Die mense noem hom maar so want hy is blykbaar stokdoof. Groot man, breë skouers. Groot snor amper soos die RSM by 4SAI. Altyd 'n veraf uitdrukking in die gesig soos 'n koei wat sak. Kan sonder 'n sweisbril 'n reguit lyn sweis.
Ek vermoed sy naam is wel Piet want sy vrou beduie altyd in sy rigting as sy met hom praat: "Herre, Piet, is jy verdomp doof?" Ek vra hom egter nie want, soos ek sê, is hy stokdoof. Ek het hom nog nooit in enigiets anders as 'n rugbybroekie en uitgetrapte Crocs (sekerlik die lelikste skoeisel ooit) gesien nie. Pavement special half hond, half pedigree deurmekaarspul steekhaarbrak hondjie altyd al draffende agterna en al pissende teen enigiets wat nie na eie huis ruik nie. Ek het sy hond al gesien pis teen dieselfde plek waar hy net gister gepis het, so ek vermoed die ding van teen alles beenlig is dalk 'n aanwensel.
Dowe Piet en sy brak is altyd bymekaar. Of Piet nou in sy Corsa-bakkie teen stappas afry rivier toe met die visstokkie agterin om te probeer om 'n Grunter vas te trek en of hy vir sy maandelikse rit Spar toe ry sit die brak iewers voor in. Lyk ewe mens en ewe na sy baas. Maar Piet stap eerder. Dalk oor hy so stadig ry, ek wetie. Piet verstaan egter nie die ding van hond aan 'n halsband hou as jy op 'n besige pad wandel nie, so jy hoor vir Piet en sy hond van ver af aankom. Soms sal Piet roep na "Wielie" in sy hoë sopraanstem en Wielie steur hom basis minder aan Piet se geroep as wat Piet hom steur aan die deursnee stopstraat. Want Piet ry bloot aan en die spietkops het lankal tou opgegooi om hom te skrywe vir minagting van die provinsie se padtekens. Ek het 'n idee dis oorlat Piet doof is en as jy met hom praat hy al harder terug beduie: "Wat?" en soos jy weet, kan so 'n gesprek vir ewig aanhou. Veral as jy nie handgebare ken nie. En in elk geval, Piet het geen idee van handgebare nie buiten die normale middelvinger en soms 'n paar ander wat ons almal ken en goed verstaan.
Nietemin: Piet stap in en Wielie (ek wonder al lank wie de hel 'n arme hond so iets kan noem) loop merk die plek. Hy vra vir sy gewone pakkie Fox en blaadjies en vat soos gewoonlik heeltemal weg van die hand met die kleingeld en na 'n gesukkel is hy weer vort. Met Wielie en Kakkie (my Jack Russell) agterna. Niemand weet tot vandag toe hoe Kakkie deur die hekke en deure na buite gekom het nie, maar hy is soos blits agterna. Ek vermoed om die steekhaar pedigree gedoente vir eens 'n behoorlike les te leer.
Ek het die gille, skreeuende bande, en die slae so in sarsies gehoor. Uitgehardloop en totale chaos beleef. Kakkie het nie net 'n kar in sy glorie baklei nie, maar het dit oorleef en boonop vir Wielie 'n les of twee geleer en vir dowe Piet 'n ware les in hond-onder-beheer-hou ook. Kakkie het basies 'n knop teen die kop en enkele merke op sy lyf oorgehou. Die nuwe model Ford het kom staan met 'n radiator, wel, in sy moer in, eienaar nog erger die moer in en Dowe Piet wat bly vra vir almal wat dan nou weer aangaan? Steekhaar Wielie steeds aan’t been lig nou teen die wrak Ford se wiele een vir een.
So loop die dae en Dowe Piet en sy Fox-tabak en Wielie wat steeds, wel, been lig en soek na tewe. Tot die dag wat ek genoeg gehad het van hondepis droogvee teen die meel en die Ps en die Astros. Staan en Russiese worsies en slaptjips bak vir 'n bestelling en Dowe Piet tik teen die toonbank en beduie met sy hand vir Fox en blaadjies. Ek wys hom ek’s nou by hom en hy beduie hy is nog rustig ek kan aangaan. Vra my in sy falsetto stemtoon waarmee ek besig is. Ek draai my rug op hom en beduie skaars hoorbaar: "Ek is besig om nuwe tyres op die rims te sit, Piet."
"Maar jy praat mos nou kak, man! Ek kan mos sien jy is besig met vis en tjips! Waar’s die kar dan, want ek sien niks hier buite wat op blokke staan nie!"
Dit was skaars noudiedag, maar ek het my daar en dan voorgeneem om nie gou weer saggies te praat as mense doof is nie. Want daar moet iewers 'n rede wees waarom hulle op die oog af doof en steeds spraaksaam is.
Groete uit Oesterland
oester

