarom dink ek steeds Hy’s wreed,
dat Hy my net los moes laat gaan.
Maar dalk, net dalk,
hou Hy my vas omdat daar nog
’n stukkie lig êrens in my lê,
soos ’n vonk onder koue as,
wat Hy nog nie wil laat doodgaan nie.

En ek weet nie hoekom nie
maar vanaand, net vir nou,
sal ek nog asemhaal.

  • 4

Kommentaar

  • Briljant geskryf. So diep, dit laat dat mens weer en nóg 'n keer wil lees. As ek maar net só kon skryf, sou ek 'n 100 jaar wou leef.

  • Johan van der Merwe

    Mooi gestel en daar is 'n liggie al is hy flou, jou eie liggie wat sterker word, daarom sê jy dit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top