DPM Botes (1935–2013)

  • 0

Gebore en getoë

David Petrus Matthijs (DPM), of David, soos sy vriende hom genoem het, is op 7 Julie 1935 in Witbank, “die plek met die witste huisies en die swartste steenkool”, gebore. Hy het op Uitenhage in die Oos-Kaap grootgeword en in 1953 aan die Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal gematrikuleer. Sy vader het enkele jare vantevore daar gaan boer.

Hy het begin skryf toe hy in matriek was en sy eerste gedig (’n liefdesgedig, want hy was “smoorverlief”) het in Tydskrif vir Letterkunde verskyn toe Abel Coetzee nog redakteur was.

Verdere studie en werk

Ná skool het hy die gekombineerde THOD aan die Normaalkollege en die Universiteit van Pretoria begin, maar het nie die kursus voltooi nie. Hy het wel later ’n BA-graad aan dieselfde universiteit behaal, met Afrikaans-Nederlands en Afrikaanse en Nederlandse kultuurgeskiedenisse as hoofvakke. Hy het ook kursusse in argeologie en kunsgeskiedenis geloop en ’n honneursgraad in Afrikaans-Nederlands aan Unisa behaal.

Onder Wilfried de Pauw het hy in 1963 sy MA-graad aan Unisa behaal; sy verhandelingtitel was “’n Ondersoek na verteenwoordigende literêre opvattinge van die Futurisme, Kubisme, Dadaïsme en Surrealisme”. In die winter van 1965 en 1966 het hy onder Jean Weisgerber aan die Université Libre de Bruxelles in België navorsing gedoen vir ’n tesis oor die digter Gaston Burssens, ’n groot vriend van Paul van Ostaijen en een van die belangrikste Vlaamse Ekspressionistiese digters.

Hy het nooit die tesis voltooi nie. “Ek sou sê ek het dit 98% klaargemaak, ek moes eintlik nog net die samevatting geskryf het. Maar toe ek terugkom in Suid-Afrika, is prof De Pauw weg; hy het ’n diplomaat geword en ek kon toe nie iemand anders kry wat belangstel in die onderwerp nie. Toe het ek hom net so gelos.”

Ná ’n kort verblyf in Windhoek het David en sy vrou, Martie (gebore Grobler), in Oktober 1960 na Pretoria verhuis, waar hy agtereenvolgens poste by die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap, die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum en die Mielieraad beklee het. Met die ontbinding van die Mielieraad in 1995 het David afgetree as hoof van skakeling en markbevordering, waar hy onder meer die gereelde Mielienuus/Maize News en die jubileumuitgawe Mielieraad 1935–1985 versorg het en landwyd deur middel van uitstallings die gebruik van mielieprodukte bevorder het.

Sedert 1995 het hy heelwat werk as taalpraktisyn gedoen. Hy het die taalversorging van Historia behartig, en sedert die ontstaan van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis het hy as taalversorger van hierdie tydskrif opgetree.

David en Martie, wat voorheen ’n bibliotekaresse was, het in Desember 1969 in Monumentpark in die suide van Pretoria gaan woon. Hul huis het klinkermure en houtplafonne en is ontwerp deur wyle Neels Venter, wat in platdakhuise gespesialiseer het in die styl van David se gunstelingargitek, die Amerikaner Frank Lloyd Wright, wie se ontwerpe dikwels ’n mistieke harmonie met die natuuromgewing nastreef.

In die tuin groei suikerbosse, witstinkhout- en olienhoutbome, waarvan party op die erf gestaan het voor die huis gebou is. In die huis is talle boekrakke, skilder- en beeldhouwerk van bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars, geraamde plakkate, beeldjies, pottebakkerswerke van onder ander Esias Bosch, eietydse meubels van hout en swart leer, handgeweefde wolmatte uit Rorke’s Drift in KwaZulu-Natal, en Afrikamaskers te sien. Daar is ook ’n groot CD-versameling klassieke musiek en ’n mooi wynversameling.

