
Foto: Canva
Arrogant in jou chaos, gebrand in my geheue
Sit jy geflits in die herinnering, wat kom vat, wat kom gee:
Jou kurwes, geraam in die halflig van die Kaap,
Wat in die holtes van my hande sit soos
Iets, iemand, in my eie verbeelding opgemaak;
Jou woorde, gespel op die flits van ’n foon,
Wat rigting en bevryding bied
Asof insig in jou vingerpunte woon;
Jou mond, ’n ooskusmaan in die skemer,
Wat woordloos, en om die beurt, pleit en beloof
En fluister van “verlossing” tussen lippe wat bewe;
Jou omgee, gespalk in die reg, die verkeerd,
Wat telkens skuldgevoel en sondelas
Verruil met opwinding so om die beurt
Jou hande, verkenners van my lyf,
Verstrengeld in my hare vergryp
Soos my gesig teen jou heupe afskuif;
En ons ritme, in die nag ’n metronoom;
Waar ons lig en donker, die goed, die sleg
Verweef tussen fluisters wat net in ons harte woon.
En soos die Kaapse winterson weer haar slaap soek in die see
Vind ek jou arrogant in jou chaos, gebrand in my geheue.

