Draak-sprokie-kompetisie: Die skubbejakke van Drakenstuin

  • 0

Pappa draak staan op toe die deurklokkie lui. Hy gaan staan agter die toe deur. Hy loer met sy een oog deur die loergaatjie. "Dis ou mevrou Krokodil van Lill," fluiter hy vir sy seun, Diekie. "Ek nooi haar nie binne nie. Sy is darem net te skurf," sê sy pa. Hy vryf met sy een poot oor sy eie skurwe wang. "Sy lieg ook te veel," sê hy terwyl hy in sy eie leunstoel gaan sit. "Dan is sy nog ’n skinderbek ook," mompel Diekie se pa. 

"Skinder Pa nie nou dalk ook van Krokodil van Lill nie?” vra Diekie ewe slim.

"Nooit!" roep sy pa ergerlik. "Ek skinder nooit. Ek sê maar net," sê sy pa. 

"Is mevrou Krokodil van Lill ’n skubbejak?” vra Diekie.

"Jy speel seker," sê sy pa. "Net opregte drake is skubbejakke. Sy is ’n skobbejak. Skobbejakke maak die mens in my wakker," sê Pa.

"Wat soek die mens in Pa? Hoe het hy daar gekom"? vra Diekie terwyl sy oë so groot soos blikborde word.

Sy pa lag dat sy hele ou draaklyf so skud. "Dis sommer ’n gesegde wat ons hier in Drakenstuin gebruik as iets jou kwaad maak," verduidelik sy pa. "’n Draak moet versigtig vir sommige mense wees. Hulle is skobbejakke. Self het hulle nie horings wat werk nie, dan steel hulle die renosters se horings. Sies!" sê pa. Hy blaas ’n hele klomp rook deur sy neusgate. Diekie weet sy pa is nou kwaad. "Nou die dag het ek gehoor hoe ’n mens vir sy seun sê dat hy sommer die draak steek."

"Neeee!" gil Diekie. Hy skuif dieper onder die leunstoel in. Sy pa neem ’n groot sluk van sy drakenswyn. "Waarmee wou die ou die draak steek"? vra Diekie. Sy pa staar daar doer in die lug. Dit lyk asof hy diep dink.

"Seker met ’n draaksteker," mompel hy.

"Die groot skobbejak!" gil Diekie.

"Mense gooi gif in blikke. Hulle spuit dit oor goggas en spinnekoppe. Dis nie net hulle wat later met stywe pootjies in die lug lê nie. Die gif kruip oral in. Die bye gaan ook dood as hulle op die blomme gaan wei," sê Pa.

"Steek bye ook die draak"? vra Diekie bang. 

"Nee, bye kan nie die draak steek nie,” lag sy pa. “Drake se skubbe is te dik." Hy lig een van sy skubbe met sy voorvinger op. Diekie sien skielik dat die skub soos ’n klein skildjie lyk. Toe lees Pappa vir hom ’n vers uit die Draakgenoot:

’n Draak wat woon in Drakenstuin 
se hartjie is heeltemal rein.
Hy kyk na die aarde.
Hy veg nie met swaarde.
Dit wys jou sy brein is nie klein.

Die deurklokkie lui weer. Pa draak loer deur die loergaatjie. Dis mevrou Krokodil van Lill. Sy het sjokolade in haar hande. Toe maak Pa draak die deur oop ... 

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top