Die Wetenskap

  • 5

Mense word dikwels aangeraai, ook hier op SêNet, om op te hou onsin praat en te gaan kyk wat Die Wetenskap sê. Of hulle word sommer direk gesê dat DW sus en so sê wat dan die finale doodsteek sou wees vir enigiets wat hulle as drogredenasie beskou.

Hierdie aanraaiers praat van Die Wetenskap asof dit een of ander alwetende entiteit is, iets soos 'n orakel wat in 'n hut in die middel van die bos bly of in 'n grot bo teen die berg.

Daar is nie so-iets nie, die wetenskap is maar net die versamelde natuurkennis wat die mens met moeite oor millennia oopgevlek, ontdek of afgelei het en opgeteken of mondeling oorgedra het. Aan hierdie versameling van natuurkennis word gedurig toegevoeg soos mense natuurverskynsels begin verstaan, verwantskappe tussen natuurverskynsels verklaar (en bewys) maar ook weggeneem soos mense agterkom hulle was op 'n dwaalspoor of daar het foute in hulle bewyse ingesluip.

Byvoorbeeld, op 'n stadium was dit deel van die wetenskap dat mans meer tande as vrouens het, dat 'n gewig van tien pond tien keer vinniger val as ene van een pond, dat lawaai 'n sonsverduistering herstel en dat fosfor 'n sekere kwaal genees. Ons weet hierdie kennis was wat mens wankennis kan noem en vorm nie meer deel van die versameling van kennis, of dan nou wetenskap, nie. Nie dat die wetenskap verander nie (behalwe dat die versameling kennis nou gedurigdeur uitbrei), sekere aspekte word net nou en dan verkeerd vertolk.

So mens moet maar versigtig omgaan met Die Wetenskap, mens weet nooit watter aspekte hy op hierdie stadium die kat aan die stert beet het nie.

Jan Rap

  • 5

Kommentaar

  • Jan Rap: Die wetenskap is nie ’n versameling kennis nie. Dit is ’n metode om kennis mee te bekom. Die stukke wankennis wat jy noem was in geen stadium wetenskaplike kennis nie omdat dit dateer uit ’n tyd voor mense verstaan het hoe wetenskap behoort te werk. En daardie wankennis is juis weerlê die oomblik toe geleerdes begin het om moderne wetenskaplike metodes te gebruik, dit wil sê metodes waarby waarneming en/of eksperimentering eerder as outoriteit of geloof of persoonlike voorkeur die finale arbiter van kennis is.

    Jy is natuurlik reg dat geen wetenskaplike feite ooit heeltemal finaal is nie. Dit is juis die wetenskap se sterk punt, want dit beteken ons kennis kan verbeter soos wat beter inligting beskikbaar raak. 

    Jy is ook reg dat mens nie te dogmaties behoort te raak nie. Dit is baie maklik om te verval in middeleeuse denkpatrone waar alles wat in ou en gerespekteerde boeke staan as absolute waarheid beskou word, en inderdaad is die wêreld van wetenskap (veral skoolwetenskap) vol sulke "feite" wat soveel herhaal word dat hulle op die ou end baie wyd, en selfs hier en daar deur professionele wetenskaplikes, aanvaar word. 

    Ek wonder hoeveel mense hier dink dat die lug blou is omdat hy die oseaan reflekteer, of dat donderweer veroorsaak word deur wolke wat teen mekaar stamp, of dat oermense en dinosouriërs kontemporêr was, of dat water wat by die bad uitloop in verskillende rigtings draai afhangende van watter halfrond jy in is. Hierdie tipe van stories word inderdaad eindeloos deur oningeligte volwassenes (insluitende laerskoolwetenskaponderwysers), en selfs meer oningeligte Hollywood-draaiboekskrywers herhaal. 

    Dit is dus heeltemal vanpas om uiters skepties te wees. Maar mens moet in gedagte hou dat sekere tipe kennis regtig teen hierdie tyd nogal heel seker is. Die aarde is regtig rond. Daar is regtig sulke goed soos siekteveroorsakende bakterieë. Lewe het regtig geëvolueer. Skeptisisme beteken nie mens druk jou oë en ore toe en skreeu "is nie! is nie!" Dit beteken ook nie jy vra stringe vrae wat reeds redelik bevredigend beantwoord is, en waarvan die antwoorde redelik vrylik beskikbaar is, op internetforums en sit dan triomfantlik agteroor en kyk hoe ander mense rondskarrel om jou navorsing vir jou doen nie. 

