Een swaeltjie maak nie ’n somer nie

  • 2

Dit was haar oë wat my eerste opgeval het. Groenes. Nes myne. Dieselfde groen as my ma s’n, en dié van haar ma voor haar. Katherine, of Katie soos sy genoem wil wees, aan hierdie kant van die oseaan op ’n klein eiland wat ons die Britse Ryk noem, en ouma Bettie in my geboorteland het dieselfde groen oë.

Ek het nie my ouma Bettie so goed geken nie. Seker dié dat ek soveel deernis het met die ou dame wat ek kom oppas het. Sy herinner my aan my eie ouma. Sekerlik nie in postuur nie, maar as gevolg van daardie deurdringende blik van die ingesonke groen oë in die geplooide gesig wat na my kyk. Wanneer sy op ver paadjies van verlange terugloop, kry die oë weer ’n glinstering, en léwe die oumensgesig van herinneringe. Om haar gesig só te sien ophelder, maak my oppassery die moeite werd.

Dis laataand. Storietyd vir Katie en haar oppasser. Ons sit voor ’n elektriese kaggelvuur met nagemaakte kole wat gloei op die plek waar die oorspronklike vuurherd was. Vier-en-negentig jaar se plooie en voue op die trotse gesig waarin verhale skuil. Ek sien hoe herinnerings soos vlieswolkies oor haar groen retinas skuif, soos gebedskrale een vir een reggeskuif, stadig in die gedagtes opgevryf en dan in storievorm uitgestring word. In die flikkerende vlamme van die kaggel kan ek die nostalgie sien dans.

My gedagtes loop terug op voetpaadjies van my eie kinderdae, die koue winters van my geboortedorpie teen die Vrystaatse voetheuwels van die Maluti’s. Knus teenaan die koolstoof  se lang skaduwees sit die grootmense laataand en kuier om die kombuistafel. Vanaf my voetstoeltjie teenaan die koolstoof gooi die groot greinhouttafel groteske skadu’s teen die mure en weef die grootmensstories aangrypende tapisserieë en sketse wat die verbeelding aangryp. Ek sit oopmond en luister na verhale van oorlog en swaarkry, die Depressie en die republiek. ’n Koue krieweling loop teen my ruggraat af. Het ouma Bettie werklik as kind die oorlog beleef, die konsentrasiekampe oorleef?

My eerste tasbare kennismaking met oorlogmemento's is as vyfjarige kind. My kinderspeelplek aan die voetheuwels van Platberg, wat bokant my geboortedorpie uittroon, gaan op ’n uitstappie met die grootmense verken word. Ma wil my amper nie laat saamgaan nie. Gertjie begin dadelik spot: “Wêlakepêla, ou kieriebeentjies kan nie saamgaan nie!” Maar Pa betig: “Stop die geterg. Sy draf heeldag op die werf agter al wat mens en plaasdier is aan. Sy is erger as ’n ribbokkie.

Die klim was ver en ek is moeg toe ons bo-op Platberg se kruin voor twee reusegranietrotse staan. In bykans gewyde stilte word die gepakte klipmure voor die twee rotskoepels as eertydse skuilings van Boerekrygers uitgewys. “Maar Pappa, waarom het hulle dan hier weggekruip?” vra ek.  Ons skuifel een vir een in die skeur tussen die twee massiewe rotsblokke in, net wyd genoeg vir man en perd, al hoe dieper die skaduwees in. Hier sou sekerlik twintigstuks of ’n klein verkenningskommando kon skuil of wegkruip vir die Kakies. Ek tower beelde op van jong mans saans op wagdiens agter die klipmuur aan’t uittuur oor die vlaktes, of met hul boerperde dieper binne die “perdestal” rondom ’n vuurtjie vir koffie of kos.

As ek ’n halwe eeu later die stories opdiep en op ’n koue wintersdag in Wallis luister na die Britse weergawe van ’n ander groenoog vrou wat familie na die oorlog in Suid Afrika gestuur het, voltooi ons ’n volle sirkel tussen Boer en Brit: dié Boeremeisie beleef al twee kante van ’n oorlogsverhaal.

Dit is seker heel moontlik dat ons families nes Boer en Brit tydens die oorlog oor die loop van ’n geweer na mekaar gestaar het? Katie was die dogter van kolonel Grenfell, en haar man, Patrick, ‘n afstammeling van generaal-majoor Shoubridge. Ouma Bettie se pa, veldkornet Moolman, het in die uitgerekte guerrilla-oorlog in die omtrekke van die Oos-Vrystaat die optog van Kitchener na Pretoria gestuit. 

As ouma Bettie vertel van die noodlottige dag toe haar ma met die drie kinders vanaf die Vrystaatse familieplaas moes vlug, hang ons kinders behoorlik aan haar lippe.Malgas, die getroue voorman, het te perd vooruitgejaag na haar pa se kommando langs die Wilgerivier. “Oubaas, oumiesies en die kinders is op pad met die kar en perde. Die Kakies het gekom in die nag!” 

