Die wonder van 'n taal - vir Jan Rap

  • 1

Beste Jan Rap,

So, jy verstaan nou dat Afrikaans besig is om te verander, en dit hinder jou nie meer nie. En tog pla die verandering jou? Feit van die saak is, nie ek of jy of enigiemand anders kan iets doen aan hierdie verandering nie. Niemand kan die Afrikaanssprekendes van hierdie land verbied om ’n woord soos achieve te gebruik as hulle Afrikaans praat nie. Dit sê ek natuurlik met voorbehoud. Die Afrikaanssprekende is alreeds verbied om k-woorde te gebruik, presies soos in ’n Orwelliaanse distopia met Newspeak.

Dat Afrikaans verander is natuurlik niks nuuts nie; dit gebeur al eeue lank met alle tale. Dat die mensdom kla oor hierdie veranderinge van tale, is ook niks nuuts nie; die mensdom doen dit al eeue lank.  Ons hoef nie ver te soek nie. Kyk maar na die ontstaan van Afrikaans, wat ek al talle kere aan jou voorgehou het. Hierdie vrot taal wat die inwoners hier aan die Suidpunt van Afrika praat, is verag, sleggesê, en onderdruk met houtplakkate wat om kinders se nekke gehang is as hulle dit durf waag om  Afrikaans te praat. Die uiteinde van die saak is ’n nuwe taal, waarop ons trots is.

Nou begin die taalstryd maar weer van vooraf. Hierdie geradbraakte, gatlekgemorstaal is die begin van ’n nuwe dialek van Afrikaans, wat uiteindelik ’n nuwe taal tot gevolg sal hê, waarop die sprekers daarvan oor twee- driehonderd jaar trots sal wees. In die SêNet-argief sal daar aangeteken wees dat ’n ene Jan Rap in 2013 hulle geliefde taal as geradbraakte gatlektaal beskou het.

Reeds so vroeg as 1685 skryf die besoekende kommissaris aan die Kaap, H A van Rheede tot Drakenstein, in sy joernaal: “Hier is een gewoonten onder ons volck dat lerende dese inlanders (d.i. die Hottentotte) de Nederlandsche spraek, en dat deselve dié op haer manieren seer krom en bij nae onverstandelijk spreken, soo volgen de onse haer daer in nae, ja soodanigh de kinderen van onse Nederlanders haer dat mede aanwendende, een gebroken spraek gefondeert werd die onmogelyck sal wesen nae de hand te verwinnen.” Toe al is gesien dat die taal van die inwoners van die Kaap (blank sowel as Hottentotbediendes) anders is, en siedaar! Die eerste saadjies vir Afrikaans is alreeds toe gesaai.

Hierdie aanraking tussen Nederlands en Hottentots het gelei tot, soos jy dit noem, verbastering, en hierdie verbasterde taal het gelei tot Afrikaans.

Jy sê jy is ’n voorstander vir die verandering van Afrikaans, maar ek sou graag by jou wou hoor hoe jy die verandering sien sonder die “verbastering” met ander tale. Hoe gaan die Afrikaanse woordeskat uitbrei sonder ander tale? Ek weet jou antwoord sal wees dat leenwoorde toelaatbaar is as dit noodsaaklik is, as dit ’n leemte vul, maar hoeveel leemtes het Afrikaans dan? En hoe weet jy “achieve” vul nie ’n leemte nie?  Ek het jou al voorheen daarop gewys dat dit nie in “suiwer Afrikaans” vertaal kan word nie, nog minder afleidings daarvan soos bv “achievement”. Die naaste wat ek daaraan kom is kordaatstuk, prestasie, sukses. (Eng. Success?)

Hoe sien jy die verandering van Afrikaans? Sal dit uiteindelik lei tot ’n nuwe taal?

Groete,

Angus

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top