Die wysheid van die plante: Enkele gedagtes oor Willem Anker se Siegfried

  • 0

Siegfried
Willem Anker
Kwela Boeke
Augustus 2007
ISBN-13: 978-0-7957-0254-9
Sagteband
288 pp

Klik hier en koop Siegfried.

 


Met hierdie opwindende debuut van Willem Anker slaan die Afrikaanse roman nuwe rigtings in.[1] ‘n Mens sou seker kon praat van ‘n soort “deterritorialisering” en “reterritorialisering” van die Afrikaanse roman. Siegfried karteer ‘n reeks onvoorspelbare bewegings of “vluglyne”: Siegfried en Smet (‘n vervorming van Smit, een van die baie speletjies wat met name gespeel word in hierdie roman[2]) wat die plaas verlaat op soek na Siegfried se moeder se familie in die stad; die verteller in deel 2, wat ná ‘n oordosis pille bewegingloos lê en gedagtespronge maak, slingerend op reis deur sy eie verlede;[3] die nomadiese, ondergrondse teater van Georg Fafnir ...

Nomades in ‘n nomadiese boek. Die roman kom in beweging en gaan met sigself op loop. Dit beweeg lateraal oor ‘n “gladde oppervlak” en ondergaan in die proses verrassende transformasies. Hierdie transformasies is ongemotiveerd: eerder as dat dit ‘n sentrale idee beliggaam, ‘n soort gegewe wat die roman in sy wording voorafgaan en produksie ondergeskik stel aan betekenis, neem dit die vorm aan van ‘n reeks dinamiese, immanente koppelings tussen komponente. Eerder as dat die roman gekomponeer is met vaste elemente wat in ‘n bepaalde orde opgestel en volgens ‘n gegewe logika voltrek word, is dit ‘n maaksel van voortdurende wording en variasie.

Ek gebruik hier doelbewus terme soos deterritorialisering, retorritorialisering, vluglyne en gladde oppervlaktes: met Siegfried betree die Afrikaanse letterkunde ook ander, miskien minder bekende teoretiese terrein, naamlik die werk van Deleuze en Guattari[4] (hierna: D&G).

D&G is natuurlik eerstens bekend vir hulle boek Anti-Oedipus. Inderdaad, Siegfried konfronteer die oedipale gegewe. Dit begin immers met die dood van Siegfried se vader (die eerste sin is: “Sy pa loop uit en val om.”) en volg Siegfried en die insek-etende skrywer Smet op reis na die stad om die familie van Siegfried se moeder op te spoor. Die moeder wat vir Siegfried, die swaksinnige seun met die gewebde hande en voete, in die Karoo by sy pa agtergelaat het. Die moeder wat volgens Siegfried ‘n meermin is, wat in die see woon. Nog ‘n nomadiese beweging; nog ‘n wording.

Maar dit is D&G se latere werk, A thousand plateaus (hierna: ATP), wat die belangrikste aansluitingspunte bied vir die lees van hierdie roman, en waarin die idees oor letterkunde, skrywerskap en die aard van die boek wat in Siegfried geoperasionaliseer word, die duidelikste uiteengesit is.[5] Anker maak ook geen geheim van sy filosofiese skatpligtigheid nie:

01:28 Spring na die roadtrip op Pretoria toe, vier jaar gelede. Spring na die N1. Jy is ‘n Karoo-landskap. Jy is ‘n klomp koppies wat hier en daar opskiet uit die grond uit. Elkeen is jy. En word vernietig deur die erosie en die wind. Spring na waar jy die erosie en die wind is, die lug tussen al die duisende plato’s. Jy is wat jy nie is nie (p 129, my klem).

Die leser sou kon aangaan en aangaan om gedagtes, idees, konsepte, formulerings en stilistiese grepe uit D&G se merkwaardige boek in Siegfried na te speur: nomadiese beweging en reis; die see en die stad as onderskeidelik gladde en gegroefde ruimtes;[6] apparature van gevangeneming (“capture”); die eienaam;[7] plante, bome en insekte; snelhede en intensiteite; en allerlei vluglyne (“lines of flight”), in die taal van D&G. Siegfried gaan immers op loop met ‘n woordeskat van spring, vlug, val en ry. Hier volg twee verdere uittreksels uit die roman wat sekerlik herinner aan D&G se konsep van die Liggaam sonder Organe:

Maar dis net vel, net buitekant. Dis hoe jou lyf is, gespande vel sonder binnekant, jou organe in jou hard drive, in ‘n duisend goed rondom, buite jou. Elke TV, elke microwave net soveel orgaan as jou longe[8] (p 105).

As hy buite is of in plekke wat vol goeters is dan voel hy deel van die goeters wat nie sy lyf is nie dan is sy lyf net ‘n stuk van die hele plek (p 195).

