Dwalinge

  • 3

Ek is al geruime tyd, en in werklikheid van voor ’94, ’n bekommerde wit Afrikaner man (mag ek my nog so identifiseer?). Ons begin ons identiteit verloor en word taalkundig (veral in die akademiese en wetlike wêreld), kultureel en ekonomies gemarginaliseer. Intussen verval alles, terwyl ons die hele tyd vertel word hoeveel beter die nuwe demokrasie is en hoe sleg apartheid (of “apart hate” soos die Engelse wêreld dit fraseer) was. Die lys van verval van die maatskaplike, administratiewe, ekonomiese en persoonlike en staatkundige sekerheid is te lank om ook hier weer te gee. Ons sien dit tog self in elke geval wat om ons gebeur.

Wit Afrikaners, ek ook, is ’n individualistiese, verdeelde en eiesinnige klomp mense wat nie daarvan hou om gesê te word wat om te doen nie en moeilik saamwerk. Vandaar die Groot Trek in die 1800’s en die verskillende trekke met elkeen sy eie leier. Van die trekke was rampspoedig en nogal dalk ’n voorspel van ons huidige verdeelde “trek”. Die Transvaalse en Vrystaatse se republieke was ook ’n poging om as groep hulle eie ding te doen, maar weer eens twee groepe. Dit is deur die Britte vernietig, saam met die ekonomiese sekerheid van die Afrikaner, en in ’n unitêre Unie van Suid-Afrika saamgeflans. ’n Klomp Afrikaners, soos Botha en Smuts, is verblind deur die Britse mag en hegemonie en is ingesluk deur die groep. Hulle het in die proses hul eie mense se strewes en versugting na selfbeskikking vergeet en natuurlik boonop totaal van die swart en bruin mense. Vandaar die opkoms van die Nasionale Party (NP), met vernietigende gevolge. Net soos Hitler se opkoms in Duitsland grootlik die gevolg was van die vernedering na die Eerste Wêreldoorlog. Ek moet darem bysê die Botha-regering het skynbaar hard probeer keer dat die Duitsers nie te veel verneder word nie. Dit wys egter ook weer eens jy kan nie die Weste vertrou met jou eie belange nie.

Afrikaners is tans nog oorwegend finansieel en maatskaplik relatief goed daaraan toe, veral in vergelyking met die meeste van ons bruin en swart landgenote. Hierdie finansiële en veiligheidskussing is egter, weens SEB, aan die verkrummel, en ek verwag dat dit minstens vir my kleinkinders totaal vernietig sal wees. Sonder staatsondersteuning en behoorlike bestuur van staatsfinansies, wat nog steeds deur onder andere ons belasting gedryf word, het ons geen kans ekonomies en maatskaplik nie. Tans is drakoniese wette aan die kom of reeds in plek oor SEB, skole, onteiening en die NGV. Dan praat ek nie eers van die kommerwekkende sekerheidsituasie nie, veral in ag nemende die baie moorde op wit, swart en bruin. My vraag is ook wie pleeg die meerderheid, ook persentasiegewyse, van hierdie dikwels wreedaardige moorde?

........
Jy moet nooit al jou “gewere” buite die kraal laat nie. Ons is ongelukkig ’n klein minderheid en as ek die kommentare lees oor hoe verdeeld ons in eie geledere is, verstom dit my. Dit wys hoekom ons is waar ons is. 
........

Ek sien in die pers daar is ’n groep Afrikaners wat weer organiseer en praat. Ek is bly iemand begin organiseer. Ek sien egter wie lei dit. Ek vind die groep dus effens naïef en te marginaal. Ek is lid van AfriForum. Hoekom is ons dus nie deur AfriForum hieroor ingelig nie? Daar is so baie organisasies. Dit is AfriForum, Solidariteit, Saai, Vrystaat Landbou, Agri SA, TLU, ens. Hoekom vorm almal nie saam ’n organisasie nie, los van politici asseblief. Ek sien nou ook dat die DA en VF+ ook weer wil aanhaak. Mense moet eenvoudig weet dat, soos Piet Retief tot sy groot nadeel gevind het, jy alleenlik uit ’n posisie van mag met sekere mense kan onderhandel, anders het hulle geen respek vir jou nie. As jy dit reeds “afgeteken” het, is jy in groot moeilikheid. Jy moet nooit al jou “gewere” buite die kraal laat nie. Ons is ongelukkig ’n klein minderheid en as ek die kommentare lees oor hoe verdeeld ons in eie geledere is, verstom dit my. Dit wys hoekom ons is waar ons is. 