David het aan Johann Lodewyk Marais gesê dat hulle huis ’n plek is waarin hy en Martie ontspan en waarin hulle leef. Die kunswerke in hulle huis is van Cecil Skotnes, Wopko Jensma (wat ’n huisvriend was), Maud Sumner, Johannes Meintjes, Christo Coetzee, Dirk Meerkotter, Walter Battiss en andere. “Ek het Walter Battiss goed geken en ek en Martie het by hom klas geloop in kuns. Battiss het my een ding geleer: jy trek nooit as jy kunswerk doen ’n lyn met ’n liniaal nie. Jy trek hom altyd met die vry hand. Ek het baie van hom geleer. Battiss was ’n baie goeie en groot individualis.”

Oor sy boekeversameling het Botes aan Marais vertel dat hy boeke bymekaar gemaak het oor geskiedenis, argeologie (hy is ook ’n argeoloog), musiek en kuns. “Ek het ook ’n taamlike groot versameling resepteboeke, want ek hou daarvan om dit te lees. Soos wat ander mense byvoorbeeld speurromans lees, so sal ek resepte- en woordeboeke lees net vir die lekker. My boekversameling is redelik uitgebreid. Hier is seker sestig- na tagtigduisend boeke. Ek het van agt jaar af begin boeke bymekaarmaak. My oorlede vader het my ook destyds daarmee gehelp. Baie van die boeke is eintlik naslaanwerke. As jy byvoorbeeld ’n roman oor die Victoriaanse Engeland lees, kan boeke vir jou wys en vertel hóé die kleredrag en meubels van daardie mense gelyk het. Jy word verplaas na die wêreld van Shakespeare, van Thomas Hardy, Dylan Thomas, al daardie mense. Die roman wat jy lees, hang nie in die lug nie. Jy lees die roman en jy kry ’n beeld van hoe die wêreld daar uitgesien het. Dit is die waarde van so ’n boekery.”

David se eerste digbundel, Wat is ’n gewone man?, is in 1965 deur Afrikaanse Persboekhandel gepubliseer.

In Dagbreek en Sondagnuus van 26 September 1965 het JME geskryf dat DPM Botes met hierdie debuutbundel langs Breyten Breytenbach en Barnard Gilliland in die voorste ry van sestig se debutante staan. ”Die 46 verse in die bundel is nie almal van dieselfde hoë gehalte nie, maar daar is stewige en afgeronde verse wat bewys dat die digter ’n diggeweefde vers kan skryf en ook die taal van swanger poësie ken. [...]

“Botes skryf ’n vryvers, maar nie sonder dissipline nie. Met enkele uitsonderings na het ons hiér netjies gekonstrueerde verse, gebou om een enkele beeld en sy assosiasies en gekenmerk deur ’n soort hegtheid wat ’n mens min by die jonger digter aantref. [...]

“Dit sou nie moontlik wees om Botes se debuut binne die bestek van hierdie kort bespreking selfs naastenby na waarde te skat of vir die leser te ontsluit nie. Maar ek wil dit weer stel: met Botes het ons ’n belangrike jong digter in die klein geledere van werklik belowendes bygekry.”

In Spitsberaad (1966) het Rob Antonissen geskryf: “Nie elke onderdeel van Wat is ’n gewone man? is goed nie, maar dit was ’n sterk begin en getuig reeds van ’n ontwikkelde en selfstandige digterskap.”

In 1967 is die Ingrid Jonker-prys aan die bundel toegeken. Dit was die eerste Afrikaanse digbundel wat die prys ontvang het. Die beoordelaars was Ernst Lindenberg en JC Kannemeyer. In Ons Erfdeel (Jaargang 11) is as volg oor Wat is ’n gewone man? geskryf: “Die bundel het sedert sy verskyning heelwat goeie resensies geniet. Onder andere is dit sterk aangeprys deur die bekende letterkundige kritikus, Prof. Rob Antonissen. Botes kan gevolglik sonder veel teenspraak gereken word as die belangrikste nuwe digter in Afrikaans na Breyten Breytenbach van wie ’n digbundel Die Ysterkoei moet Sweet in 1964 verskyn het.

