Ek gaan Johan Anker verkeerd bewys!

  • 0

In Johan Anker se resensie van Die blou van ons hemel stel hy dat "elke leser self sal moet bepaal". Dit is dan juis hoekom lesers die resensie lees – sodat hulle inderdaad nie "self" sal hoef te bepaal nie, maar die resensent, Anker, se opinie kan volg.

Die opskrif van die resensie insinueer dat die skrywer, Quintus van der Merwe, goed vertroud is met al die elemente van 'n spanningsroman en dat dit ook inderdaad dié genre van die boek is. In die openingsparagraaf blyk dit dat Anker homself weerspreek deur die gebruik van die woordjie "probeer". Dat van der Merwe probeer om die elemente in die roman in te werk maar nie daarin slaag nie, volgens Anker – hierdie afleiding moet die leser van die resensie egter self maak omdat Anker dit nie duidelik stel nie.

Anker neem ook aan dat die lesers van sy resensie vertroud is met allerhande ander literêre werke wat veroorsaak dat hy sy resensie beperk en nie toeganklik vir die gemiddelde leser maak nie. Ek het ook glad nie die titel geassosieer met enige iets totdat Anker dit gestel het dat meeste lesers dit sou assosieer met patriotisme teenoor Suid-Afrika. Gebeure in Die blou van ons hemel word ewekansig opgenoem sonder dat die leser enigsins vertroud is met enige van die karakters of die verloop van die verhaal. Al wat ek as leser daarna weet is dat daar 'n Land Rover deur 'n garagedeur ry na 80 bladsye ... Ek neem ook aan dat Ruben die hoofkarakter is?

Die resensie is vol onsamehangende inligting oor die spanningselemente van die roman, maar daar is geen basiese beskrywing en opinie van die resensent se kant af nie. Is daar nie 'n basiese resep vir resensie skryf soos dié van hygromans nie? Wat egter verblydend is, is dat ek wel die boek gaan wil lees na dié resensie. Net sodat ek Anker verkeerd kan bewys en 'n tipe bekoring in Die blou van ons hemel vind.

Thelmé van Zyl

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top