Ek wil nie alles so vinnig weet nie,
wou nog vir ’n antwoord wag.
Ek wil die posman dophou, die grootte
van sy sak optimisties meet.
Ek wil die woorde in my mond rondrol,
Wou nog wonder hoe dit met jou gaan.
Sou die rekening eers heelwat later wou betaal.
Ek verloor die plot, my vingers hardloop weg,
maak hul eie storie op. Ek struikel, verstik, verdrink
in al die inligting van woorde.
Ek hys my op teen die rekenaar se skerm,
trek al die rooi vlaggies oop – reën ’n duisend letters
op my neer as ek vooroor val op koue sleutels van die
bord. EK WOU NIE MÔRE VANDAG AL LEEF.

