Draak-sprokie-kompetisie: Wanneer woorde skurf word

  • 0

Lank, lank gelede en baie ver van hier het die allerpragtigste drake langs ’n groot meer gewoon. Hulle sysagte velle het in alle kleure van die re?nboog geglans en hulle fyn deurskynende vlerke het soos towerstof in die sonlig geskitter. Met groot groen o? het hulle heeldag lê en kyk na hulle spie?lbeeld in die water.

Maar so mooi as wat hierdie drake was, so aaklig was die woorde wat by hulle pienk tuitlippies uitgebars het.

“Bring vir my kos, en maak gou! Ja, jy met die skurwe pote en harige bakkies! Hardloop!”
“Waai my koel! Ons kan nie soos bosdiere sweet nie!”

Dan het die drake ure lank langs die meer gelê en skinder en slegpraat oor al die diere wat hulle so rondstuur en verskree. Die diere het ook maar geskarrel en laat spat wanneer die drake net amper ’n geluid gemaak het, want die drake was soveel groter en kwaaier as enige van hulle. Van die klein diertjies het dan in gate in die grond of in hol boomstompe ingekruip en daar gesit en bewe totdat die laatmiddagson die drake lui en vaak gebak het.

So het die jare verbygegaan, totdat die diere dit net nie meer kon uithou nie. Maar die diere het ook besef dat hulle iemand veel groter en sterker as die drake moes kry om hulle met hulle probleem te help. Hulle het koppe bymekaar gesit en so hard gedink dat hulle skoon skeel begin kyk het. So skeel dat hulle per ongeluk in die sonstrale in gekyk het.

“Aha, Son! Jy is groter en sterker as al die drake saam. Jy sien elke dag hoe die drake skel en skree. Help ons aseblief, ons kan dit nie meer verdra nie!”

Teen hierdie tyd het die son ook al genoeg gehad van die drake se goorheid. Soos wat hy na die diere se stories geluister het, het sy gloeiende wange al rooier en rooier geword soos wat hy al kwater en kwater geword het. Naderhand het hy so kwaad geword dat hy die diere aangeraai het om eerder vir sy strale te gaan wegkruip. Al die diere, behalwe die drake, het toe blitsig gaan wegkruip.

“Bring vir ons koue water! Ons tonge droog uit!” het die drake gekerm, maar geen enkele dier was in sig nie.

Die son het fel neergebak op die drake, totdat hulle eens glinsterende velle so skurf, hard en lelik was soos die woorde wat nou by hulle krom snawels uitgeval het. Hulle vlerke het verskrompel en hulle ogies het sommer so klein getrek teen die skerp strale. Die drake was woedend, maar moes vinnig skuiling soek in grotte teen die hitte van die son.

Van daardie dag af is drake amper nooit weer gesien nie en kon die diere weer in vrede leef.

Maar as drake dit soms tog weer in die sonlig waag, spoeg hulle sommer uit ou woede vuur na die son oor hulle nou so afskuwelik is.

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top