Edmund White van naderby

  • 0
Skrywer: Edmund White
My Lives
Uitgewer:
Bloomsbury (hardeband), 2005
Prys: R272,81 (hardeband); R171.00 (sagteband)
ISBN: 0 7475 7522 3

Reeds vanaf die tagtigerjare van die twintigste eeu het die naam Edmund White gesag in literêre kringe, en nou, in die nuwe millennium, is hy onteenseglik die doyen van gay skrywers. Sy menings, aangehaal op die agterplat van nuwe gay- en gayverwante boeke, geld as ’n stempel vir standaarde, want White is roekeloos eerlik in sy waardebepalings – van ander, maar veral van homself.

Baie van wat hy skryf, is egodokumentasies. Selfs sy bekendste fiksiewerk, A boy’s own story, is outobiografies van aard.

Daar is baie redes waarom hierdie skrywer Edmund White se niefiksie en semifiksie bo sy verhale en romans verkies. Die sierstyl van byvoorbeeld Nocturnes for the King of Naples en Caracole staan my nie aan nie, maar waar White oor homself skryf, soos nou weer in My Lives, versober die styl, want White se lewe is so boeiend dat dit vanself stylbuitenissighede verwerp.

Daar is ’n subdivisie van egodokumentasie wat toenemend die aandag van navorsers geniet, naamlik die seksuele egodokument, met seks nie as ’n bonus nie, maar as skering en inslag van die bepaalde egodokument, of dit nou ’n dagboek, memoires of ’n yl gekamoefleerde outobiografiese fiksiewerk is. Frank Wedekind se erotiese dagboeke stel dit byvoorbeeld onomwonde dat erotiek sy tema is, in die Duitse (1986) sowel as die Engelse uitgawe (1990) daarvan. Waar Wedekind se dagboek heteroseksuele avonture in besonderhede meld, is Joe Orton se dagboek uitgesproke homoseksueel (1986).

Maar ook biografieë word tans seksgedrewe dokumentasies, soos die onlangse biografie Isherwood (2004) van Peter Parker. Beletseltekens (…) het uit die prentjie verdwyn, en wat vroeër welvoeglikheidshalwe subteks was, is nou hoofteks. Daar kan aanvaar word dat die biografie van die toekoms ’n nog groter openheid gaan hê, in dié sin dat dit Freudiaans gaan verklaar: Dis seks, en nie liefde nie, wat die wêreld laat draai.

My Lives van Edmund White is op ’n stil manier ’n baanbrekende werk. Anders as Joe Orton, wat sy meesal anonieme seksavontuurtjies meganies aanteken, net soos ook Roger Casement in sy berugte Black diaries, konsentreer Edmund White op beide partye – die diensverskaffer sowel as sy kliënt. Die kliënt, ofte wel “John” in Amerikaanse straattaal, en die gehuurde seksgerief (“hustler”) word apart sowel as in wisselwerking met mekaar getoon, altyd menslik gegee, en wat Edmund White self betref, altyd met ’n gesonde lading ironie.

White bied enkel- sowel as groepportrette aan in My Lives. Van die vermaaklikste groepportrette is dié gewy aan “shrinks” en dié gewy aan “hustlers”, met tussenin, soos die belegsel van ’n toebroodjie, White se portrette van sy ouers.

White het as tiener ’n psigiater in ’n effens vervalle buurt van Cincinnati besoek, want destyds is geglo dat daar ’n “kuur” teen homoseksualiteit bestaan. Wat White óók teëgekom het in “downtown” Cincinnati, is “hustlers”, of wat die Nederlanders “hoerejongens” noem.

White beskrywe sy “hustlers” met afgetrokke humor. Die seks, eensydig en steelsgewys, het hom $20 ’n keer gekos – of dis wat hy spontaan aangebied het, totdat ’n meer lewenswyse “cruiser” hom betig het omdat hy die heersende markprys befoeter het.

White het alles oorgekom wat alle “cruisers” van alle tye oorkom: hy is beroof en afgedreig, en het veneriese siektes en platluise by sy hoerejongens opgetel. Die platluis setel hoofsaaklik in die skaamhare van ’n man en vrou, en word dus maklik oorgedra tydens seksverkeer. Dit verklaar hoekom platluis deel van die woordeskat van talle gays geword het, ook “upmarket” gays. Ernst van Heerden het ’n gedig aan die platluis gewy, en min van die sangeresse wat my liedteks “Trapsgewyse” sing, vermoed dat ’n papillon d’amour ’n platluis is.