Vlakplaas se statige sandsteenhuis staan in vlamme. Grootjie Moolman en die drie kinders sien beangs hoe die vlamme opslaan teen die horison terwyl hul met die kapkar in die donker na die bure se plaas ontsnap. Die geloei vanuit die beeskraal is soos ’n wrede voorspel van Kitchener se Geskroeide Aarde-beleid van 1901 vir Vrystaatse krygers se huis en haard.
Ouma Bettie is drie jaar oud. Vir ’n volle jaar lank trek die dapper vrou en kinders saam met die krygers in die omtrekke van die skermutselinge rond voor hulle gevange geneem word. Die konsentrasiekampe is hul voorland – eers Standerton en toe Meerbank. Pietie Levras word hier gebore en ’n skamele tien maande later staan hul langs sy graffie in die rooi grondvlaktes, een van die 27 000 vroue en kinders  wat in konsentrasiekampe gesterf het. Al hul plase en besittings lê in puin.

’n Boer. Sy plaas. Onafskeidbaar. Selfs ek, wat ligjare verwyder van familiegrond woon en werk, voel hoe my hartsnare na my geboorteland trek. Ek smag na die klam grondreuk van ’n somer-donderstorm, die reuk van ryp perskes, die blou hemel en sterredak. Ek is moeg vir die klam mistroostige reën en modderweivelde vol skapies.

My winterwerk op die Walliese platteland strek oor Kersfeestyd. Die sneeubedekte landskap buite en ons toegewasemde vensterruite is baie ver verwyderd van die ander vasteland se droë, warm somer-Kersfees in die binneland van Suid Afrika. Ek ruik weer die somer se vars groen gras, die asemsnak koue lekkerte van induik in die swembad, laatskemer se soet parfuumreuk uit Ma se roostuin. Somers word vir ewig vasgevang in die stofreuk van daardie baldadige buitespeel tot sononder, die kindergenot van kennetjie en rounders, bok-bok en wegkruipertjie. Saans as die skemer daal, moes ons inkom vir Boekevat en uit die spens langs die eetkamer draal aanloklike walms van varsgebak, ma se gebruiklike Saterdag-koekbak vir Sondag se tee ná kerk.

Die soel someraand neem swaar afskeid van die ondergaande son wat nou laag bokant die horison hang, so asof die aand traag sy sterretjieskombers oor die blou uitspansel wil trek. In daardie laaste windstil asem-ophoutyd voor die oranje gloed verkleur tot asuurblou, lê ek teen die damwal en kyk hoe die Europese swaels swiepend rondom die huis en werf die lug deurkloof, dartelend agter muggies en somerinsekte wat in die koeler lug krioel. Met grasieuse hale skilder die swaweltjies swart houtskoolstrepe teen die blou lug, die bekkies met fyn haartjies rondom die snawels oopgesper vir die swewende prooi. Hulle duik weer en weer, swewe en skep met baldadige esse terwyl die oorvloed so groot is.
Pa verduidelik dat Europese swaels vanaf lande oorkant die see trek om in Suid Afrikaanse somergebiede te teel en broei sodat hulle die koue winters kan ontsnap. Vir ure vermaak ek my deur eers die kleiwal by die modderdam as hul skepplek van klei te ontdek, en toe die nessie wat soos ’n eksotiese kasteeltjie in die nok van die buitekamerdak vasgemessel sit. Wie sou toe kon droom dat ek self soos ’n swerfswael eendag na ’n land oorkant die see sou trek en werk in die afgeleë uithoek van Pembrokeshire in Wallis?
Hoe verlang ek nie nou na daardie sorgvrye kinderdae nie! 

Die hoofhuis op Knowles Farm se kombuis is in rep en roer vanoggend. Die reuse-oliestoof, ’n modern replika van die koolstoof van my kinderdae, stuur ’n heerlike koswalm die gang af en disse staan in ’n ry op die toonbank: hierdie Kersfees met vier geslagte familie byeen word in styl gevier. Die lang greinhouttafel, waar meer as ’n dosyn van Katie se afstammelinge vergader is, kreun behoorlik onder die kos. My gedagtes flits onwillekeurig vir ’n oomblik na ouma Bettie se oorlogsbeskrywings van verhongerde konsentrasiekampkinders.

Kleinseun Patrick vra skielik: “Katie, have you asked Lulu if she and her South African family have forgiven our British family for the atrocities committed against women and children during the Anglo Boer War?” ’n Ongemaklike stilte daal neer en ek verstik byna in ’n happie kos. ’n Rooiwarm gloed styg teen my wange op. Hoe antwoord mens nou so vraag?

Katie, wat haar eerste man tydens die Eerste Wêreldoorlog aan die dood moes afstaan, raak stil. Sy ken ook hartseer en verlies, swaarkry om die pot aan die kook te hou as weduwee met ’n pasgebore baba. Ons oë ontmoet oor die tafel. Deernis en begrip vir die Boer en Brit se verhale word met een blik deur twee stelle groen oë uitgeruil. Ons families is so dieselfde, en tog so verskillend. So verskillend soos die volle sirkel van seisoene se verloop van winter na somer.

Die meetsnoere van tyd val so sag soos ’n sneeuvlokkie en so glansryk soos ’n Vrystaatse sonsondergang in balans.

  • 2

Kommentaar

  • Anneke de Kock

    Ek hou regtig baie van die vergelykings en rondspring tussen kontinente en tyd, en ook die ‘verband’ wat jy trek met die oë en ook met die oorlog.

  • Dit was deksels goed gedoen, skoonma. Die retoriese aspek van Katie se vergifnis bring 'n diepte wat my nogals laat dink. Baie mooi geskryf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top