Uit sekere bruin en swart groepe word die Afrikaner Verklaring ook weer as negatief beskou. Ek het ook die skrywes in Die Burger bekommerd gelees. Ek verstaan wat hulle bedoel, maar ek wonder net hoe identifiseer hulle hulself? Ek dink en hoop nie die Afrikaner Verklaring is of was bedoel om bruin en swart mense (jammer weer eens die terme) uit te sluit nie. Mens moet egter versigtig trap met wie jy in die bed klim. Bygesê, ek sien dit, met alle respekte, as werkbaar en aanvaarbaar vir almal alleen as ons alle Afrikaanses inreken as Afrikaners, want hoewel ons etnies kan verskil, deel ons baie dinge. Maar nogtans, hoekom kan ons as wit Afrikaners nie organiseer nie, veral as daar sonder teenstand of klagtes allerhande Black Lawyers Associations en Black Business Organisations is, terwyl swart mense reeds alles beheer en SEB afdwing?

........
Ons is ’n land met vele etniese entiteite, maar met een etniese groep wat elke keer alles oorheers binne ’n unitêre staat. Eers was dit die “wit” groep en nou is dit die “swart” groep. Mense stem volgens hierdie groeperings, kom wat wil. Soort soek ook soort, met goeie reg.
........

Skrywende kommentators wat voor ’92 en ’94 die huidige bestel opgehemel en bekommerdes as “regs” (rassisties?) gebrandmerk het, skrywe steeds die koerante vol. Nou is van hulle leiers in die nuwe groepering en kla hulle oor die ANC-regering. Ek lees nie eers meer van hul skrywes nie. Daar word ook baie gepraat en geskrywe oor die huidige komende verkiesing. Asof die ANC daarna beheer oor die land se bestuur en geldkoffers gaan moet opgee. Dit gaan nie gebeur nie, al moet die ANC dit ook bekook. As die ANC onder 50% kry, gaan hy ook net eenvoudig saamgaan met ’n party soos die EFF, MK of dalk selfs die DA. Die hemel behoed ons dan. Die steun vir Zuma se MK wys ook net weer eens dat ’n unitêre Suid-Afrika nie kan werk nie. Etniese en stamlyne is te diep.

Die olifant in die vertrek is natuurlik ons sogenaamde demokrasie met sy een-mens-een-stem-, wenner-neem-alles- grondwetlike basis. Hoekom sien mense dit nie so nie? Ek verstaan dit nie. Of is ek te “rassisties” of “regs” om so te dink? Die Grondwet is net ’n stuk papier en kan maklik herskryf word tot groter nadeel. Verder is ons ’n land met vele etniese entiteite, maar met een etniese groep wat elke keer alles oorheers binne ’n unitêre staat. Eers was dit die “wit” groep en nou is dit die “swart” groep. Mense stem volgens hierdie groeperings, kom wat wil. Soort soek ook soort, met goeie reg. Ons het ook ’n groot gros mense wat die demokratiese proses nie verstaan nie en ook geen etiese sienswyse of sosiale verantwoordelikheidsin het nie. Kyk maar die gemors met net plastieksakke in sekere woonbuurte en die verval in munisipaliteite wat deur SEB-bemagtigde mense bestuur word. Alle mense is gelyk, maar etniese groepe dink en doen verskillend.

Ek en ander naïewe mense het voor ’94 ja gestem sodat, soos belowe deur die NP, onderhandel kan word vir ’n nuwe bedeling. Grootliks op grond van beloftes oor wigte en teenwigte, wat toe nooit gerealiseer het nie. Ook omdat ons gevoel het die beleid tot dan was verkeerd en kwetsend. Die beleid het staande gebly omdat die bestaande swart oorheersing en oormag gevrees is. Dit is te verstane en is nie ongegrond nie, gegewe die huidige verval. Veral my bruin taalgenote, wat toe nooit “wit” genoeg was nie, is nou weer nie “swart” genoeg nie. Hulle was en word steeds meer as enige ander groep verneder en gemarginaliseer. Ek voel jammer vir hulle. Ek dink hulle heil lê by ons. Ek sou nooit ja gestem het voor ’94 vir ’n een-mens-een-stem-bedeling nie. Ons is ingeloop en ek vermoed groot geld het hier ’n rol gespeel en doen dit steeds.