Daar is ’n ironiese spanning tussen die hoofstuk oor “hustlers” en die hoofstuk oor “shrinks”. Terwýl White as tiener op eie aandrang, maar veral op dié van sy pa, duur betaal om van sy homoseksualiteit “genees” te word, beproef hy die troebel genot van verbode seks. ’n Essay in futiliteit, kan ’n mens terugskouend sê, maar dit sou ’n vals perspektief wees. Vóór die Seksrewolusie, vóór die historiese Stonewall-insident, is gays gemarginaliseer as melaatses in die maatskappy en wou hulle, om hul eie selfbeeld ontwil, “normaal” word.

White se hoofstuk oor “shrinks” is ook ’n oorsig van sielkundige benaderings, en hoe dié met verloop van tyd verander het. Moloney was sy eerste psigiater, ’n bra groteske verskyning, met sy neus wat kronies geïnflammeerd was. Sy metodes was ook grotesk, soos byvoorbeeld die houtstompe wat hy in sy agterplaas aangehou het met Mom of Dad daarop geverf, en waarop sy pasiënte met ’n byl kon toesak om só van hul woedes en frustrasies ontslae te raak. Moloney het gewaarsku dat White alle kanse op geluk gaan verbeur as hy volhou om intellektuele argumente te wil wen. Die ergste gevolge van sy psigoanalitiese behandeling, so sê White, was dat dit sy instinkte ondermyn het, iets wat vir ’n skeppende mens rampspoedig kan wees.

Daar was ook ander psigiaters in White se lewe, onder andere Alice Chester, wat van die Weense skool was en ’n nuwe naam vir haarself in Amerika gekies het. Edmund White het haar "Der Steppenwolf" genoem, na Herman Hesse se bekende roman, en sy medegaypasiënte by Alice Chester vergas op stories oor sy “shrink” uit die Wien van weleer. Hierop laat White ’n beduidende reël volg wat iets omtrent gayhumor as bliksemafleier verklap: “Much of the dry-martini gay humor of that period obeyed a similar reflex by laughing at what was most troubling.”

Uiteindelik kom White tereg by Charles Silverstein, ’n gay psigoterapis wat, saam met gay kollegas, die American Psychiatric Organization oortuig het dat homoseksualiteit binne die normale gedragsparameters van die versteurde ego val. Charles Silverstein se groot krag het hierin gelê dat hy sonder vooropgesette idees na sy pasiënt geluister het. White het sy sessies met Silverstein beëindig toe Silverstein hom gevra het om as medeskrywer op te tree by die skryf van The Joy of Gay Sex, want, het Silverstein tereg gesê, jy kan óf my pasiënt óf my medewerker wees, nie beide nie.

Toe ek einde 1979, begin 1980 uit New York vertrek het, moes ek The Joy of Gay Sex in die naaste vullisdrom gooi, want die doeane sou hierdie boek met sy mooi, maar eksplisiete, tekeninge onmiddellik onderskep het. In my dagboek uit dié periode het ek ’n halfblad-advertensie geplak wat ’n onfeilbare “kuur” vir homoseksualiteit gepropageer het – óú spoke kom dus nie maklik tot rus nie. Wat ek uiters immoreel vind – en hierop behoort feministe sterker te reageer – is dat vrouens dikwels onbewus is daarvan dat hulle as proefkonyne by dergelike kure gebruik word.

Eers in 1993 het Edmund White weer die hulp van ’n psigiater nodig gehad. Dit was toe sy jong Franse minnaar sterwend was aan vigs. White, toe nog in Parys woonagtig, wou nie ’n Franse psigoanalis hê nie, en het ’n Amerikaanse gay berader opgespoor. White, so vriendelik teenoor die meeste mense, het louter veragting vir die Lacan-skool gehad. Lacan was, volgens White, Frankryk se antwoord op Freud, en laat dan volg: “No matter that he wrote incomprehensible gibberish when he wasn’t spouting dangerous untruths or tricking truisms out in fancy words.” Hierdie resensent hou hom buite dié debat, want hy het geen kennis omtrent Lacan nie; maar wat, wonder ’n mens, het White se oorreaksie afgevuur?

