Digterstuin: in sy laaste dae

  • 0

in sy laaste dae
gaan hy met ‘n panga
tuin toe

hy kyk nie
na die bome nie

hy sien nie
die blomme nie,
ook nie die vet groente,
rissies, kole,
bete, blaarslaaie nie

hy sien nie
die vlug van ’n perdeby nie,
nie miere nie,
nie wit wurms
in die binnekant van die grond nie,
nie die ruimtestasies
wat spinnekoppe
in die nebulas van kaktusse
spin nie

hy kyk nie na die lug
en die dinge wat die wind doen nie

hy steur hom nie
aan die vuur wat die berg beetkry
en swartrug laat nie

hy is onbewus van die gras
en die nat wat soggens aan die gras klou

in sy laaste dae
weet hy nie
van die verlange en vrees
van die vrou in sy bed nie

hoe sy luister
as hy sukkel met die deur
hoe sy haar asem inhou
as hy vloek
hoe haar hart vlak
in haar ore sing
as die lem
deur die silwer stilte
gly

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top