
Een aand op ’n bus na Odessa
Om een of ander rede loop daar nie vandag ’n trein tussen Simferopol en Odessa nie. Ons besluit om die oornagbus te vat.
Wanneer ’n redelike ou Russiese model uiteindelik ’n uur na die geskeduleerde tyd opdaag. word daar nie sondermeer net aan boord gegaan nie. Klaarblyklik is daar geen haas nie en die busbestuurder, wat gedurende die Sowjet-era waarskynlik ’n kolonel of iets in die weermag moes gewees het, reël sake met ’n ysterhand. Daar is een of ander orde waarvan ons nie bewus is nie, wat nog te sê verstaan. Hy, en hy alleen, reël die gang van sake, wie wanneer, waar en hoe hulle bagasie in die ruim plaas en wie wanneer aan boord gaan en wie waar sit. Die verstommende ding vir my is dat die reisigers hulle dit gedweë laat welgeval, amper asof hulle bang is hulle verloor hulle passaat as hulle nie sy gesag en bevele respekteer nie.
Uiteindelik is dit my beurt en ek klim opgewonde – en dankbaar – op. Langs die bestuurder se sitplek staan daar ’n klompie inmekaar gepakte plastiek kinderstoeltjies. Dis nou oulik, dink ek by myself. Dit word seker uitgesit vir ons om op te sit wanneer daar gestop word.
Ek gaan sit op my aangewese sitplek, langs die venster. Terwyl ek plek vir my bene soek, tref ’n elmboog my in die sy. ’n Groot vrou met ’n kopdoek op haar kop maak haarself gemaklik langs my. Die bus is tjok en blok en onrusbarend warm ten spyte van die ysige koue buite.
Ons heer en meester neem sy plek in, stoot sy pet agter op sy kop en steek ’n sigaret aan voor hy die sleutel draai. Hy sit terug en teug behaaglik daaraan voor hy die toestel stadig in rat sit. Ek probeer om nie te wonder hoe ek deur hierdie nag gaan kom nie.
My bubble bars by die eerste stop. Nog passasiers kom aan boord. Daar is nie genoeg sitplek vir almal nie! ’n Ou vrou kom gebukkend met ’n plastiek stoeltjie in die hand in die paadjie afgestap. En dan ’n soldaat. En dan ’n moeë vrou met twee moeë kinders.
Na die derde stop sit die paadjie vol mense op plastiek stoeltjies in ’n ry agter mekaar, stil en gedweë.
Uiteindelik word daar by ’n plek gestop waar almal afklim. Dit is ysig koud, maar ek knoop my hemp oop en gaan lê met uitgestrekte bene op ’n gebreekte sementbank. Net voor ek aan die slaap raak, gee die busbestuurder ’n lang fluit en word die rit hervat.
Na vele stoppe en mense wat afklim en opklim ry ons ligdag, twaalf ure later, Odessa binne!
Nou, gestroop van alle gesag oor lewe en dood, groet die busbestuurder vriendelik.
Ek klim agterin ’n gehawende minibus en neem my aangewese plek op die spaarwiel, langs die drywer se hond, in.
Deur die agterruit kyk ek na die werklikheid van hierdie stad, die stad van die Odessa Files, die stad van die Battle Ship Potemkin en die kinderwaentjie wat teen die bekende Odessa-trappeaf loop.

