Ek dog Help gaan my help

  • 0

Ek dog Help gaan my help  

Ek staan langs my tas. Dit het my gehoorapparaat in, sien. En in die tas is ook my pille. Wit driehoekige pille; diep onderin.

Óm my is voertuie geparkeer. Drie rye langs mekaar; ses rye agtermekaar.

Nou wat nou? Wat het Anna gesê? Vra Help. Vra Help. Vra Help. Drie maal in ’n ry en toe sê sy want sy kannie meer nie sy’s klaar met Help en toe hou sy my aan die skouers en sê: “Herman Pieter Willemse, kyk in my oë. Vra vir Help as jy vashaak.”

’n Vrou kom aangestap. Miskien gaan sy my sê waar die vliegtuig is. Sy trek haar swart aktetas klikke-klikke oor die plaveisel. Vier-maat, twee note per sekonde. Sy kyk vinnig op haar horlosie. Miskien is sy ook laat. Haar romp en onderrok maak swish as haar bene teen mekaar skuur nes Matrone s’n. Sy sal my sê waar die vliegtuig is. Dit moet sy wees. Anna het drie maal gesê Herman Pieter Willemse vra Help; jy sal sommer weet wie om te vra.

“Skies . . .  is jy Help?” vra ek en kyk haar in die oë. Sy het nie mooi oë nie. Hulle het gif in wat haar velkleur verander na dood se wit. Soos Frederik s’n.

Die vrou swenk met haar klikke-klikke tas en haar klop-klap skoene om óm my te loop. Ek glo dit nie!

Ek vryf my hand oor my voorkop en tree nader na haar.“Ek weet jy’s Help en Anna het gesê jy moet my help . . .  “

Sy steek vas. Die klap-klop hou op en die klikke-klikke nog net een keer klikke en toe sê sy iets van sy skuld my nie die time of day nie.

“Ek wil nie weet hoe laat dit is nie. Waar is die vliegtuig?” vra ek. “Anna het gesê jy sal my sê waar’s my vliegtuig”

Sy hou ’n ronde blink stuk geld vir my.“Now leave me,” sê sy.

“Ek lief jou ja, maar Anna het gesê jy sal my sê waar die vliegtuig is.”

Maar klikke-klikke en klap-klop begin sy weer stap. O, oukei, sy gaan my wys. Ek trek my tas aan die leerbelt regop en swaai dit oor my skouer.

“Wag, ek kom!” roep ek en loop vinnig agter haar aan. Sy hou aan omkyk of ek nog kom. Sy weet seker my vliegtuig wag en ek is laat. Dit maak my bang. Anna het gesê. . .

“Leave me alone!” skree die vrou met die oë wat se gif haar vel so wit maak.

“Kannie, Help. Ek lief Anna en mMtrone en Ben ook. Maar ek lief jou saam met hulle en jy moet my wys waar die vliegtuig is . . . “

Sy begin hardloop klikke-klikke-klikke-klikke klap-klop, vier mate per sekonde soos happy birthday by die Wimpy en ek hardloop ook. Help weet seker ek is laat en wil my vinnig daar kry. Sy sukkel om te hardloop met haar tas. Ek sal haar tas moet dra as ons nog vinniger wil hardloop.

Ek haal haar maklik in al is ek lomp.

Ek vat haar tas. Sy is toe nie so sleg nie want sy sê “No! No!” en ek sê “Ja oukei, ek vat nou,” en toe skree sy “Sikjooritieeee!” net soos Matrone daai dag en toe weet ek hier’s moeilikheid en gaan sit ek vinnig plat op die plaveisel met my kop tussen my knieë en hou my hande uit soos Matrone vir my gesê het dat hulle my arms kan vasmaak en ek wens hulle wil net lat ek my driehoekige pilletjies uit my tas haal wat met die leerbelt vasgemaak is diep heel onder in.

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie

Lees die ander inskrywings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top