Titel: Draalnoot vir 'n janfiskaal
Samesteller: Henry Jack Cloete
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780795800832
Koop Draalnoot vir 'n janfiskaal by Kalahari.com
Vir die leser wat kultuurprodukte eie aan ons moderne verbruikerswêreld kan waardeer soos, sê maar, Tarantino en Robert Rodriguez se flieks, Japannese manga of death metal, sal Draalnoot vir ’n janfiskaal deur Henry Jack Cloete ’n baie welkome oplugting wees, en in Afrikaans. Wat ’n ander manier is om te sê dié leser moet uitbeeldings van ekstreme geweld, pikdonker galgehumor en oënskynlik onrealistiese of ongeloofwaardige gebeure kan hanteer en verstaan. Afrikaanse skrywers wat hulle al op dié gebied gewaag het, sluit Jaco Fouché met sy Ryk van die rawe, Tom Dreyer met Erdvarkfontein, Koos Kombuis met Raka die roman en Toast Coetzer met Naweek in. Dis almal skrywers vir wie die populêre media – comics, televisie, rock ’n roll, splatter-flieks – ’n primêre oriënteringspunt is.
In Draalnoot vir ’n janfiskaal is dit die internet met sy blogs, sosiale media (Vleisboek) en selfiekultuur wat aandag kry, soos nog nooit vantevore nie, bygesê.
Die verhaal draai om ’n webwerf, Fermata.com, waar mense hul (eie) selfmoord-video’s kan oplaai. Die idee is dat hulle vyf minute kry om ’n boodskap oor te dra en daarna die daad te voltrek voor ’n webkamera gekoppel aan ’n drarekenaar. Mense wat belangstel om na die video’s te kyk, betaal ’n inskrywingsfooi van een dollar en die belangstelling is so groot dat Fermata se skepper, Daniël Roberts, ’n bestaan uit dié inkomste kan maak.
Soos in comics is die karakters tipes, maar dan “diep” tipes: die entrepreneur wat begin twyfel oor die etiek van sy “besigheid”, die gekwelde polisieman wie se persoonlike lewe ’n rampgebied is, die ambisieuse joernalis wat oorweldig word deur haar onderwerp, baldadige aweregse studente en ’n Machiavelliaanse prokureur.
Die weë van hierdie karakters begin deurmekaar loop wanneer Daniël Roberts op ’n kletsprogram op televisie verskyn. Dié verskyning ontketen passies so oorweldigend en intens van aard dat omtrent al die karakters se lewens rampspoedig en gewelddadig eindig. Die hoogtepunt van dié ontwikkeling kom wanneer potensiële selfmoordenaars Daniël by sy woning opspoor en net daar hul ding doen. Sonder om die pret (of afsku) van lesers te wil bederf, kan hierdie uitgebreide episode in die boek beskryf word as ’n klug, maar dan een met tonele wat lyk asof dit kom uit ’n Marx Brothers-fliek waarvan die draaiboek deur Christopher Marlowe, die Elizabethaanse dramaturg, geskryf is. Lesers wat ’n opvoering van sy The Jew of Malta oorleef het, sal Draalnoot vir ’n janfiskaal kan hanteer.
Ofskoon van die uitbeeldings van ekstreme geweld in die roman gekritiseer kan word as opsetlik en sinloos, is dit eintlik deel van ’n sterk stroming in die populêre kultuur waar gereflekteer word oor perverse kante van ons moderne mediagesentreerde kultuur, veral ons versugting na iets outentieks, en, gepaard hiermee, ons perverse fassinasie met die ekstreme en banale, soos die sekslewe en kaperjolle van glanspersoonlikhede, rampe, menseslagtings, reeksmoordenaars, krisisse van allerlei aard, ens. Die Amerikaanse skrywer William Burroughs het in hierdie verband gepraat van “mugwumps”, verwysende na gesette geslurpte wesens wat saamtrek by rampe om die siele van sterwendes op te suig en die soetheid daarvan op te vang.
Die vernietiging van alle morele waardes wat so ’n kultuur kenmerk, kry uitvoerig aandag in die roman, soos waar mense braai en piekniek hou langs die lyke wat in Daniël se erf ophoop, en nog veel erger dinge aanvang.
Die vraag of die roman self ontsnap uit hierdie kulturele moeras, of meewerk, kan nie hier beantwoord word nie – elke leser moet maar self besluit.

