Draak-sprokie-kompetisie: Die vriendelike draak

  • 0

Diep, diep onder die wortels van ’n ou tamatieplant het ’n reuse-oupa-draak gewoon. Sy huisie was eenvoudig, met net ’n stofie, ’n stort en ’n stoepie. Hy kan nie meer onthou hoe oud hy is nie, maar hy onthou nog hoe hy uit ’n houtkissie gehaal is as ’n klein, swak baba-drakie. Dit was ’n mens-seuntjie wat dié kissie waarin hy was, op die strand iewers langs ’n see met woedende branders en klipperige sand opgetel het.

 

Die reuse-oupa-draak se naam is Knoes. Die seuntjie wat hom opgetel het, het hom geleer hekel met spinnerakdraadjies. Dit onthou hy baie goed – hulle het altyd in ’n digte bos gestap en tussen die verweerde boomstompe en palmtakke na spinnerakke gesoek. Versigtig het hulle altyd die spinnerakke in ’n blaartjie toegevou en dit later netjies in ’n draadjie uitgerol om mee te hekel. Al die wurmpies, skoenlappers, kabouters en feetjies het gespog met die tosselhoedjies wat hy vir hulle gehekel het.

Knoes was altyd so vriendelik, bedagsaam en gelukkig. Die eerste keer toe hy vuur genies het, het hy so geskrik dat hy besluit het om ’n permanente waterfonteintjie in sy neusgate in te bou sodat enige moontlike vlamme vanuit sy maag onmiddellik geblus word nog voor hy dit kon uitnies. Knoes het al agtergekom almal skrik vir die vlamme wat hy per ongeluk nies, maar danksy die waterfonteintjie nies hy nie meer vlamme nie. Al wat Knoes nou pla, is die feit dat al wat leef en beef nog steeds bang is vir hom. Is dit dalk sy vreeslike lang naels of dalk die klipharde skubbe op sy lyf wat almal afskrik?

Knoes sit nou op sy stoepie en dink hoe om werklik die wurmpies, skoenlappers, kabouters en feetjies se harte te wen. Hulle dra nou wel soms sy gehekelde tosselhoedjies, maar dis dalk omdat hul eintlik bang is dat hy weer eendag per ongeluk vlamme naby hulle sal nies en dit kan hulle mos dood geskroei!

Skielik kry hy ’n plan. Hy onthou meteens dat hy kan toor! Hy kyk op na die wolke, draai vyf keer in die rondte en sê: “Toor my in die mooiste vrug of blom, dan is ek mos almal se tjom.” Van daardie oomblik af het Knoes verander in ’n pragtige druiwetros. Die wurmpies, skoenlappers, kabouters en feetjies kon nie genoeg vir Knoes – nou ’n druiwetros – kuier nie. Tot die gedaantes wat hulself mense noem, vereer Knoes van daardie dag af deur druiwekonfyt soete-knoes-stroop te noem.

Dit alles het Knoes so diep gelukkig gemaak, en om sy geluk te wys het hy van daardie dag af permanente geluk in almal wat ooit druiwe eet se harte gesit.

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top