My Lives van Edmund White het, lastig genoeg, geen inhoudsopgawe nie, en daarom laat ek sy hoofstuktitels volg:

 
(1) My Shrinks
(2) My Father
(3) My Mother
(4) My Hustlers
(5) My Women
(6) My Europe
(7) My Master
(8) My Blondes
(9) My Genet
(10) My Friends.
 

Al die besitlike voornaamwoorde op ’n ry kan die persepsie laat ontstaan dat Edmund White ’n egoïs is, maar niks kan verder van die waarheid af wees nie. Hy is spontaan nederig, met selfironisering as een van sy sterkste verwere teen die lewe. As altruïs gee hy sy volle aandag aan almal wat bydra tot sy lewenskwaliteit. Ook sý boek sou, soos die memoires van Carlos Fuentes, Myself with others kon heet.

Die belangrikste “hoofstuk” in My Lives, literêr sowel as sielkundig, is myns insiens die essay gewy aan White se moeder. Die verhouding tussen ’n gay en sy moeder, veral as dié moeder as enkelouer moet optree, is meesal ’n gespanne verhouding, want die moeder tree dikwels oorbeskermend op, en vorder haar gay seun voortydig op tot vertroueling. Met adolessensie, miskien selfs vroeër, begin baie gays aanraking-sku raak: hulle wil nie deur die ma aangeraak word nie, en wil self nie aan haar raak nie. Is hier dalk ’n oervrees in die spel, dié vir bloedskande? Edmund White moes sy moeder daagliks in haar borsrok help en dit nog vasgord ook. Sy ma, Delilah (ja, presies dieselfde naam as dié van die Bybelse verleidster), het al hoe vetter geword as gevolg van te veel kos en alkohol. Sy het geweier om ’n broek (“bloomer”) oor haar borsrok aan te trek, sodat White gereeld blootgestel is aan haar “black bush”. Ook moes hy die ritssluiters op die rugkant van haar rug optrek en, ergste van alles, die swartkoppies op haar kaal rug uitdruk.

Min gay skrywers het die moed om in te beweeg op die ongemaklike area rakende die liggaamlikheid tussen ’n moeder en haar gay seun. David Leavitt het dit wel gedoen, in ’n uitstekende vroeë verhaal, “Territory”, in sy bundel Family Dancing, waarin ma en seun vanself besluit dat daar fisieke afstand moet wees, maar dis die seun wat moedswillig sy arm om sy ma se skouer slaan as hy en sy vriend en sy ma in die bioskoop sit. Die ma is, en ten regte, verontwaardig oor haar gay seun se “kontrakbreuk”. Maar ’n ma-seun-verhouding in diepte verken, soos in “My Mother” van Edmund White, is by my wete iets unieks in gay literatuur.

Delilah word ook positief verken deur White. Sy het met groot opoffering ’n meestersgraad in sielkunde verwerf, wat haar ’n inkomste verseker het. Sy het IK-, Rorschach- en ander sielkundige toetse by skole en ander opvoedkundige inrigtings afgeneem en verwerk, en was baie gesteld op haar professionele status. Dit het soms iets pedanties aan haar aanslag gegee, en White en sy suster het gou parallelle getrek tussen hul ma en Tennessee Williams-karakters soos Amanda Wingfield en Blanche DuBois. Soos Tennessee Williams, moes Edmund White uiteindelik aan sy ma se oorheersing ontsnap ten einde ’n ruimte skep waarbinne hy vrylik kon ontwikkel.

Veel later in sy lewe trek White ’n balansstaat op waaruit duidelik blyk dat sy ma tog ’n belangrike aandeel aan sy geestelike ontwikkeling gehad het, en hierdie bestekopname is die epifaniese oomblik wat die donkerste hoofstuk in My Lives verduurbaar maak.

Delilah het by Edmund White ’n Puriteinse werksetiek gevestig. Hoe losbandig hy ook was, en koorsagtig op jag na ’n man – nes sy ma – het werk altyd die voorrang in sy lewe geniet. Sy ma het hom baie laat lees – “diep” boeke – en hiervoor het hy haar geseën. Delilah het dus tog beduidend help vorm aan die latere skrywer Edmunt White.