 

Al die gedigte in Wat is ’n Gewone Man is rymlose vryvers. Tog het die verse dikwels ’n hegte boustruktuur. Die tegniek is egter by Botes nooit opvallend nie, verdwyn eintlik agter die beeld- en seggingskrag. Sy beste poësie het iets van ’n ewigheid; die gedig word self dit waaroor dit wil praat.”

Met die verskyning van Klein grys telegramme van die wêreld in 1967 het Koos Meij (Vaderland, 1 Desember 1967) as volg geskryf: “Hoewel die gedigte in hierdie tweede bundel nie op dieselfde standaard as dié in die eerste een is nie, besit dit nogtans gedigte wat tot die suiwerste poësie van die sestigerjare gereken kan word. [...]

“Kenmerkend van die poësie van Botes is die afwesigheid van maklik herkenbare elemente wat die klankstruktuur van die gedig betref, soos die gebruik van rym byvoorbeeld. [...] ’n Ander opvallende kenmerk is die afwesigheid van die normale interpunksiestelsel, ’n kenmerk egter van die meeste poësie wat hedendaags nie net in Suid-Afrika nie, maar oral in die wêreld geskryf word. [...]

“Dit is ’n bundel vir die liefhebber van poësie wat bereid is om lank saam met die gedigte te lees, geduldig totdat die skoonheid homself as ’t ware ontsluit. Want dit is ’n ongewone soort poësie, net so ongewoon soos die poësie van Van Wyk Louw se Tristia, al is dit vir die deursneeleser seker makliker verstaanbaar – indien hy bereid is om met ’n oop gemoed te lees.”

FIJ van Rensburg was die resensent in Volksblad (datum onleesbaar). Hy het sy bespreking as volg afgesluit: “Die tweede bundel is ’n voortgang op Botes se eerste bundel. Dit verryk Afrikaans veral met ’n aantal mooi liefdes- en doodsverse (in afdelings I en II). Wie wil agterhaal waarom dit in die moderne poësie gaan, kan met gerustheid hierdie bundel optel.”

In Junie 1969 het R Schutte David in Standpunte daarvan beskuldig dat twee van sy gedigte in Klein grys telegramme vergelyk kan word met die Engelse vertalings van Sweedse gedigte wat opgeneem is in die Prisma-boek Sweden writes, wat twee jaar voor Klein grys telegramme verskyn het. Die gedig “Lamento” is van die Sweedse digter Tomas Transtömer en die vertaling van Eric G Sellin, en “To cleanse life” is deur Sandro Key-Aberg geskryf en deur Richard B Vowles vertaal, asook een deur Hans Magnus Enzensberger.

Botes se reaksie op hierdie aantygings was: “So what! So buttons!” Chris Barnard, wat uitgewer by APB was tydens die publikasie van Telegramme, het gesê dat hy die bundel beslis nie sou uitgegee het as hy toe geweet het van die Sweedse gedigte nie, maar hy vrees dit is “nou klaar” met Botes. Maar in die volgende nommer van Standpunte het David gesê dat hy afskeid van die poësie geneem het. Hy het ook in Standpunte (Augustus, 1969) “afskeid geneem van die poësie”: “Tot Chris Barnard en sy gees- en denkgenote se genoeë neem ek hiermee afskeid van die poësie. Ek sal nie weer ’n woord skryf of publiseer nie – wat die poësie aanbetref, is ek klaar met Afrikaans. Wat gepubliseer is, is gepubliseer, maar gedane sake het geen keer nie. Ek het gisteraand begin om die meer as 100 gedigte wat ek reeds voltooi het, te verbrand.”

