Die wiel draai

  • 0

Naomi Meyer het vir haar vierjarige kind uit Mummy never told me begin voorlees:

Mummy never told me that life is full of little secrets ... Why must I go to school when Mummy was expelled from hers? Why do Mummy and Daddy lock me out of their bedroom? Where do they go at night?

Die illustrasies in die boek toets ook grense. Kaal mans en vroue jaag mekaar deur die blaaie.

Vir die (voor)lesende ma was daar rede tot gesprek. Met haar kind én met volwasse kenners. Sy het ’n paar kundiges op die gebied van kinderboeke uitgesoek en vir hulle gevra wat hulle van boeke soos hierdie dink. Sommige van die kundiges het gekies om die vrae as ’n geheel te beantwoord. Hier is die vrae en die antwoorde volg daarna:

Wanneer is ’n boek nie geskik vir kinders nie, en wanneer is ’n boek ’n goeie manier om ’n oop gesprek te hê?

Wat hierby aansluit, is: Moet oop gesprek deur ’n boek aangemoedig word? Is dit nie ewe moralisties of aanmatigend as om te sê ’n onderwerp is taboe nie? En is ’n boek nie bedoel om sommer net genot te wees nie – waarom ’n boek aan omstrede onderwerpe koppel? 

Hoe ver het Suid-Afrikaanse (Afrikaanse!) boeke nog nodig om te vorder voordat hulle die stof van omstredenheid afgeskud het en sommer net vrolike en tong-in-die-kies boeke raak? (Met ander woorde – ek sien kontroversie hier raak, maar dalk is hierdie onderwerpe bloot storiemateriaal as die kultuur waarbinne dit verskyn, nie eng en verstok dink nie.)

 As dit ’n kwessie is wat kinders raak, sal dit uit hul reaksie daarop blyk. As hulle nie weet waarvan jy praat nie, sal hulle tien teen een, soos my driejarige seun, sê: “Waarvan praat jy, Pappa?” En dit is die gepaste antwoord op enige pogings om omstredenheid te skep. Kinders – jong kinders – ontdek die wêreld heeltemal onbevange, die taboes is die ouers s’n, nie dié van die kind nie. Dit klink dus vir my asof Babette Cole se “Mummy never told me” die skrywer se perspektief is en nie soseer dié van die kind nie.

Toe my pa dit destyds nodig gevind het om die boekie Wat seuns moet weet in my hand te stop, was die angstigheid en verleentheid wat ek daaroor ervaar het, eerder my antisipasie van sý spanning daaroor. Ek het hom jare later teruggekry deur Kennis van die aand in sy hand te druk. Die wiel draai.

 

<<< Keer terug na die indeksblad vir hierdie seminaar.
 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top