Die hoofstuk wat White letterlik nakend voor die leser laat optree, heet “My Master”. Ook oor sy sekslewe is White ontwapenend eerlik. Hy meld dat hy passief is, en onderbedeeld wat sy seksorgaan betref. Sy ryk fantasie vergoed in só ’n mate hiervoor dat hy selfs as ouer man ’n opwindende sekslewe het. Slaaf & Meester-speletjies, met een bepaalde Meester, ’n jong akteur, figureer sterk in sy lewe. Hy bedink, met groot vindingrykheid, nuwe vernederings vir homself, en sy intelligente Meester, met die enorme penis, speel kreatief saam. Die hoofstuk “My Master” is te uitgesponne vir iemand wat buite die S&M-“teater” staan, en bowenal bereik dit nie die ritualistiese rykheid van byvoorbeeld The maids en The blacks van Jean Genet nie.

’n Mens kan sien wat Edmund White beweeg het om baie jare van sy lewe te wy aan die skryf van ’n monumentale biografie oor Jean Genet. Nie verniet nie praat White van “my Genet”. Genet se liefde vir rolspel en wrede speletjies moes White gefassineer het, en ook stel Genet ’n “afwykende” tipe daar: die digterboef, soos ’n Villon, of die skilder-moordenaar Caravaggio, wat romantici oor die eeue bly aantrek, veral gay romantici.

White bied interessante agtergrond by Genet se toneelstuk The blacks. ’n Amerikaanse filmkritikus, Annette Michelson, het Genet na die dokumentêre film Les Maîtres Fous van Jean Rouch geneem. Dié dokumentêre film volg die lewe van ’n groep swart werkers in Akkra, Ghana, op hulle werkvrye dag. Hulle gaan na ’n soort kommune buite die stad, raak “hoog” op dwelms en begin om in ’n trans rolle te speel: die Goewerneur, die Generaal, die vrou van die dokter – kortom, al die wit owerheidsgestaltes wat hulle onderdruk.

Dit is verstommend dat ’n Amerikaner die standaardbiografie oor Jean Genet geskryf het. White het eers ná veertig die Franse taal en kultuur vir homself verower, met bloed, sweet en trane, en tydens die skryf van sy Genet-biografie moes hy vertalers en navorsers huur. Dis waarskynlik sy identifikasie met Genet, en later Proust, wat hom gemotiveer en laat deurbyt het.

Nog ’n verswarende faktor by die skryf van Genet – en hieroor is White baie eerlik – is dat hy nie werklik ’n intellektueel in die Europese sin van die woord is nie. Eers het hierdie resensent gevoel dat Edmund White sy nederigheid te ver voer, dalk in die hoop dat die leser hom gaan weerspreek. Maar dit is nie die geval nie. Toeval het meegebring dat ek twee monografieë in dieselfde reeks kort na mekaar gelees het: een van Edmund White oor Marcel Proust, en die ander oor Simone Weil deur Francine du Plessix Gray. White se monografie is vlot geskryf, maar maak by tye die indruk van geïnspireerde joernalistiek; Francine du Plessix Gray, daarenteen, toon haarself in paragraaf na paragraaf as ’n gedugte intellektueel en navorser.

Die puik “hoofstukke” in My Lives van Edmund White is om ’n kernsaak gebou; minder onderhoudend, en soms vervelig, is dié hoofstukke wat ek “inventaris”-werk wil noem. “My blondes”, byvoorbeeld – nog ’n “blondeling” meer of minder (ek gebruik Johann de Lange se mooi woordvonds) sou werklik nie saak gemaak het nie, want enumerasie verloop liniêr.

Vir veral ouer gays is My Lives ’n reis in hul eie psiges en verledes in, soms pynlik, soms snaaks, maar altyd verhelderend. Die professionele wat die meeste by My Lives gaan baat, is sielkundiges en psigiaters, want White, die skrywer, delf met intuïsie waar formele kennis (nog) nie kan indring nie. Dis geen skokkende stelling nie: ek parafraseer bloot Freud se eie woorde na aanleiding van die fiksie van Arthur Schnitzler, die groot Weense tydgenoot van Freud.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top