Die belangrikste wyse waarop Anker D&G egter mobiliseer in sy teks, is deur aansluiting te vind by hulle opvattings oor die nomadologie, veral wat betref die nomadiese denke en die nomadiese boek. Siegfried is ‘n vreemde en bevreemdende leeservaring. Soos reeds genoem, ondergaan die roman ‘n reeks verplasings, versnellings, en soms katatoniese sametrekkings, op maniere wat nie noodwendig spreek van ‘n oorkoepelende ontwerp of wat koherent afstuur op ‘n narratiewe ontknoping nie. Alhoewel onderling met mekaar verbind, wortel die verskillende dele van die boek ook onafhanklik van mekaar uit. Die vier dele van die boek is dus nie lae wat hiërargies en logies op mekaar bou nie; ons het nie hier te make met ‘n struktuur waar die simboliek en vraagstukke van een deel van die boek in terme van daaropvolgende dele ontsluit word nie. Dit is eerder ‘n geval van (in die woorde van D&G) plato’s wat naas mekaar lê, oppervlakke wat horisontaal verbind word, wat beide na mekaar en weg van mekaar af groei – ‘n “risoom” in die taal van D&G. Hier is hulle siening van wat ‘n boek is:

A book has neither object nor subject; it is made of variously formed matters, and very different dates and speeds. To attribute the book to a subject is to overlook this working of matters, and the exteriority of their relations. It is to fabricate a beneficent God to explain geological movements. In a book, as in all things, there are lines of articulation or segmentarity, strata and territories; but also lines of flight, movements of deterritorialization and destratification. Comparative rates of flows on these lines produce phenomena of relative slowness and viscosity, or, on the contrary, of acceleration and rupture. All this, lines and measurable speeds, constitute an assemblage. A book is an assemblage of this kind and as such is unattributable (ATP, p 4).

Siegfried is presies hierdie soort boek: ‘n “assemblage” (lees hier: ‘n versameling, maar ook ‘n “menigte”); ‘n proses wat teen afwisselende snelhede en intensiteite beweeg; ‘n abstrakte masjien wat vluglyne produseer – uit die oedipale dramas en meesternarratiewe van die Afrikaanse letterkunde uit, dalk – eerder as ‘n meganisme wat doelgerig op ‘n betekenis afstuur. D&G maak die verdere opmerking: “There is no difference between what a book talks about and how it is made” (ATP, p 4). Al wat ‘n boek het, is homself, en die uitwendige koppelings met dit waaruit dit saamgestel is en tot wording kom. In die geval van Siegfried is hierdie komponente nie net die werk van D&G nie, maar ‘n warboel verwysings na die Afrikaanse letterkunde, na Wagner se operas, na ou Noorse en Germaanse volksverhale, en nog baie ander. Die vraag wat die leser moet vra is nie: wat beteken dit alles nie? Die vraag om te vra is eerder: Hoe en waarmee word die boek? En dalk: Watter ander wordings word deur die boek moontlik?

We will never ask what a book means, as signified or signifier; we will not look for anything to understand in it. We will ask what it functions with, in connection with what other things it does or does not transmit intensities, in which other multiplicities its own are inserted and metamorphosed ... (ATP, p 4).

Daarom is skryf vir D&G ‘n proses van deterritorialisering:

Write, form a rhizome, increase your territory by deterritorialization, extend the line of flight to the point where it becomes an abstract machine covering the entire plane of consistency (ATP, p 12).

Siegfried gaan nie oor D&G se filosofie nie. Hierdie aanhalings en begrippe is ook nie sleutels wat die boek ontsluit nie. Hulle is eerder aansluitingspunte van waar die roman al lesende vorm kry. Siegfried word, benewens baie ander dinge, ‘n boek wat die bekende gegewens van die plaas en die stad in die Afrikaanse literatuur ondergrawe en opnuut ontgin. Dit is ‘n boek wat praat oor ontworteling, verplanting en ten gronde gaan, miskien die sleutelobsessies van die Afrikaanse roman, maar dan op heeltemal vars maniere.

Die omslag van Siegfried wys ‘n boom waarvan die wortels, of die punt waar die boom in die aarde anker, nie sigbaar is nie. ‘n Gedeterritorialiseerde boom. In die denke van D&G staan boom teenoor risoom: die boom met sy vertakkinge is die beeld van hiërargiese, modernistiese denke. “The tree imposes the verb ‘to be,’ but the fabric of the rhizome is the conjunction, ‘and ... and ... and ...’” (ATP, p 27).[9] Siegfried self dra ‘n plant met hom saam gedurende sy lang reis van die plaas af na die stad; hy sorg daarvoor op pad, in die woonstel waar hy saam met Maggie bly, in die gestig, en uiteindelik in die ondergrondse teater van Fafnir. Op al die stasies van sy reis.