Ons is ingeprent ons kon nie anders nie, en die ekonomie het natuurlik weens sanksies alleen geduik. Maar alles het toe nog beter gewerk ten spyte daarvan, en ons moet dit nooit vergeet nie. Ons kon nou wel nie internasionaal aan sport deelneem nie, asof dit belangriker is as kulturele, ekonomiese en fisiese oorlewing. Ons kon egter in werklikheid nog lank vasgebyt het as gewone mense. Ek wonder net hoe die land nou sou gelyk het as die ou bedeling gehandhaaf is, sonder die kwetsende sy van apartheid en sonder om onderhewig te wees aan sanksies deur die Weste. Intussen gebeur feitlik alles wat vir ons voorgehou is as sou dit gebeur as ons nie ja stem nie. Ons moes ’n bedeling gekry het waarin ons gewone mense (wit, bruin of swart) ewe sê het in ons land en sake van belang. Anders moes ons meer opgegee het en ’n werkbare eie gebied beding het. Dit is natuurlik die ideale oplossing. Dit het egter baie toewyding, opoffering en het werkbare planne nodig. Ek weet net nie of ons mense bereid is/was om die nodige opofferings te maak nie en of ’n lomp spul politici so iets reg kan bedink en bestuur nie.

........
Die wêreld daar buite is verdeeld, materialisties en moreel korrup. Ons moet na onsself begin kyk en die prys betaal, aanvanklik ten minste, met morele en praktiese langtermyn sosiologiese, ekonomiese en geografiese aspekte in gedagte.
........

Ons het ons spreekwoordelike “rug oopgemaak” en was dom en verdeeld met eie finansiële belange voorop. Dit is maar soos ons is, gegewe hoe ons mense (die Sappe, maar nogtans) die Britte in die Eerste Wêreldoorlog, binne 10 jaar na die ABO, teen die Duitsers gaan help het. Ons is ook mense wat maklik manteldraai, as jy sien hoe ons Rhodesië versaak het en eenvoudig uit Suidwes padgegee het. Dalk verdien ons wat nou gebeur. Ons kan ook nie saamstaan vir ’n saak nie. Ons wou ook weer graag pelle wees met die Westerse wêreld, min wetend dat daardie pelle ons maklik sal versaak in hul naïewe en “woke” eie belang. Die wêreld daar buite is verdeeld, materialisties en moreel korrup. Ons moet na onsself begin kyk en die prys betaal, aanvanklik ten minste, met morele en praktiese langtermyn sosiologiese, ekonomiese en geografiese aspekte in gedagte.

Ek besef dit is nie eenvoudig en maklik nie, maar die situasie verg groot en helder beginselvaste denke en besluite sonder om eenvoudig boedel oor te gee soos die NP voor ’94. Die ou stelsel het misluk grootliks omdat dit kru was en ook boonop verkeerd toegepas is en ook nie tot volle en regverdige konsekwensies volvoer is nie. Te veel klem is gelê op kwetsende rassistiese goed. Groot en dalk pynlike, vir ons, skuiwe moes gemaak gewees het. Te klein korttermyn denkers was egter in beheer en die politici en hul amptenary was nie bereid nie, te bang of onbevoeg, om die saak verder tot ’n werklik praktiese en regverdige beleid te voer. Almal het maar aan hulle Volksraad- en ander poste geklou, soos nou, en van werklike visioenêre en beginselvaste leierskap was daar geen sprake nie. Ek vermoed Verwoerd is dalk daaroor verwyder. Dit was dalk vuilspel, want hoe kon iemand soos Tsafendas die binnekring van die parlement so maklik binnedring? Onthou iemand ook nog die moorde op Robert Smit en Johan Heyns?

