Ek het Port Elizabeth leer ken toe ek Wanda ontmoet het. Saam met haar is ek gereeld soontoe om vir haar pa te gaan kuier, en eintlik kan ek nie glo dat ek vir so ’n lang tyd onbewus was van al die pragtige plekke en vriendelike mense van die Baai nie.
Elke slag wat ons soontoe gaan, jaag ons verby die Nieu-Bethesda-bordjie en wonder hoe dit daar lyk. Sal dit ’n interessante oornagplek wees? Ongelukkig is ons elke jaar haastig om by haar pa uit te kom, want die vakansies is spesiaal, maar kort. Ons voorneme is altyd om ééndag te gaan inloer by Nieu-Bethesda.
Twee jaar gelede is Pa of Pappa (of eintlik Oupa, want so loop dinge mos) egter skielik oorlede. Ek het eers gedink dit sal lank neem voor ons weer hierdie pad aandurf, maar hier is ons en die keer volg ons die groen bordjie na die dorpie met die vreemde naam.
Daar is twee paaie wat mens kan neem tot in Nieu-Bethesda. Die een wat ons kies, lê grondpad deur die Sneeuberge. Dit vloei soos ’n stofrivier tot in die dorpie. Johannesburg se jaaglus is nog in my, en ek soek instinktief na die gastehuis. Mens moet weet waar jy bly.
Dan bekruip die rustigheid my soos ouderdom. Skielik hoor ek nie meer die videospeletjies en bakleiery agter my nie, ek verkyk my aan die huisies en die kinders in die strate.
Ek was nog nooit in Kuba nie, maar ken dit deur Hemingway se beskrywings en allerhande foto’s wat in my kop is. Nou hoekom dink ek aan Kuba? Is dit die vreemdheid van die naam? Nieu-Bethesda is alles behalwe ’n besige plek, met ritmiese musiek wat jou meevoer na ’n ander era … en daar is dit.
Hier het Tyd besluit om bietjie stil te staan, skoene uit te skop en sy kop in die skadu van ’n klip langs die stroom te gaan neerlê. ’n Klip wat dalk tuiste kan wees vir ’n dinosourus.
“Wanneer gaan ons na fossiele kyk?” wil ’n gedagteleser agter my weet.
“Ons gaan eers na die Uilhuis toe en moenie my weer vra wat dit is nie, ek weet self nie. Ons sal sien as ons daar kom.”
“Maar wat gaan ek en Ruan doen?”
“Seker maar saamgaan?” help Wanda my.
Dan is ons in Millerstraat, en ek sien die ou watertoring wat in ’n blyplek omskep is. Ek besluit om eers te gaan aflaai.
Die volgende twee dae rol verby, pragtig volgepak met interessanthede. By die Uilhuis verkyk ek my aan al die grys standbeelde met kleurvolle glasoë en probeer om te verstaan wat in Miss Helen se kop aangegaan het.
Wat maak dat ’n mens jou lewe daaraan toewy om figure uit sement te maak? Uile, wyse manne en kamele baklei vir staanplek. Hoe leef mens in ’n huis vol gekleurde vensters?
Dis weer vir my opvallend hoe mense van mekaar kan verskil; hoe kranksinnigheid en briljantheid dieselfde ding kan wees, afhangend van met wie se oë jy kyk. En deur watter kleur glas.
“Hoe is sy dood?” wil Werner weet.
“Sy het ’n suur gedrink,” antwoord die gids.
“Sy kon net ’n basis saam met dit gedrink het, om haar te red.”
Die gids bars uit van die lag, maar Werner is tevrede dat hy darem iets wat hy in Natuurwetenskap geleer het, kon gebruik.
Toe ons die Uilhuis verlaat, loop ek my vas in Che Guevara. Wat is dit nou weer met Kuba? Hy is ongeveer my ouderdom, langerige hare, kortbroek, lang kouse en ’n swart baret. Onder sy linkerarm knyp hy ’n groot, bruin koevert vas.
“Jammer…” mompel hy en stap daar weg, dubbel so vinnig as die res van die dorp.
Ons staar agterna en Wanda vra saggies: “Wie dra ’n baret?”
Ek trek my skouers op. “EFF, maar hulle s’n is rooi.”
Hier is ook ’n breë pad tussen mense wat baie het, en niks nie. Is dit hoekom Che hier ronddwaal?
Buite die Uilhuis wag Jakob se donkiekar. Buiten vir die feit dat dit ’n regte, egte donkiekar kar is, kan jy alles oor die dorp by Jakob hoor. Van Atholl Fugard se huis tot antie Evelyn se restaurant aan die anderkant van die breë pad.
Party digters sal hulle lewens leef sonder om ooit iets neer te skryf, en Jakob het so ’n manier met woorde. As hy met jou klaar is ken jy sy vrou, al het jy haar nog nooit ontmoet het nie. Selfs die donkies voel soos familie.
Later die middag maak ons ’n draai by een van die restaurante. Che staan by die houtkroeg en loer na iets in sy whiskyglas, en ek stap ook nader om iets daar te kry. Langs hom, op die toonbank, lê die bruin koevert. Hy skrik effens toe hy my raaksien.
“Ek … ek wag vir iemand hier.”
“Middag,” groet ek maar en loer na die yskas agter die toonbank. Daar is van die plaaslike brouery se biere te koop.
“Kan ek help?” vra ’n vrouestem. ’n Kelner van die restaurant het kom red.
“Twee lagers, asseblief.”
Ek merk op dat Che se oë rooi en dik is, soos die stempel op sy koevert. Het die huilery met die koevert te doen, of met die leë glas? Dan tel hy sy koevert op, en marsjeer daar weg.
Terug by die tafel sê Ruan ingedagte: “Ek wonder watter bynaam sou oupa hom gegee het?”
Op daardie oomblik besef ek dat Nieu-Bethesda nog steeds op die pad na die Baai toe lê, en dat die gedagtes aan oupa in die vlakwater dryf, onder die oppervlak maar helder. En dan, as jy op ’n plek soos die kom, kan jy eenvoudig nie help om te dink hoe hy die dorpie sou geniet het nie. Grappe, boeke, gesigte, byname, karoo-kos, kaas, leivore, grafte.
Skielik sien Wanda hom oral raak en besef dat sy hom nooit hierheen sal kan bring nie, maar sy wys vir hom in haar gedagtes.