    Nie dat ek jou hiervan beskuldig nie, maar ek het hierdie tipe van ding nou al baie gesien. 

  • Brianvds:  Die wetenskap is wel ’n versameling kennis. Die aksie om hierdie kennis te bevestig as waar en korrek is die wetenskaplike metode. Jy kan wel aanvoer dat kennis wat nie deur die wetenskaplike metode bekom is nie inderwaarheid nie as 'kennis' beskou kan word nie soos byvoorbeeld Aristoteles se stelling oor die tande.

    Maar nou is dit ook so dat instrumente en gereedskap (waaronder ook wiskunde resorteer) verbeter het en steeds verbeter (tegnologie wat weer voortspruit uit kennis) en die mens word op die manier in staat gestel om die 'wetenskaplike metode' beter toe te pas. Daar is dan gevalle waar wetenskaplike kennis van die verlede uitgebrei, en selfs vervang, is deur middel van verbeterde metodes.

    Ek stem saam met jou; die oorgrote gedeelte van die wetenskap (versamelde kennis) is wel ware bewese feite soos dat die aarde (taamlik) rond is, kieme siektes veroorsaak word ens. 

    Dan weer is daar nog spekulasie oor baie ander dinge.  Die vorming van die maan byvoorbeeld naamlik dat ’n hemeliggaam brokstukke van die aarde afgeslaan het wat toe later deur ’n akkresieproses die maan gevorm het.  Dat lewe byvoorbeeld evoleer, of liewer in ’n gedurige proses van evolusie is, lyk logies aan die hand van getuienis, noem dit maar corpus delecti (fossiele, ooreenkomstige tussen huidige vorms ens) maar is dit streng bewys? Die ontstaan van lewe is egter nog ’n onderwerp van groot spekulasie.

    Onthou een ding, ’n postulaat of teorie se oorgang tot wetenskaplike feit word nie versterk (of verswak) deur wat wetenskaplikes as absurde alternatiewe beskou nie. Die spekulasie dat die maan byvoorbeeld uit aardbrokstukke gevorm is kry nie ekstra gewig omdat daar ’n alternatiewe teorie bestaan dat die maan van kaas gemaak is nie.

  • Thys Human (PTA)

    Jan Rap, ek kan nie help om so ’n effe van ’n vraende, dalk selfs twyfelskeppende houding teenoor die wetenskap op te merk nie.

    Neem bv. jou stelling oor  evolusie:  volgens jou lyk dit logies as ’n mens kyk na fossiele en ooreenkomste, maar is dit "streng bewys", vra jy. Ja, Jan Rap, evolusie as proses is bewys – nie net deur fossiele en ooreenkomste nie, maar in  die afgelope dertig jaar of so in besonder deur die genetika wat kon vasstel dat alle lewende organismes – ook plante en insekte – dieselfde DNA/RNA boustowwe het – net anders ingespan en gebruik.  Jy kan vir jou een van ’n paar teorieë uitkies oor hoe daardie evolusie plaasgevind het – neo-darwinisme, molekulere ontwikkeling, ingekeepte gelykmatigheid en selfs neo-teïstiese skeppingskonsepte, maar om evolusie te bevraagteken is om vraagtekens te stel oor ’n wye spektrum wetenskaplike dissiplines.

    Jou stelling dat die ontstaan van lewe "egter" nog ’n saak van spekulasie is, versterk verder die indruk dat jy eintlik bevraagteken en nie ondersteun nie. Natuurlik is daar spekulasie want daar is net mooi geen manier om vas te stel presies hoe lewe (abiogenesis, nie evolusie nie) ontstaan het nie. Feit is dat dit wel ontstaan het – seker so binne ’n biljoen jaar na die vorming van die aarde. Daar bestaan weereens verskeie teorie oor hoe dit DALK kon ontstaan het, maar dit is bloot moontlike verklarings, maar in verskeie gevalle nogal baie sterk moontlikhede.

    Om na die "wetenskap" te verwys as feitlik ’n enkele, strukturele, monolitiese geheel is ook  verkeerd. ’n Mens moet eerder praat van die "wetenskappe" – meervoud. 