Daar is geen twyfel dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling verkeerd en soms onmenslik toegepas is nie. Dit het ook nie gewerk nie omdat swart mense werk kom soek het in die “wit” gebiede en steeds daarheen stroom. Ons is en was te sleg om ons eie werk te doen. Tans stroom swart mense na die Wes-Kaap vanuit ander dele van ons eie land en die res van Afrika. Daar is reeds meer swart as wit mense in die Wes-Kaap en die getalle ewenaar byna dié van die bruin groep. Net soos die Suid-Amerikaners in Noord-Amerika, die Arabiere en Afrikane in Europa en die sogenaamde Palestyne in Judea in Israel werk gaan soek. Hulle is noodgedwonge bereid om die werk te doen wat wit mense nie wil doen nie. Net om dan daar dienste, regte en voorregte op te eis en ’n eie filosofie te probeer afdwing. Die Wes-Kaap kan die instroming ekonomies, fisies (water, dienste) en maatskaplik eenvoudig nie bekostig en hanteer nie. Dit terwyl byvoorbeeld die Oos-Kaap soveel hulpbronne, soos water en veral landbougrond, het. Die Landbounavorsingsraad het byvoorbeeld bevind dat die Transkei- en Ciskei-gebiede die droëlandgrond en klimaatspotensiaal het om meer mielies te produseer as wat Suid-Afrika kan benut. Nou kom sit hulle mense in blikkieshuise op die Kaapse Vlakte en eis dienste, waarvoor die belastingbetalers van die Kaap moet betaal. Afstigting van die Wes-Kaap as geheel sal om daardie rede nie die probleem oplos nie, hoe lofwaardig ook.

........
Wat het ons dus bereik as Afrikaners deur die mag oor onsself so onbekook weg te gee vir ’n spreekwoordelike pot lensiesop, en wat is die oplossing?
........

Die ophemeling van FW de Klerk en Nelson Mandela en die “wonderlike” demokrasie gee my ’n kramp. Die geveg van die ANC is en was nog altyd om hul hande op die geldpotte te kry. Net enkeles is en word steeds bevoordeel en word obseen ryk, binne ’n kort tyd weens staatskontrakte, korrupsie en eenvoudig diefstal. Ten spyte daarvan leef die meerderheid swart en bruin mense nog onder haglike omstandighede. Ons kan dalk nou internasionaal aan sport deelneem, sanksies is opgehef, ens, maar op vele meer belangrike terreine sink ons weens die huidige regering se beleid en swak en korrupte bestuur.

Wat het ons dus bereik as Afrikaners deur die mag oor onsself so onbekook weg te gee vir ’n spreekwoordelike pot lensiesop, en wat is die oplossing? Lê dit dalk, soos gesê, in klein of groter selfbestuurde gebied(e) binne ’n federasie of kantonstelsel of geheel en al onafhanklike streke of gebied? Dit moet egter prakties, regionaal en ekonomies werkbaar wees, al beteken dit ’n mate van ekonomiese en ruimtelike prysgawe en massiewe sosiale manipulasie. Die koeël is dalk reeds deur die kerk, maar ek vrees werklik ’n Suid-Afrika wat soos Sirië of Gaza lyk. As mens na sekere gebiede in die land kyk, soos die Kaapse Vlakte, Gugulethu, Nyanga en die middestad van Johannesburg, wonder ek of ons nie reeds daar is nie.

........
Ek sal liewer armer wees, of ten minste aanvanklik, maar ek weet ek het my eie mense as leiers (hulle is erg genoeg) wat na my luister, omgee, my taal praat, en dat ek ’n gelyke bedingingsmag het. Ons maak egter altyd die fout om te dink politici is leiers, terwyl hulle net maar politici is, wat iets wil verkoop, nl ’n sitplek en inkomste.
........

Ek sal liewer armer wees, of ten minste aanvanklik, maar ek weet ek het my eie mense as leiers (hulle is erg genoeg) wat na my luister, omgee, my taal praat, en dat ek ’n gelyke bedingingsmag het. Ons maak egter altyd die fout om te dink politici is leiers, terwyl hulle net maar politici is, wat iets wil verkoop, nl ’n sitplek en inkomste. Die oorlede sanger Roger Whittaker het gesê: “Politicians are like a bunch of bananas – they all hang together, are all yellow, and there isn’t a straight one amongst them.”

