Baie diep in die groot, donker bos,
woon drake en dwerge en een tokkelos.
Oral loer sulke klein ogies uit.
Die dwerge kyk wat hulle kan buit.
Die drake soek heeldag net kos,
Daar in die berge, maar ook in die bos.
Dis net ou Daantjie wat tuis moet bly,
die dwerge mag nooit iets van hulle kry.
Die drake gaan haal al hul inkoopsakke,
daar's nie meer kos op een van hul rakke.
Toe die drake in die groot bos kom,
is daar niks meer bessies, selfs nie eers ’n blom.
’n Dwerg hou hul die heeltyd dop,
tuis is ou Daantjie diep in die sop!
Aan die voet van die berg is nog ’n mooi bos,
daar kry die drake gelukkig nog kos.
By die huis is ou Daantjie heeltemal bang,
die dwerge het hom alreeds gevang.
Hulle bind sy twee voorpootjies vas,
hulle kielie die heeltyd sy hele ou bas.
Klein Daantjie kan glad nie ophou met lag.
Hulle steel tog te lekker, maar een hou die wag.
Hulle streepsakke raak vinnig vol,
Steeds lag ou Daantjie dat die trane so rol.
Die dwerge het alles al gevat,
stoele en tafels en een mooie, groot mat.
Hulle drink ’n klomp kanne wyn,
al smaak dit so sleg soos regte asyn.
Een dwerg spuit toe laggas in die vertrek,
daar lag Daantjie hom byna heeltemal vrek!
Die dwerge begin huis toe loop,
Nooit hoef hul ooit weer meubels te koop.
Soos hulle loop, begin hulle vreeslik swoeg,
die swaar sakke maak die dwerge so moeg.
Ou Daantjie lag nog al die pad,
byna maak hy toe sy broekie nat!
Die drake begin ook huis toe stap,
nou en dan drink hulle van die nektarsap.
Klein Driesie is nou baie vaak,
Pa moet hom op sy rug vasmaak.
Hulle loop stadig, die sakke is swaar,
hulle kyk rond of hulle dwerge gewaar.
Hulle hoor ’n eggo doer in die kloof,
Pa hoor niks, want hy is amper doof.
Ma sê dit klink soos ’n hiëna wat lag.
Drieka sê dit klink vir haar tog te verdag.
Naby die huis gaan staan hulle stil,
Dit klink dan soos Daantjie wat so lag en so jil.
Daar kry hul vir Daantjie plat op sy rug,
Twee pote is vas en daar's twee in die lug.
Daantjie lag só dat hy niks kan sê.
Pa sien die dwerge in die paadjie lê.
Die dwerge slaap nou vreeslik vas.
Pa verf die dwerge bloedrooi met ’n kwas.
Pa gaan op sy eie voort.
Hy neem als terug wat aan hom behoort.
Daantjie het nou stil geraak.
Niemand wil hom wakker maak.
Die dwerge maak hul ogies oop,
toe sien jy net trane loop.
Die dwerge lyk almal vreeslik naar,
hulle skrik regtig groot vir mekaar.
Hulle het vir ewig weggehol.
Van toe af bly ou draak se huisie vol.
Maar die een groot ou tokkelos
sien niemand ooit in daardie bos.
Soms as jy luister in die donker nag,
hoor jy nog steeds hoe Daantjie lag!
>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