David het die omstandighede waaronder hy die gedigte geskryf het, goed onthou. Dit was in 1966 toe hy by Breyten Breytenbach in Parys was. Hy het die gedig “Lament” nog op die Paryse stasie op pad Brussel toe geskryf.

Hy het aan Johann Lodewyk Marais vertel: “[E]k het miskien die gedigte gelees en onbewus in Afrikaans verwerk gehad. Destyds, toe ons nou terugry, het ek die goed neergeskryf. Ek het eintlik nooit afskeid geneem van die poësie in daardie stadium nie. Ek het net nooit weer daaraan gedink nie. Nou nog as ek iets lees, kan ek dit vir jou haas onmiddellik in Afrikaans weergee. En jy weet, die eiendomlikheid gaan my nie eintlik aan nie. [...]

“Ja, daar was ’n mate van agtelosigheid, maar nou, aan die ander kant, in die jongste uitgawe van Groot verseboek sê André P Brink dat daar reeds ‘literêre amnestie’ aan my verleen is.”

In Beeld van 29 Junie 1969 het David gesê dat dit dalk mag wees dat hy die betrokke Sweedse gedigte of vertalings gelees het; hy kon nie onthou nie. Hy het dit in elk geval nie voor hom gehad toe hy syne geskryf het nie. “Ek lees baie wyd. Ek lees nie net Afrikaanse en Engelse poësie nie, maar ook Italiaanse, Spaanse, Portugese, Duitse, Amerikaanse, Suid-Amerikaanse, Oosterse, Russiese en Indiese poësie; soms, toegegee in vertaling.

“Sweedse poësie kan ek, met woordeboekhulp, in die oorspronklike lees. ’n Mens hoef nie altyd ’n taal te ken om dit te lees nie. Ek maak aantekeninge van wat ek lees. En dit mag wees dat ek op die ou end ’n gedig daarvan maak. So what? Die letterkunde word immers deur die letterkunde gevoed. [...]

“Wat word op stuk van sake met so ’n ‘uitwysery’ bereik? ’n Gedig is goed of vrot. Hoe dit ontstaan het of wat die sogenaamde oorsprong is, maak nie saak nie. Ware poësie kan tog nooit vertaal word nie. Ook ’n goeie vertaling is in eie reg ’n skepping.”

In die uitgawe van Groot verseboek wat na Klein grys telegramme verskyn het, is DPM Botes weggelaat. Dit het hom seergemaak en dit is hoekom hy die voltooide manuskrip van sy volgende bundel verbrand het. “My gevoel was eenvoudig dat as Afrikaans kan bekostig om sonder my klaar te kom, as literatore eenvoudig die werklikheid van my bestaan op ’n Russiese manier wil doodswyg, dan wil ek geen deel aan daardie taal hê nie, want ek kan nie dieselfde taal praat as hulle wat van my taal iets afskuweliks probeer maak nie,” het Botes aan Oggendblad gesê.

Hy het egter nooit opgehou dig nie. “Ek het my gedigte geskryf en as ek iemand vind wat daarvan hou, dan gee ek daardie gedig net so aan daardie persoon. Waardering van een is tog beter en aangenamer as verguising deur ’n massa beterweters. Só het ek twee bundels haikoes geskryf en aan belangstellende persone gegee. Van die een, Soet wêreld, bestaan daar tien eksemplare en van die tweede een Steeds die rivier wat ’n taamlike lywige bundel is, slegs een eksemplaar. Ek het die heerlike wete dat ek hierdie boeke, wat eintlik nog manuskripte is, aan mense gegee het wat ek lief het.

“Ek het dus aangehou skryf. En die resultaat (Psalms van David) sien u hier. Want later het ek besef dat ek my met beuselagtighede besig hou deur my te steur aan die persone wie se beroep dit blykbaar is om die literatuur in hierdie mooi land van ons, nek om te draai.”