Op die ou end plant Siegfried sy boom langs die pad in Seepunt. Wat moet die leser hiervan maak? Ek is nie seker nie. Siegfried is nie ‘n raaisel nie, en ‘n mens sou veelvuldige lyne deur hierdie boek kon trek. Eerder as ‘n individuasie-verhaal moet dit dalk benader word as ‘n verhaal oor die “outcome of the most severe operation of depersonalization”, ‘n ont-ankering van die self, daardie punt waar ‘n mens, volgens D&G, jou ware naam kry. Maar dan nie ‘n naam as simbool van geïntegreerde self, ‘n gefortifiseerde “ek” nie: “The proper name is the instantaneous apprehension of a multiplicity” (ATP, p 42).

Hy trek ‘n gymkaart uit en kyk na die vaal foto, hy voel sy een oog effens spring. R.A. Visser. Hy onthou iets van ‘n Visserman. ‘n Engelsman. ‘n Fletcher. Fischer. Visser. ‘n Naam ver weg. Dreg, weg (p 253).

Willem Anker se Siegfried is nie ‘n maklike roman om te lees nie; dit kom in verset teen die leser se geneigdheid om ‘n boek te probeer “vasvang”. Tog loon dit die moeite, en nie net omdat die werk vernuwend is in Afrikaans nie. Dit is ook ‘n roman vol fassinerende karakters en baie, dikwels slinkse, humor. Ek sou nog kon sê, maar miskien moet die laaste woord van D&G kom:

The wisdom of the plants: even when they have roots, there is always an outside where they form a rhizome with something else – with the wind, an animal, human beings ... (p 12).

 
 
Notas


[1] Willem Anker het ook al ‘n paar suksesvolle toneelstukke geskryf, waarvan een, Slaghuis, in 2007 gepubliseer is. Hy doseer in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, en in sy doktorale navorsing lees hy Afrikaanse literêre werke deur die bril van Deleuze en Guattari.

[2] Volgens Deleuze en Guattari (A thousand plateaus, 2007), wat ek meermale in hierdie resensie sal aanhaal, het die eienaam die volgende kenmerke: “The proper name does not designate an individual: it is on the contrary when the individual opens up to the multiplicities pervading him or her, at the outcome of the most severe operation of depersonalization, that he or she requires his or her true proper name. The proper name is the instantaneous apprehension of a multiplicity” (p 42).

[3] Die nomade hoef, volgens Deleuze en Guattari, nie fisies te beweeg nie: “They are nomads by dint of not moving, not migrating, of holding a smooth space that they refuse to leave in order to conquer and die. Voyage in place: that is the name of all intensities, even if they also develop in extension. To think is to voyage … Voyaging smoothly is a becoming, and a difficult, uncertain becoming at that” (A Thousand Plateaus, p 532).

[4] Gilles Deleuze (1925–95) was ‘n filosoof en Felix Guattari (1930–92) ‘n psigoanalis. Saam het hulle ‘n reeks invloedryke boeke geskryf, insluitende Anti-oedipus (1972) en A thousand plateaus (1980).

[5] Alle aanhalings kom uit Gilles Deleuze & Felix Guattari (2004), A thousand plateaus, Continuum Press, Londen en New York. Die werk is oorspronklik in Frans uitgegee in 1980, en die eerste keer in Engels in 1987.

[6] “In contrast to the sea, the city is the striated space par excellence; the sea is a smooth space fundamentally open to striation, and the city is the force of striation that reimparts smooth space, puts it back into operation everywhere, on earth and in the other elements, outside but also inside itself. The smooth spaces arising from the city are not only those of world-wide organization, but also of a counterattack combining the smooth and the holey and turning back against the town: sprawling, temporary, shifting shantytowns of nomads and cave dwellers, scrap metal and fabric, patchwork, to which the striations of money, work, or housing are no longer even relevant. An explosive misery secreted by the city …” (ATP, p 531).

[7] Sien Nota 2.

[8] Die verteller in die tweede deel van die roman verwys telkens na TV, bv: “Die sitkoms en TV-reekse is jou kollektiewe onbewuste” (p 115). D&G skryf oor TV-verslawing die volgende: “But one is enslaved by TV as a human machine insofar as the television viewers are no longer consumers or users, nor even subjects who supposedly ‘make’ it, but intrinsic component pieces, ‘input’ and ‘output’, feedback and recurrences that are no longer connected to the machine in such a way as to produce or use it. In machinic enslavement, there is nothing but transformations and exchanges of information, some of which are mechanical, others human” (ATP, p 506).

[9] “We’re tired of trees. We should stop believing in trees, roots, and radicles. They’ve made us suffer too much” (ATP, p 17); “Many people have a tree growing in their heads, but the brain itself is much more grass than a tree” (p 17); “The tree and the root inspire a sad image of thought ...” (p 18). Dit sou dalk interessant wees om teen die agtergrond van hierdie opmerkings oor bome weer te luister na Rian Malan se lied “Bloekomboom” en dit te vergelyk met Siegfried se verhouding met sy plant ...

 


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top