Ek is nie bereid is om landuit te vlug nie en is bereid om te veg vir ’n beter bedeling. Die vraag is wat en hoe daardie geveg moet wees. Die huidige klomp politici beïndruk my nie. Daar is te min beginsels en net ’n gepraat, met geen werkbare plan nie, soos nog al die jare sedert Uniewording in 1910. Neem byvoorbeeld die VF+. Die party het nie naastenby dieselfde beleid as waarmee Constand Viljoen dit begin het nie, en ek weet nie eintlik waarvoor hulle staan nie. Daardie beleid het ’n stille dood gesterwe. Waar is die sogenaamde Volkstaatraad wat sommer sonder meer die asem uitgeblaas het terwyl niemand ’n sprook gesprak het nie? Ons lei dalk nog aan bomskok en wil so graag deur die beginsellose en naïewe wêreld aanvaar word. Die wêreld het geen respek vir ons nie. Ons moes langer vasgebyt het en iets beter op die tafel gesit het. Die vraag is egter: Kan ons dit nog beredder en indien wel, hoe?

  • 3

Kommentaar

  • Jy kan altyd Orania toe trek en by die AP kerk daar aansluit. Ek was circa 7 jaar oud in 1992 toe julle referendum gehou het. Suid-Afrika was bankrot. Daar was eintlik geen ander opsie as onderhandel nie. Die Nasionale Party het vir almal tuislande gebou, behalwe vir hulleself. Dit vertel 'n storie in eie reg. Ek stem met een ding baie saam met jou, die verheerliking van politici soos De Klerk en Mandela, ja, dit is verkeerd. Daar is nogal juis so heldeverering van De Klerk hier op Litnet soms deur 'n sekere persoon. Politici is egter politici. Mense moet ophou om te dink die formele politiek het al die antwoorde. Maar dit weet jy darem. Dis hoekom jy lid van Afriforum is.

    Jy maak egter die ou klassieke fout om oor Afrikaners te skryf asof dit 'n homogene groep is (Afriforum doen dit self ook dikwels). Dit is nie 'n homogene groep nie en die einde van apartheid het baie witmense eintlik heelwat gebaat in die finansieele sin.

    Ek verstaan die vrese. Maar ek is dankbaar ek lewe nie in apartheid nie. Ek dink ook nie ek wil in 'n wit tuisland woon nie. Die wit Afrikaners behandel mekaar nie noodwendig beter nie. Gaan luister maar hoe suffer klomp op plase as voormanne. Baie jong manne kry beter behandeling op plase in die VSA as by hulle 'eie mense'.

    'Eie mense' is 'n mite. Jou naaste is jou naaste ongeag, dis tog so eenvoudig. Jenne, en ek is nie eens 'n Christen nie....Afrikaners is nie moreel beter of slegter as andere nie.

    Mense is maar mense.

  • Johann, ek deel jou pyn. Dalk was wittes nooit veronderstel om tè lank na 1652 hier te bly nie. Afstammelinge van die Hollandse boere moes al met die Britse oorname van die Kaap teruggekeer het na Europa. Dan was daar vandag nie iets soos Afrikaners nie. Maar nou is ek en jy hier. Afrikaners en ander wittes woon in elk geval net tydelik op aarde. Wittes se rolle is grootliks uitgedien op makrovlak. Die dae dat wittes sake beheer op politieke en staatsvlak is verby. Ons is nou volgelinge. Wittes en nie-etnies swartmense se kommentare is net menings en nutteloos, selfs diè van die KhoiSan. Party Afrikaners kry nog hier en daar goeie poste en probeer relevant bly. Ander kritiseer net. Fokus op jou mikro-omgewing en skakel oor na 'n oorlewingsmodus. Doen jou werk en versorg jou geliefdes. Jy kan stem indien dit jou goed laat voel. Sluit aan by Solidariteit indien dit jou sekuriteit gee. Moedig jou kinders en kleinkinders aan om te emigreer na lande waar hulle kan floreer. Dis te betwyfel of daar teen 2099 nog iets soos Afrikaners sal bestaan. Selfs die taal sal verdwyn of totaal anders klink. Maar die beste van alles, etniese swartmense gee nie 'n duit om wat jy doen nie, want jy is nie meer 'n bedreiging nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top