Maar Botes was nog nie klaar met die Afrikaanse poësie nie. In 1973 het Perskor sy Psalms van David uitgegee. Die titel is ’n toespeling op die psalms van die Bybelse Dawid. tog hou dit geen direkte verband daarmee nie. Dis ’n ironiese selfspot, ’n weemoed wat dieper lê as wat die oë kan sien, skryf Jeanne Goosen (Oggendblad, 29 Desember 1973).

Ná die verskyning van Psalms van David het Botes gesê dat hy die vorige twee jaar baie nagte gelê en wonder het of dit die moeite werd sou wees om voort te gaan en of hy nie maar liewer heeltemal moes swyg nie. “Dit was moeilike jare waarin ek weer moes probeer om die geloof en vertroue in myself te herstel.”

Vir PD van der Walt (Transvaler, 4 Maart 1974) is hierdie nuwe bundel verse van Botes deurgaans liriese woordkuns, “soos deur die newetitel (himnes, liefdesbriewe, elegieë) aangedui word. In sy bundel gebruik Botes die woord himne in die sin van ‘lied’ en nie in die godsdienstige sin nie, en moet die leser liefdesbriewe verstaan as ‘liefdesgedigte’. Meer as die helfte van die gedigte in die bundel is minnepoësie.

“Hierdie poësie is moderne poësie of die vrye vers. Die digter hou hom wel aan die dissipline van die versreël en die strofe, maar dié varieer hy kwantitatief (byvoorbeeld lengte) en kwalitatief (klank, ritme, beeldspraak) van gedig tot gedig en binne dieselfde gedig. Daarmee word ’n sekere eenselwigheid wat tema betref, soos die liefde vir ’n beminde, gekanselleer en lees ’n mens by die persoonlike emosie verby en word betrokke by die woord-word van die liefdesvreug of die klag.

“Dit is immers hierdie taalgestalte wat die leser die meeste boei, en die unieke taalekwivalent van die private emosies is die voorwaarde vir poësie. Van dié taalgestalte is Botes se beeldende vermoë seker die opvallendste aspek. Die beeldspraak konkretiseer en suggereer nie net nie, maar het ’n verstewigende uitwerking op die liriese karakter van die verse en laat die gedagte en gevoel oor die grense en die persoonlike ervaring en die vers self heen reik.”

In Rapport van 7 April 1974 het André P Brink geskryf: “Die bundel bestaan oorheersend uit liefdesverse met ’n virtuose beeldrykheid wat mens van bladsy tot bladsy verras. [...] Die kardinale gebrek in Psalms van David is die digter se te-veel: veral ’n te-veel aan beelde wat om hul eie mooiheid of verrassing vertroetel en uitgestal word. Die kardinale deug is die gekontroleerde proses van metamorfose wat uit die beste verse blyk. Maar selfs dáár is dit swaar om verby die déjà vu te kom: nie in woordelikse eggo’s of naskrywery nie, maar in die subtieler en ernstiger gevaar van verslawing aan ’n reeds bekende trant – en dan bekend selfs in Botes se eie vroeër werk.”

In 2012, na ’n stilswye van byna 40 jaar, verskyn Van ’n skaap in wolfsklere by Tormentoso. “Dit is ’n vyftigtal nuwe verse wat deur ’n groepie vriende van Botes byeengebring en gepubliseer is. Hierdie voorheen ongepubliseerde verse is die werk van ’n bedrewe digter en bevestig telkens waarom DPM Botes in die laat 1960’s as so ’n belangrike toevoeging tot ons digkuns gereken was. Dit is meestal toeganklike, melancholiese verse deur ’n ouer persoon wat terugkyk op ’n verlede wat gevul is met ontnugtering en verlies. Tog ook fyn gestruktureerde verse wat die lewe vier met ontroerende beskouings oor presies wat dit is wat sin en waarde verseker in die bestaan van elke individu.” (uitgewers se inligtingstuk)

In ’n onderhoud met Johann Lodewyk Marais op Versindaba in Augustus 2012 het David die volgende oor Van ’n wolf in skaapsklere te sê gehad, asook oor die lang tydperk wat daar tussen sy laaste twee bundels verloop het: “Kritiek maak my seer en ek dink dit is beter om nie te publiseer nie en wat jy skryf vir jouself te hou eerder as om seer te kry. My goeie vriende Cobus Ferreira en Schalk le Roux wou die boek uitgee en ek het geswig en ingewillig.”