  • Jan Rap: Ek weet nie wat jy bedoel met "streng bewys" nie. In ’n sin is NIKS in die wetenskap ooit finaal bewys nie. Dit is altyd moontlik dat nuwe getuienis ons opinie kan verander. In sommige gevalle, bv. die vorm van die aarde, is dit seker baie onwaarskynlik – dit is moeilik om mens in te dink hoe ons nuwe getuienis gaan kan kry wat aandui dat die aarde nie (min of meer) sferies is nie.

    Wat evolusie betref: dit is eintlik twee dinge. Evolusie is beide ’n feit en ’n teorie. Die feit van evolusie is dat lewe op aarde ’n gemeenskaplike voorouer het, en dat geenpoele oor tyd verander. Dit is ’n feit omtrent net so hard as dat die aarde rond is, of enige ander van die wetenskap se harde feite. Mense wat anders dink, is mense wat eenvoudig nie bewus is van die aard en hoeveelheid getuienis vir evolusie nie.

    Die teorie van evolusie probeer verklaar hoe en waarom evolusie plaasvind. Daaroor word nog heelwat gedebatteer, veral wanneer dit by die detail kom. Meeste navorsers is dit egter eens dat die grootste dryfkrag vir evolusie mutasie plus natuurlike seleksie is.

    Dit bly my opinie dat die wetenskap nie soseer ’n versameling feite is nie as ’n metode om daardie feite in die hande te kry, maar mens kan dan seker ook dink aan wetenskap as daardie versameling feite wat met behulp van wetenskaplike metodiek bekom is. 

    Mens moet hier byvoeg dat nie-wetenskaplike idees of tydverdrywe nie noodwendig verkeerd of dom is nie. ’n Simfonie van Beethoven is nie wetenskap nie, maar ek dink nie daar is baie mense wat sou argumenteer  Beethoven het bloot sy tyd gesit en mors nie! 

    Ek handhaaf dieselfde opinie oor religie. ek is self nie eintlik religieus nie, maar ek dink ook nie religie is noodwendig verkeerd of dom nie. Ek het self ’n goeie skeut panteïsme weg, en het begrip vir die tipe van ontsag in die aangesig van die grootse, of die soeke na betekenis, wat vele mense hulle tot religie laat wend. Ek het wel ’n probleem daarmee wanneer mense religie wil gebruik om die verskynsels van die fisiese natuur te probeer verklaar. Ons het immers reeds wetenskap om dit mee te doen, en die wetenskap het geblyk veel meer suksesvol te wees in daardie taak.

  • Brian, jou "feit" dat lewe op aarde is nie ’n feit nie, maar eerder ’n opinie. ’n Feit is dat water by kamertemperatuur en atmosferiese druk ’n vloeistof is. ’n Feit is dat die WP die 2012 Curriecup gewen het. So wees versigtig wat jy as feite deurgee. Die meeste evolusie aanhangers het, hulle is tog so lief daarvoor om die afleidings wat hulle maak as feite deur te gee. Persoonlik glo ek dat dieselfde DNA boustowwe soos Thys hierbo noem juis ook kan dui op ’n intelligente ontwerper. Dieselfde met fossiele en dier-groepe wat sekere ooreenkomste het.  Maar ek gee dit nie deur as ’n feit nie.

    Soos baie mense al gese het, as jy by ’n berg kom ’n daar is ’n hoop klippe mooi gepak om ’n woord uit te spel, kan daar of iemand wees wat die klippe so gepak het, of die klippe het van die berg af gerol en so in daardie volgorde gaan le. Altwee is sekerlik moontlik, watookal die waarskynlikheid is. Dit beteken nie omdat jy nie die ontwerper kan sien nie dat jy hom eenvoudig net uit kan laat en dan dit as "feit" deurgee dat die klippe vanself in die posisie gaan le het nie. 

    Wys vir my hoe jy DNA grondstowwe in ’n proefbuis bymekaar gooi en dat dit dan rangskik (selfs deur middel met jou "intelligente" hulp). Wys vir my ook dan hoe hierdie rangskikking voortgaan om proteïne ens op te bou om ’n lewende organisme, al is dit selfs net ’n Amoeba, voort te bring. Wys dan ook vir my hoe hierdie amoeba beging voortplant voor dit sterf om sodoende die voortbestaan te verseker. Dit sal wetenskap wees. Iets wat herhaalbaar en uitvoerbaar is. En nou kan julle seker wel se die wetenskap is nog nie so ver gevorderd om dit te kan uitvoer nie. Moet die mens meer intelligent raak in sy ontwerp? Mmmm...

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top