Dwaalstories

  • 6

Oor my ganse lewe heen
sit ek en my ma
oorkant mekaar
sodat sy vir my stories
kan vertel
oor ons mense.
Wee’ jy
sê sy
en haar oë raak blink en donker
soos sy die lang dwaalstorie
beginne vertel.
Om mee te begin
bekoor dit my
tot dit
net so brand
soos ’n skerpioen se angel.
Haar stories is
swaar
beeldryk
geheimsinnig
vol geweld
en magic.
Daar is
so
so baie
wat nooit
vertel word nie.
Alles
is net so
aan haar
oorvertel
deur my ouma Kittie.
Só dra sy
die ou stories
oor na my
die enigste kind.
Die stories wat nog wag
om vertel te word  
versamel
soos ’n
swaar
rooi
wolk
bokant die ou blik-kombuistafel.
Soos sy praat
vorm hulle ’n kronkelende lyn
’n naelstring
van kleurvolle krale
wat afkom na my toe
deur haar woorde.
Sy vertel die stories
oor en weer
Weer
oor en
oor
Ek stap in
saam met haar
nes ’n kind wat van stories hou.

Ek het geen idee
hoe ons mense gelyk het nie
maar ek kén hulle.

My oupagrootjie Jan
het ’n man doodgeslaan
Hy verskyn in die hof
Sy hand word as gevaarlike wapen verklaar.

Op die plaas het my oom Carel
gehuil toe hy trane
in die trekperd se oë sien
Niemand het hom geglo nie
(behalwe ek).

My oupa had ’n kafeetjie
so teenaan die huis
Een nag breek iemand in
en steel al die lekkers
Die polisie word geroep
tot die stoute broers Bokkie en Basie
bely het jammer Pappie
Dit was ’n midnight feast.

Die loseerders
by my ouma se boardinghuis
was sulke characters
Mrs Rivers
’n hoedemaker
het die vyebome
se welige takke
vol hoede gehang.
En dan was daar Antie Knox
en haar lieflingkat Peanuts
Sy het fantasties geskilder
en elke Vrydagaand tot laat
sjerrie gedrink
uit cut-glass.
Toe sy oud geword het
lê sy in die hospitaalbed
en roep na Peanuts
en hulle bring haar
net
peanuts.

Toe ons familie
terug
Wellington
toe getrek het
was al die meubels uit die huis
rot en kaal gesteel.

Duskant Kraaifontein
het Wagter die hond
van die bakkie afgespring
sonder dat enigiemand agterkom
Die kinders huil heelnag
en staan vroeg op om vir hom te loop soek
net om ’n gekrap by die deur te hoor
daar staan hy
die kussinkies van sy voete deurgetrap.

My oudste oom Dirk
het heelnag opgesit
om vir die kleintjies te leer
oor al die geheime van die heelal
die sterrestelsel te ontleed
net om die volgende oggend
Sneeuberg uit te klim
met Wagter aan sy sy.

Die groot rooi hoenderhaan
was baas van die plaas
en het die tuinier Fortuin
reg om die blok
verby die polisiestasie
gejaag
Basjan gooi hom toe
met ’n Goliat-klippie
en hy is net so dood
Daardie aand
het Fortuin luidkeels gesing
terwyl hy die ou haan se vere
uitpluk
en heel
in die soppot druk.  

Oor my ganse lewe heen
soek ek vir leidrade
om hulle inherente bedonnerdgeid
te probeer verduidelik
maar niks kan verklaar
hoekom hulle is
soos wat hulle is nie
(behalwe natuurlik
die geheime
die geweld
en die magic)
Niemand sal ooit
al die los drade
kan saambind nie
Die hele geroesemoes
The good, the bad and the ugly.

Alles word opgevang
in die bastertaal
wat Afrikaans is
Al die geweld
swaarkry
hartseer
dwarsstekery en
vreemde idiome
(soos
“Skryf dit op jou maag”
En “Klein jakkalsies …” en
“Adam sê dis Eva”)
absurditeit
en lag lag lag
al gaan dit hoe sleg.
Die paradoks:
Ek kom van hulle
maar ek is
nie soos
hulle nie
Ek ís my taal
Ek is nié my taal nie.

  • 6

Kommentaar

  • Suzette Engelbrecht

    Ai, hoe ver vat jou woorde my op (on)bekende paaie. Baie geluk met ’n wonderlike stuk. En mag daar vele meer wees.

  • Breyten Breytenbach

    Inderdaad 'n lieflike na-loop van die weefsel, Anna-Kind. Ek is bly jy maak bymekaar, kyk daarna, koester dit, sit dit opsy om jou eie tapisserie te weef. Sterkte!

  • Anna-Karien Otto

    Ek waardeer jou mooi kommentaar. Sulke wonderlike stories inderdaad. Baie dankie Breyten.

  • Anna-Karien, welgedaan, soos die oumense gesê het. Ek het heerlik gelees aan jou naelstring gedig. Hou aan skryf x

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top