Op ’n vraag of hý die skaap in wolfsklere in die bundel is, het hy toegegee dat dit miskien wel so is, maar dat daar dalk ander lesers is wat soos hy voel en met die skaap vereenselwig.

In hierdie bundel het Botes voortgegaan om, soos in sy eerste drie digbundels, gebruik te maak van die rymlose, vrye vers waarin hy dikwels van herhalende patrone en beelding gebruik maak. “Ek skryf uitsluitlik in die vrye vers. Dit verg baie streng dissipline. Rymende verse kan so maklik tot rymelary lei, soos in DJ Opperman se versdrama Periandros van Korinthe.”

Vir Marais speel beelding ’n groot rol in Botes se werk. Hy wou weet of dit vir Botes die waarmerk van goeie poësie is en of daar ook plek is vir die narratiewe vers wat deesdae as ’t ware mode in Afrikaans geword het. Hierop het Botes so gereageer: “Ek skryf vrye verse en Uys Krige het my destyds daarmee gekomplimenteer. Beelde vorm die grondslag van my werk – iets wat ek by die Surrealiste, Dadaïste en Ekspressioniste geleer het. Die modeparade van sogenaamde narratiewe digters laat my so effe koud, want ek het ’n afkeer in modes.”

Liefde en eensaamheid speel ’n belangrike rol in die nuwe bundel. Vir Botes is liefde universeel en vorm dit die grondslag van die menslike bestaan – of jy wit, bruin, geel of swart is. Dit is iets wat ons in hierdie groot land moet leer: die land van droefheid, moorde, sy eensaamheid. Eensaamheid en alleenheid.

Oor die hele plagiaatkwessie het Botes op Versindaba aan Marais gesê: “Plagiaat is ’n hoogs omstrede begrip. Dan pleeg die predikers seker elke Sondag plagiaat soos hulle die Bybel en Koran gebruik. Ek onthou die bohaai en die artikel van Roswita Schutte in Standpunte en Rykie van Reenen wat dit destyds op ’n koerant se voorblad uitbasuin het. Intussen staan Standpunte en Rykie van Reenen nie meer nie en lê begrawe, maar die twee gedigte leef voort. Die Wurm-storie was van ene Peter Horn – self ’n Enzensberger-epigoon. Wopko Jensma het hom beveel om nie meer sy neoliberale ‘gedigte’ aan Jensma (nou oorlede) te stuur nie – dis nou die pogings wat destyds in Ophir verskyn het. Enzensberger self het sy werk – een ganse bundel – gebruikspoësie genoem en waarom kan ek dit dan nie gebruik om ’n ander gedig te maak nie? Is Opperman se gedigte op Eugène N Marais en koerantberigte en dié van TT Cloete dan nie ook plagiaat nie? Wat is die verskil tussen parodie en plagiaat? ’n Digter, Melanie Grobler, is ook van plagiaat van Anne Michaels beskuldig – tog was dit ’n mooi Afrikaanse gedig. Nee, plagiaat is moeilik en omstrede. Wessel Pretorius het my destyds verdedig. En watter letterkundige kritici het iets betekenisvol gesê of geskryf? Van Roswita Schutte is niks weer gehoor nie – ook maar ’n eendagsvlieg.”

