Een lewe

  • 0

Hy word stadig wakker met ’n gevoel van naarheid en die smaak van bloed in sy mond. Sy keel is hard en grof van die bloed wat al droog geword het. Dis nie voor die skerp brandpyn in sy maag terugkeer dat hy besef wat aangaan nie.

Henk skud sy kop om van die duiseligheid ontslae te raak. Hy beweeg sy kakebeen. Dit voel nie stukkend nie, net deksels seer. Sy linkerhand is onder sy lyf vasgepen, dood, en die regterhand beweeg stadig af na sy maag om seker te maak dat dit alles nie maar net ’n vreeslike nagmerrie was nie. Sy vingerpunte raak aan die mes se hef, elke aanraking ’n kool vuur wat dieper in sy maag inforseer.
Iewers in die huis rumoer dit. Goed val en breek. Hy is nog hier. Soek hy iets spesifieks? Henk het nie waardevolle goed nie – hy kon dit aan die bliksem verduidelik het voor hy die mes in sy maag ingedruk en hom uitgeslaan het.

Hy probeer sy kop oplig, maar dit is asof die poel bloed op die vloer sy bewende liggaam terugtrek. Dis ’n wonder hy kon nog wakker word as hy so na al die bloed om hom kyk. Henk wou nie so doodgaan nie. Die woede en hartseer in hom is onbeskryflik. Hy het nie die krag oor om iets daaraan te doen nie, en selfs al kom die ambulans nou, sal dit steeds te laat wees. Hy wou nog so baie doen ...

Dowwe, swaar voetstappe kom nader, elke tree ’n hamerslag in sy kop. Die gemaskerde man praat in ‘n blikstem met hom, maar hy kan niks uitmaak wat hy sê nie. Dan gryp twee hande hom aan die borskas en lig hom op. Elke beweging laat die mes dieper en dieper delf. Die gillende vent skud hom heen en weer. Hy word twee keer deur die gesig geklap, maar hy voel nie een van die houe nie. Die einde is naby, die buitehoeke van sy visie word al hoe witter. Die woede en kwaad in hom bereik breekpunt. Hoe kan hierdie man sommer so maklik besluit dat sy lewe nou op ’n einde is? Wie gee hom die reg?

Henk voel hoe sy vingerpunte prikkel. Sy hart klop al vinniger, soos ’n bok wat nog vir oulaas skop. Van iewers kom die moed, enkele sekondes voordat sy visie nog meer verdof. Hy pluk die mes met sy laaste bietjie krag uit sy maag, swaai om en delf dit diep tussen die man se ribbes in.

Die man slaan neer en skree van die pyn, sy lyf ‘n trillende akkedisstert. Henk sien hoe die stert al stadiger beweeg en uiteindelik stil raak.

Die gevoel van tevredenheid bly weg ... Die vlerk van ‘n engel vee oor sy wang ...

Lees ’n onderhoud met Philip Brand hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top