In die verlate watervalle van die beboste Drakensberge bly ’n nes drake. Dis presies hierdie draak wat bekendstaan as die mees gevreesde draak in Afrika. Die musiek is wat jou so nuuskierig maak. As jy die bosse trotseer, die steiltes afstap, deur sewentien poeletjies water sukkel en oor die grootste rots klim wat aan jou regterkant lê, bulder die mooiste musiek in jou ore – draakstemme. Saam met die hemelse geluide in jou ore staan jou armhare penorent, jou stem word skril van vrees en jou oë verdof soos wat jy nader aan die nes stap. Nodeloos om te sê, niemand (wat lewendig is) kan vertel hoe hierdie spesifieke draak lyk nie. Niemand behalwe Krummel die waterklipnimf nie.
Dit is as gevolg van Krummel dat Drikus die Draak die legende geword het wat hy vandag is. Die enigste manier om met ’n waterklipnimf te kommunikeer, is om saggies rook op sy wipneus te blaas. Drikus, naamgenoot van sy formidabele oupagrootjie, sit elke middag klokslag om 13:45 op die klam mos ’n entjie weg van die ander. Vir ’n waterdraak beteken die middagson net een ding: jagtyd! Waterdrake is die gevaarlikste draakspesie. ’n Vuurspoeger met ’n knuppel vir ’n stert, pote so groot soos ’n opblaasswembad en geluide wat hul prooi nader lok, maar die gevaarlikste wapen van alles is die rook wat hulle blaas om hul prooi te verblind.
Dis moeilik om ’n waterdraak te wees – wel, dit moet wees, want Drikus die Draak probeer al 17 jaar lank. Drikus sukkel met ’n paar draakkaraktereienskappe; hy gril vir die gras tussen sy tone, giggel elke keer as hy deur ’n doringbos stap en die sogenaamde onontsnapbare rook kielie sy neus en daarby saam het hy nog asma ook. Die enigste rede hoekom die ander drake nie hierdie inligting het nie, is omdat Drikus met sy eerste slagting sy prooi per ongeluk met sy stert geskraap het en met die sien van bloed uitgepaas het en op sy prooi geval het. Drikus deel nie die ander se bloeddorstigheid nie en veg daarteen om soos die res van sy familie ’n piromaan genoem te word.
Drikus sit middag na middag op die klam mos weg van die ander, besig om sy naels te vyl en die opgekropte rook by sy neus uit te dryf. Met ’n gesnuif en gevryf blaas Drikus ’n fyn rookstraaltjie op Krummel die waterklipnimf. So begin die vreemdste vriendskap wat al ooit in die geskiedenis opgeteken is. Die twee vorm hulle eie bende en die waterklipnimf klouter met die gevreesde draak se stert op tot reg agter sy oor, en daar gaan sit Krummel.
Wat hierdie vriendskapskombinasie so legendaries maak, is dat Drikus en Krummel saamwerk om te verhoed dat meer mense as prooi beskou word. So stig Drikus en Krummel die Drakensbergseunskoor. Tot vandag toe is dit dié musiek wat jy in die berge hoor – musiek sonder enige gevaar!
>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