Schutte het ook geskryf dat “flagrante oorskrywery soos hierdie ’n mens dwing om ’n vraagteken agter DPM Botes se digterskap te plaas” en hierop het Botes as volg geantwoord: “Wat is die effek van so ’n artikel? As mense dan die poësie, oftewel die Afrikaanse literatuur en die skeppende kunstenaar wil vernietig, moet hulle maar daarmee voortgaan.” (bron en datum word nie op knipsel vermeld nie)

Skrywers wat David beïnvloed het, was veral Paul Éluard, Robert Desnos, Picasso (wat ook ’n drama en gedigte geskryf het), Lucebert, Jean-Paul Sartre en, in Afrikaans, Uys Krige, veral sy vertalings van gedigte in Spaans-Amerikaanse keuse. “Dan is ek baie, baie, baie beïnvloed deur die werk van Pablo Neruda, een van die grootste skrywers wat die wêreld opgelewer het. Hy het baie geskryf, maar ek het ’n groot bewondering vir alles wat hy geskryf het.” (aan Johann Lodewyk Marais in ’n onderhoud in Spilpunt, 2004)

David was bekend as ’n poliglot en hy kon ook braille lees. Hy was ’n keer die sekretaris van ondersoek na die literatuurbehoeftes van die blindes. “Tale boei my eenvoudig. Ek vertaal ’n bietjie uit Sweeds, Noors, Deens, Duits, Portugees, en Frans en nog so ’n paar ander tale. Tans (in 2004) is ek besig om Mao Tze-toeng se gedigte uit Engels in Afrikaans oor te sit.” (Spilpunt, 2004)

DPM Botes is op 2 Junie 2013 in Pretoria aan ’n hartaanval oorlede. Hy laat sy vrou Martie agter.

Die Suid-Afrikaanse Kultuurvereniging het DPM Botes in Julie 2013, ’n bietjie meer as ’n maand ná sy dood, met ’n erepenning vereer. Hy was vanaf die ontstaan van hierdie vereniging as taalversorger verbonde aan die vaktydskrif. Estelle Pretorius het aan Neels Jackson (Volksblad, 15 Julie 2013) gesê dat die vereniging reeds voor sy afsterwe besluit het om hom met hierdie toekenning te vereer. Dit is toe later aan sy vrou, Martie, oorhandig. Sy as is ook by die geleentheid in ’n nis in die Voortrekkermonument se nistuin geplaas.

Huldeblyke

Wessel Pretorius: “Ek het hom ontmoet net nadat sy Wat is ’n gewone man verskyn het in 1965, in sy woonstel Gaylene in Pretoria en hy het my bekend gestel aan ’n rykdom van internasionale digters. Elke besoek aan David het my verryk met eksemplare van digbundels wat ek andersins as ’n redelik arm ingenieurstudent nooit sou bekom nie. Botes is destyds aangekla van plagiaat, in my siening verkeerdelik so, want hy het ook nuwe interpretasies gegee aan die vers(e) wat hy sogenaamd ‘gesteel’ het. Was dit nie vir DPM Botes nie sou ek sekerlik nooit gedig het nie. Hy was een van ons eerste surrealistiese digters, afgesien van liriese en minnedigter.” (bron en datum onbekend)

Johann Lodewyk Marais: “Hy was ’n digter met ’n avant-garde inslag en beoefenaar van die vrye vers en ’n besonder intelligente en goed ingeligte mens. Hy het ’n geweldige liefde vir boeke en kuns gehad. Ek het die indruk gekry hy was ’n randfiguur en dat hy ’n groter rol kon gespeel het, maar dat sekere faktore dit verhoed het.” (Netwerk24, 4 Junie 2013)

Johann Lodewyk Marais: “Met DPM Botes se dood het die Afrikaanse literatuur ’n boeiende maar later grootliks afwesige figuur verloor. Die laaste keer toe ek by sy huis was, het ek ’n steggie van die spekboom by die hek gepluk. Ek koester dié herinnering in ’n pot grond.” (Netwerk24, 6 Junie 2013)

Publikasies:

Publikasie

Wat is ’n gewone man?

