Draak-sprokie-kompetisie: Drakekwale en drakerate

  • 0

Eendag, lank, lank gelede in die land van Blourëen, het ’n jong draak gewoon – Domiliek.  Hy was nie van die vuurspuwende soort nie; het ook nie vlerke gehad nie. Hy was egter groot en sterk.  Hy was gelukkig tot dit hom sleg getref het – ingroeitoonnaels.  Dít omdat hy vir die Boskabouter geluister het.  Vir ’n draak met aspirasies was dit fataal.  Die koninklike wag is gekies vir hul waagmoed maar ook hulle manjifieke kloue. Sterk getoon met vlymskerp naels was ’n absolute vereiste. Die wagte het vele voorregte geniet.  Saans is hulle kloue met ’n spesiale olie van die suuruintjiewortels ingesmeer en daarna is hul naels sorgvuldig gevyl en gepoleer. Hierdie versorging is slegs deur hoogs gekwalifiseerde ambagslui onderneem. Gewoonlik vrygekoopte trolle wat oor die jare  spesiale aanleg getoon het vir sulke delikate kure.  Van toeka se dae was draakpote die simbool van krag, trots en status.  Almal het hom jammer gekry en vele drakerate aanbeveel. Van hemelboomblaarpulp tot wolwurmspoeg. Niks wou help nie. Domeliek het elke dag sy pote in the Blombos se stroompie gaan week vir bietjie lafenis.

Skielik, toe hy nog eendag daar sit en homself bejammer, begin die wind erg waai. Takke ruk en pluk; blare dwarrel rond. Die kristalle op die grond gloei soos sterre in die nag en die stroompie word net grond. Domeliek raak bang.

Sê nou net dis die Kronkaberg se gees wat sy gedagtes wil kom steel of die silwervlerkgeraamtes van Diepsloot wat skubbe van sy lyf vir hul winterkwilte wil versamel, dink hy by homself.

Dan skielik hoor hy ’n fyn stemmetjie wat saggies ’n wysie neurie:

“Ek mag nie sê maar gaan tog wel; jy moet elk woordjie tel.
Volg my voorskrif stap vir stap; klim die leer dan trap vir trap.”

 “Wie’s jy? Waar’s jy?” vra hy nou erg benoud.

“Ek is Wieke Kronieke, die grootasemwind se kind. 
Ek hoor alles, sien alles, weet wat jy moet vind.”
“Kabouterraad is vry te kry, maar kos jou later duur.
Drakespore nie verlore as dit lei na regte plek
vind kuur vir alle pyn; net nie laat jou drome kwyn.”

Wieke Kronieke warrel en skarrel en woerts, weg is hy ...

’n Yskoue druppel pons hard op Domiliek se neus. Verbaas kyk hy op en sien ’n leer wat strek na bo ...

Maar wie sal dit tog glo in die Jaar van die Draak?

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top