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Ingrid Jonker-prys 1967

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Antonissen, Rob: Wat is ’n gewone man. Uit: Spitsberaad, Nasou
  • Ingrid Jonker-prys vir poësie aan DPM Botes. Ons Erfdeel, 1967–1968
  • JME: Botes ’n belangrike jong digter van die Sestigers. Dagbreek en Sondagnuus, 26 September 1965
  • Lewis, JH: Gedigontledings vir Afrikaans T2 [“Wat is ’n gewone man”]. Klasgids, Mei 1998
  • Muller, Martie: Bespreking van gedigte uit Digters en Digkuns [“Wat is ’n gewone man”. Klasgids, Augustus 1992
  • Van Rensburg, FIJ: Wat is ’n gewone man. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Maart 1966

 

Publikasie

Klawer. Saam met Menno Stenvert en PA de Waal Venter

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Klein grys telegramme van die wêreld

Publikasiedatum

1967

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Meij, Koos: DPM Botes se Klein grys telegramme van die wêreld. Vaderland, 1 Desember 1967
  • Van Rensburg, FIJ: Bundel verryk dié verse in Afrikaans. Volksblad, 1967 [res van datum nie duidelik op knipsel nie]

 

Publikasie

Psalms van David: himnes, liefdesbriewe, elegieë

Publikasiedatum

1973

ISBN

062800429X (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P: Botes is terug by digtende digters. Rapport, 7 April 1974
  • Goosen, Jeanne: Botes se nuutste is ’n prys werd. Oggendblad, 29 Desember 1973
  • Grobler, H: Psalms bied stof tot nadenke. Hoofstad, 3 Mei 1974
  • Kruger, Joan: Die derde B in digkuns sing weer van liefde. Vaderland, 7 Januarie 1974
  • Liebenberg, Johan J: Jonkheid klink op uit poësiestemme. Vaderland, 16 Augustus 1974
  • Van der Walt, PD: Psalms van Dawid ná swye. Transvaler, 4 Maart 1974

 

Publikasie

ABC of guidance. Standard 5: Manual for pupils and teachers

Publikasiedatum

1989

ISBN

0620126655 (sb)

Uitgewer

Faerie Glen: Hans Kirsten

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Van ’n skaap in wolfsklere

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780987042705 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Tormentoso

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

DPM Botes as vertaler

  • De Villebois-Mareuil, Georges: Oorlogsdagboek van veggeneraal De Villebois-Mareuil. (Johan Rossouw, medevertaler.) Pretoria: Protea Boekhuis, 2000 [ISBN 1909825150 (hb)]
  • Dagboek bied blik op hoe SA destyds vir Europeër gelyk het. Die Burger, 11 Desember 2000
  • Franse dagboek unieke blik. Beeld, 8 Desember 2000
  • Van Bart, Martiens: Net een held in Franse generaal se lewe – hyself. Volksblad, 19 Februarie 2001
  • Fourie, Coral: Splinters uit die vuur: versamel en geredigeer deur Coral Fourie. (Gertrude Tesner, medevertaler.) Pretoria: Protea Boekhuis, 2001 [ISBN 1919825312 (hb)]
  • Kestell, JD: Met die Boerekommando’s. Menlopark: Protea Boekhuis, 2000
    Vertaal uit die Duits [ISBN 0620248718 (hb)]
  • Pienaar, Laetitia: “Geloofsoorlog” aangrypend geskryf. Volksblad, 6 Maart 2000
  • Van Bart, Martiens: Oorlogsjoernaal van Kestell in Afrikaans. Die Burger, 26 Augustus 2000
  • Van Wyk, At: Kestell beskryf oorlog-ervaring. Beeld, 29 Mei 2000
  • Stranger, Joyce: Pretoria: Daan Retief, 1988 [ISBN 0795914660 (hb)]

Artikels oor en deur DPM Botes

 DPM Botes se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2013-06-25 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top